'n Mens sien nie dikwels 'n foto van Underhill nie. Hier is een.
Ek bedink vandag spiritualiteit as ‘n “verhouding” – iets wat ek al lankal verder wou doen. Ons praat so maklik oor spiritualiteit as ‘n verhouding (die God-menslike betrekkingsgebeure), maar werk te min uit wat dit konkreet beteken.
My leeswerk gisteraan oor Underhill bring uiteindelik vir my meer stof wat my help om dit helderder te bedink. Ek wou graag meer van haar lees omdat sy ‘n moderne mistikus is (Blommestijn noem haar ‘n voorbeeld van kontemporêre mistiek) en omdat ek nog steeds haar boek oor die geskiedenis van die mistiek as een van my kosbaarste leeservarings onthou.
Sy skryf dat ‘n mens se verhouding met God uit drie ervaringe bestaan. Dit is veral haar eerste punt wat ek bly herkou. Die verhouding tot God kom, skryf sy, tot rypwording in ‘n mens se gebedslewe wanneer jy God “aanbid.” Dus: om in ‘n verhouding met God te wees, is om God te loof en te aanbid.
Ek is dadelik ingetrek in wat sy skryf toe ek dit lees. My eie werk oor aanbidding het vir my ook laat besef dat aanbidding die hart van die geestelike lewenskuns is.
Maar ‘n mens moet uiteraard ook vra wat aanbidding is. Sy help my om dit helderder te begryp toe ek lees sy verstaan aanbidding as die eksklusiewe fokus op God. Dus, prakties, beteken ‘n verhouding met God dat ‘n mens jouself uitsluitlik op God rig. So ‘n verhouding beteken dat ‘n mens totaal op God ingestel is.
Dit klink vir my eers ‘n bietjie swaar, so bietjie heavy. Te veel het spiritualiteit in ons ore ‘n mineur-toon.
Maar, volg ek haar dan in haar verder opmerkings, dit is vir haar nie ‘n inspanning om op God gefokus te wees nie. Aanbidding is wanneer ‘n mens in verwondering vreugde het aan God se skoonheid en heerlikheid. Dit is ‘n vonk in my. Toe ek dit lees, dink ek onmiddellik aan Jonathan Edwards se merkwaardige spritualiteit van vreugde in God (elders hieroor geblog). Ek was destyds verras deur sy intense taal oor God as die Heerlike.
Dit is die tweede keer in my leeswerk oor spiritualiteit dat hierdie gedagte oor God se skoonheid iets baie diep in my aanraak en op ‘n spesiale manier met my resoneer. Om te dink, né, dat ‘n mens God se “skoonheid” bewonder. ‘n Mens span jou dus nie in om op God ingestel te wees nie. God is so vol skoonheid dat dit jou totaal in beslag neem. Dit is die mot en kers dinamiek: die helderheid trek ‘n mens onwillekeurig in die gloed in. God is so skoon, so mooi dat jy huiwer, terugskrik daarvan en geheel en al daardeur ingesluk word (Edwards!).
Iewers is dit spesiaal om in die ongerepte natuur te wees en oorrompel te word deur natuurtonele, sterrehemele, sonsondergange en allerhande spesiale plekke van skoonheid. Lank daarna bly hierdie estetiese oomblikke by jou draal en draal. Tye daarna sal ‘n mens nog hieroor dink en sal dit harde, lelike oomblikke in jou lewe versag en draaglik maak. En keer op keer wil jy weer terug daarna, verlangend na wat jy gevoel het toe jy hierdie groter oomblikke gehad en ervaar het.
Om te dink dat ‘n mens in jou verhouding tot God ook met skoonheid te doen het. Om by God te wees is om by die allermooiste te bly. ‘n Mens staan geboeid voor volmaaktheid, voor volledigheid, wetende dat jy niks ontbreek nie. Alles wat natuurlik mooi en pragtig is, is bleek en verbleik voor hierdie skoonheid van die Gees – soos die mistici van alle tye telkens maar weer getuig.
Terwyl ek dit bedink, kom Psalm 23 onwillekeurig voor my op. Watter estetiese Psalm is dit tog nie. Om met God in ‘n verhouding te wees, is om by groen weivelde te wees, om in rus te gaan woon (kyk ook die slotvers oor God se huis!). Die prosaïese Nuwe Vertaling lees daarna: “U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.” Die digterlike Ou Vertaling het gepraat van God wat my hoof “vet maak met olie; my beker loop oor.” Ek het altyd nog soveel vreugde aan hierdie konkrete beelde van Psalm 23 gehad: gesalfde hoof, oorvloedige seëninge. Wat, voel ek altyd so konkreet, kan mooier as dit wees dat God in my lewe die vettigheid en die oorvloed inbring? Dit is, soos Psalm 23:6 dan herhaal, tog ‘n duidelike teken dat God se goedheid en guns my volg al die dae van my lewe. God se teenwoordigheid lei my in die allermooiste van plekke.
Wat my bring by die eintlike punt: wat is so aantreklik, mooi en so skoon aan God? In die Nuwe Vertaling lui Psalm 23:6: U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly.
Die liefde!
Geen wonder Underhill het so baie oor die liefde geskryf nie. Sy skryf aangrypend mooi: ons geestelike lewe word deur ‘n sentrale punt gestuur. Alles wat ons doen, borrel op uit ‘n sentrum – en hierdie sentrum is ons verankerdheid in God. Ons lewe is tot op die been toe deurweek met ‘n bewussyn dat God ‘n werklikheid is en dat God ons lewe in beslag neem. Ons lewe is oorgegee aan die groot beweging van God se wil.
As ‘n mens dit skryf, praat ‘n mens oor ‘n God wat liefde in die kern van ons bestaan indra en laat woon.
Dit roer my diep, hierdie woorde. Dit is egte mistiek – om so gewortel te wees in God, om te weet dat ‘n mens geplant is in God se goedheid, vriendelikheid, sagtheid, skoonheid. Om te kan weet dat God ons bemin – so bemin dat ons steeds weer in verslae, huiwerende verwondering en aanbidding staan voor soveel liefde.
Ons liefde vir God, ons liefdevolle oorgawe van ons siel aan God om ons na God se wil te vorm, selfs al bring dit pyn, is maar ‘n (weifelende) antwoord op iets groters en diepers – naamlik God se liefde vir ons.
Sommige mense praat van Underhill se mistiek van die liefde (Sue Rackoczy). Ons geestelike reis gaan oor ons totale oorgawe aan die Verborgenheid van die liefde – wat God is. Dit is oorgawe in die liefde. ‘n Verhouding ingebed in die oewerlose en grondelose grootheid van goddelike liefde. En vanuit ons eenheid met hierdie heilige liefde, leef ons na ander, na mekaar in die liefde en om lief te hê.
Om met God in ‘n verhouding te wees is om die skoonheid van goddelike liefde te bewonder en te beleef.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.