Monday, August 02, 2010

Die baie gesigte van God: Bybelstudie van Openbaring (7)

Wanneer ons mekaar raakloop of na ‘n tyd weer sien, gee ons mekaar ‘n handdruk of ‘n lyf-drukkie, of, as dit na familie is, ‘n soengroet. Daarmee druk ons ons toegeneentheid teenoor mekaar uit. ‘n Groet vertel van omgee.

Johannes begin sy boek as te ware ‘n tweede keer met só ‘n tradisionele omgee-groet. In Openbaring 1:1 en 3 het hy vertel dat hy ‘n openbaring en “profesie” skryf wat van God aan Jesus, ‘n engel en van hom as profeet tot die gemeente kom. Daarna het Johannes gehoor hy moet vir die sewe gemeentes skryf.

Nou volg die briewe aan die sewe gemeentes. Dit is dus eintlik God se brief aan gelowige gemeentes. Vasgelê in skrif, sodat hulle dit kan lees en hoor en bedink. God se brief aan die sewe gemeentes begin dus in die gees van toegeneentheid. Elke keer weer sou hulle in hul byeenkomste hierdie brief lees as die manier waarop God groot visioene aan hulle onthul in die gees van vrede en genade.

Die eerste woorde in hierdie brief is ‘n seëngroet, soos dit destyds in briewe die gebruik was. God skryf dus eintlik ‘n gewone brief met ‘n begin-groet van toegeneentheid, ‘n groet wat die ander vrede toewens. Maar daar is ook iets spesiaals aan die brief. Anders as in gewone briewe, stuur God nie net vrede-groete nie, maar ook, en veral, ‘n genade-groet. God begin trouens met die genade.

Méér nog: hierdie seënwens was al aan Paulus se gemeentes uit sy briewe bekend. Dit het die manier geword waarop gelowiges hul verhouding met God uitgedruk het. En mettertyd sou dit die fondament van kerk-wees word: deur die eeue heen, in alle kerke, word samekomste begin met hierdie seëngroet. Kerk-wees is om in God se genade en vrede te bly. Waar gelowiges ook al saam kom, daar is God die Teenwoordige Een.

Genade, onbeskryflik groot, besef ‘n gelowige altyd weer as ons die woord bedink. Teen al ons gebrokenheid en ons gebreklikheid in, word die kloof tussen God en mens oorbrug net omdat God dit so graag wil hê. Ons word nie vir ons verlede verantwoordelik gehou nie, maar, méér nog, ons leef van God se goedheid en ons word weer in die vredes-paradys teruggebring. Só groet God ook deur Johannes vir die sewe kerke.


2. God se vele, ryke gesigte
Maar as die sewe briewe op hierdie noot van vergifnis, aanvaarding en liefde begin, is daar nog meer: Johannes herinner sy lesers ook daaraan hoe lyk die God wat steeds weer met sy kerk van vooraf begin.

God, skryf hy eerstens, is die God van alle tye. Die God wat altyd vir die wêreld en vir mense daar was, die God wat nou nog met die skepping en met mense wil reis en ‘n God op wie mense en die wêreld met die toekoms kan vertrou. Van hierdie drie staan die God van die hede eerste. Die sewe gemeentes weet: God is, God bly by gelowiges. God is die Een wat, weer eens, steeds weer onder hulle teenwoordig is en saam met hulle op reis gaan.

Johannes skryf ook, tweedens, vir die sewe gemeentes groete van “die sewe Geeste voor God se troon” (Open.3:1). Ons herken immers in die profete ‘n verdere gesig van God. God praat met mense, stuur ‘n goddelike woord na gelowiges. Die “sewe geeste” (Open. 4:5; 5:6) is die geeste wat oor die aarde gestuur is. Daarmee word verwys na die profete en die profesie waarvan Johannes en sy boek ook deel was. Maar daarmee word ook die Heilige Gees bedoel wat hierdie profete inspireer. Die God van alle tye is die God wat met mense praat – soms tot groot troos, soos in Openbaring. Die Trooster, die Een wat ons troebel harte stil maak, die een wat ons harte van vlees en bloed laat klop, werk in ons. Maar soms, soos ook in hierdie boek, bring die Gees ‘n woord van vermaning en oordeel. ‘n Profeet vertel vir mense wat in God se hart aangaan en God se hart kan soms swaar word wanneer mense hul eie paadjie loop. Deur hierdie hartswoord word mense geïnspireer of gewaarsku.

Maar dan kom die hoogtepunt in hierdie genade-groet. Nadat Johannes kortliks oor God en die Gees gepraat het, bring hy vir gelowiges veral groete van Christus. Dit is die derde aspek van die seëngroet. God, die Gees, maar veral ook Jesus groet die sewe kerke.

Christus is by uitstek die gesig van God. In Christus, die geloofwaardige getuie, skryf hy, herken ons iemand wat God se woord vir mense kom getuig het. En hoe geloofwaardig het hy dit tog nie gedoen nie. Hy het dan daad by die woord gevoeg deur selfs vir sy getuienis sy lewe neer te lê. Só ken ons Jesus as die Een met integriteit. Hy is God, die Een wat praat en doen, sê en gee, getuig en leef. Tot die dood toe hou Hy die geloofsweg vol. En die profete dra sy getuienis nou verder. Openbaring is immers ook ‘n woord wat deur Jesus tot die kerke kom (Open.1:1-4).  

Johannes is nog nie klaar nie. Hy kom nog by die belangrikste. Jesus wat sy lewe vir sy getuienis gegee het, is opgewek uit die dood. Hy was die eerste een wat die mag van die dood gebreek het. Hy is die gesig van God wat vir ons die groot geheim van werklike mag onthul. As ‘n mens God wil ontmoet, staan ‘n mens voor Jesus, die een wat die laaste vyand, die skynbaar onoorkombare lot van alle mense, oorwin het. Iemand wat die dood oorwin het, is die onoorwinlike. Hy troon bo alle ander mense uit. Hy is die heerser van alle magtiges en konings en regeerders.

So leer ken ons baie gesigte van God: die God van die verlede, die God van die hede, die God wat met ons na die toekoms neem, die God wat met ‘n geesteswoord na ons roep en ons vermaan, die God wat mens word, wat ‘n leweskeppende woord praat, die God wat alles oorwin en die God wat alle magte in die skadu stel. Ryk is Johannes se beelde van God. En nog ryker die verborgenheid dat hierdie God vir ons genade en vrede gee.

Genade en vrede. Gelowiges is bevoorreg. Die sewe kerke het hierdie spesiale woorde van Johannes op die Sondagoggend tydens hulle dienste in hul huise en sinagoges gehoor en met warm harte daarop Amen gesê. Hulle het daardeur opnuut weer besef hoe bevoorreg hulle was dat die God van alle tye en die God van goedheid vir hulle omgegee het, veral in tye wat dit nie so goed met hulle gegaan het nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive