Dis nie ‘n mooi prentjie wat Paulus in 1 Korintiërs van die kerk teken nie. Ek loop al die hele dag daaraan en dink na ‘n berig oor ‘n Ierse priester wat 30 jaar terug in Noord-Ierland skelm vir die Ierse Republikeinse leër bomme geplant het. Toe sy biskop daarvan uitvind, was sy oplossing om hom te verplaas na ‘n ander dorpie. Dis nie die moord op mense waarvoor ‘n mens moet oplet nie, sê hierdie moraliteit, maar die skande van die kerk wat ‘n mens onder die kombers moet hou. Die kerk van die eeue het steeds weer sy diep, donker kante wat ons maklik miskyk.
Net toe ek die program sit en bekyk, kry ek ‘n epos met ‘n lang vertelling van iemand oor haar lewe in die kerk. Dit is ‘n pos wat deurspek is met verhale oor onderlinge verdeeldheid, onverdraagsaamheid, twis, oor en weer beskuldigings, liefdeloosheid tussen mense wat almal aanspraak maak daarop dat hulle God se goeie kinders is.
En tog, vreemd genoeg, is die brief self ‘n donker brief. In haar klagte oor die kerk, bly iets aan my krap. Dit voel vir my na die balk-probleem: die dinge waaroor ons die hardste kla, is dikwels ons eie grootste probleem. Ons swaai dikwels ons vingers heel heftig oor ander se liefdeloosheid.
En tog, vreemd genoeg, is die brief self ‘n donker brief. In haar klagte oor die kerk, bly iets aan my krap. Dit voel vir my na die balk-probleem: die dinge waaroor ons die hardste kla, is dikwels ons eie grootste probleem. Ons swaai dikwels ons vingers heel heftig oor ander se liefdeloosheid.
Ek bedink al die dinge. Kan dit wees dat ons eie godsdienstigheid dikwels in ons lewens meer destruktief aan die werk is as wat ons besef?
Die brief van Paulus aan die mense in Korinte begin heel belowend en met pragtige woorde: Hulle is uitblinkers, God se goeie kinders. Paulus vertel aan die begin hoe ryk God hulle geseën het, “veral in die gawes van woord en kennis.” Nie ‘n enkele genadegawe ontbreek hulle nie, voeg hy by. Hulle is ook mense wat oorloop met hoop – hulle is toegewyd ingestel op die wederkoms. Hulle verhouding met die Here laat hulle boonop vasstaan.
Blinker kan dit nouliks.
En Paulus bedoel wat hy skryf. Sy hart is in hierdie mooi woorde, soos dit blyk aan die einde van die inleiding. Nadat hy hulle so aanprys, bring hy lof aan God: God voeg hy in vers 9 by, is getrou. Dit is die getroue God wat hulle geroep het om verenig (“in koinonia”) te lewe met Jesus. Die fokus is op die mens se intieme verhouding van eenheid met God.
Maar van vers 10 af verander die toonaard van Paulus se opmerkings. En dan volg die ontnugterende reis deur die res van die brief. Paulus se perspektief en warme waardering skuif nou: terwyl hy hulle spesiale eenheid met God as lofwaardig uitsonder, is sy siening oor hul onderlinge verhoudinge nie baie positief nie. En in die res van die brief word dit die goue tema van bespreking – hul gebroke, onderlinge verhoudinge.
Die Korintiërs se reputasie vir verdeeldheid loop wyd. Hy hoor, skryf Paulus, van hul onenigheid van Chloë se mense (vers 11). Vandaar sy brief: Hulle verval in twis en in partyskappye, terwyl hulle eintlik eensgesind en in dieselfde mening moet wees.
Nog sterker word dit vanaf vers 17 wanneer Paulus die wortel van die kwaad begin uitwys: Hy besin in die gedeelte oor sy boodskap as apostel. As hy aan sy boodskap dink, is dit menslike gesproke nie ‘n indrukwekkende saak nie. As hy hom aan die mening van mense moet steur, moet hy glo dat hy eintlik met stommiteite besig is. Maar hy weet hy verkondig nie ‘n evangelie van menslike wyshede nie. Trouens, hy is te bewus dat sy woord ‘n stuk dwaasheid in die oë van die wyses van die wêreld is.
Vers 20 is ‘n vers wat ‘n mens maar diep in moet wegraak: “Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?”
Dan volg die ryk vers 30: in die evangelie gaan dit om Christus en sy kruis. Dit is ‘n genade boodskap wat alle roem en aansprake uitsluit (vers29). Menslike prestasies, menslike uitblinkery verbleik in die lig van wat God doen.
Hoe ryk is God se dade dan: Wie in Christus is, ontvang wysheid uit God, geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Juis daarom, om hierdie kerngedagtes, om die hart van die evangelie, roem mense in die Here.
Rykdom anderkant enige maat – hierdie wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing. In hoofstuk 2 delf Paulus daarna op ‘n mistieke manier dieper: ons ontvang wysheid van God in Christus wat ‘n “verborge” wysheid is. Self kom ons nie daarby uit nie. Buite ons om lei die Heilige Gees ons in daardie wysheid en verborgenheid in (vers10). Alleen die Gees weet wat in God is, daarom sal die Gees ons in die verborge dinge van God inlei.
Telkens weer kry ons by Paulus hierdie fokus op die verborge, goddelike dinge. Konsekwent ontvang ons ons identiteit in dit wat buitekant ons self lê, in wat God doen. En dit bly ‘n proses wat transformatief is – die Gees heilig ons in hierdie verborge dinge in.
Moenie, moenie, onderstreep Paulus dus, menslike wysheid vertrou nie. Trouens, dit is waar die verdelinge onder mense vandaan kom.
Maar ‘n mens moet dubbel nederig wees. Behalwe dat ons buite onsself, in God tot rus moet kom, moet ons verder onthou dat ons God nie kan peil nie. Laat ons dus afhanklik wees van die Heilige Gees, ons eie wysheid wantrou, verby mense kyk en ons oorgee aan God (hoofstuk 3). Dit pas ‘n gelowige nie om opgeblase teen ander te wees nie (4:6). Waar ons nie meer opkyk na God en afhanklik van die Here leef nie, skryf Paulus, loop dinge skeef. Ons maak ons lewe tot niet deur ons immorele lewensstyl (hoofstuk 5). Ons dagvaar mekaar in howe (hoofstuk 6). Ons maak lig van huwelikstrou (hoofstuk 7). Ons verflou in ons toewyding aan God (7:35). Ons is ongevoelig teenoor hulle wat nie voetvas is nie (hoofstuk 8). ‘n Hele litanie van ‘n lewe in verval word in die brief geskilder.
‘n Mens kan in kononia met God leef. Maar wanneer gelowiges nie verenig is nie, ly die ligaam (hoofstuk 12). ‘n Mens kan selfs die heel besondere gawes van die Gees uitstal, maar dan ‘n hol bestaan voer. Wat saak maak is dus die onderlinge eenheid wat in liefde gegrond is. Op die manier kom Paulus dus uit by die liefdeslied van 1 Korintiërs 13.
Wat ontbreek in hierdie gemeente is nie die ywer vir die Here nie, nie die gawes nie, nie die hoop nie, maar die liefde vir mekaar. En waar dit ontbreek, daar is die mens niks nie. 1 Korintiërs 13 :2-3 ontmasker ‘n godsdiens sonder liefde as ‘n leë bedrywgheid wat niemand baat nie.
Hoekom lyk dit alles vandag nog so bekend?
Dus: Dit is nie ‘n mooi prentjie wat Paulus teken nie. Dit is, besef ek ten slotte, terwyl ek die hele brief bedink, tog boeiend dat Paulus nooit skerp en veroordelend skryf oor die Korinte soos byvoorbeeld aan die Galasiërs nie. Dit is asof hy nie wil veroordeel nie, maar vir die klomp in Korinte eerder wil aanpor, voortdu om die ander, beter pad te loop.
Ek wonder daaroor: is dit omdat hul in hul verhouding met God sterk staan, dat Paulus hulle nou wil help om dieper te dink oor hul verhouding met mekaar? Seker tog. Of gee Paulus ook deur sy terughoudende, maar skerp analises vir hulle ‘n voorbeeld hoe dinge gedoen moet word? As julle met mekaar werk, doen dit – sê hy eintlik – soos ek dit doen (1 Kor.11:1): skerp, maar altyd op die saak af. Ontmaskerend, maar altyd op ‘n opbouende manier. Wys die foute uit – geen partyskappe nie, maar moenie in die proses foute maak nie (ek het niemand gedoop nie....). Laat ons, skryf Paulus, maar heel openlik oor die skandes van die kerk praat. Solank ons dit liefdevol en vir die liefde ontwil doen.
Paulus, besef ek, is nie sentimenteel nie. Sy brief illustreer juis dat die liefde ferm, seker, genesend, reguit en vlymskerp eerklik kan wees. Maar steeds, altyd weer, moet dit die liefde bly en tot die liefde kom.
Paulus, die mistagoog, maan oor die gebrek aan liefde by sy geloofsgenote, maar sonder om vinger te swaai en, uiteindelik, gedryf deur sy eie begeerte na die liefde.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.