Sunday, August 29, 2010

Ons wil so graag ander mense verander. Oor spiritualiteit en self-implikasie.

Aan die einde van die week kou ek nog aan ‘n opmerking wat ek die afgelope paar dae iewers gehoor het en wat by my bly vassteek het: 

“Jy kan nie ander mense verander nie. Jy kan egter jouself verander.”

Ek bedink die opmerking, gemaak deur iemand wat heel nugter met harde realiteite wil werk,  vanuit verskillende hoeke. 

Dit is iewers 'n waar opmerking dat 'n mens maar altyd in die proses van transformasie eerder by jouself moet begin. Ek dink veral aan ‘n artikel wat ek geskryf het waarin spiritualiteit as self-implikasie vir die eerste keer vir my bewustelik ‘n sentrale gedagte geword het. Ek onthou hoe ek, n.a.v. ‘n boek oor spiritualiteit in die filosofie (Solomons) geboei was hierdeur: 'n mens kan baie oor verandering praat, terwyl jy dit nie beleef of soek nie. Spiritualiteit gaan nie "oor" verandering nie. Dit is jou ervaring van verandering. 

Lank het ek met verskillende definisies van spiritualiteit saamgeleef, maar nooit het ek regtig uit hulle iets pertinent gelees oor die feit dat spritualiteit in die eerste plek vir ‘n mens self by ‘n geestelike reis intrek. Spiritualiteit gaan veral om self-transformasie eerder as transformasie van die ander. 

Ek het iewers al daaroor geblog i.v.m. die gedagte dat geestelikes so graag oor die Bybel praat sodat hulle vir ander mense daaroor kan inlig. En in die proses hulself eintlik buite spel plaas. 

Daar is nogal ‘n merkwaardige behoefte in ons om ander mense te verander. En wat dit nog opvallender maak, is dat ons dink ander mense “verander” net as hulle soos ons begin lyk, dink en doen.

Waarmee al so bietjie gesê of gedink word dat ons (dikwels onbewustelik) so optree asof ons dink dat ons self nie regtig veel hoef te verander nie – dis ander mense wat af van die pad af is en nie so reg soos ons dink of leef nie.

In ‘n seker sin moedig ons godsdiens ons verder aan om ander mense se lewens te bekyk en toe beoordeel – en dan, meestal, om te sorg dat hulle tot bekering kom en dat hulle hul lewens verander. Die kerk fokus op “getuienis”-lewering en “sendingwerk” so sterk dat ons bekering van ander in ons dieptestruktuur ingegrein raak. 

Ek onthou uit my C.S.V. skooldae en my studente-dae met Pinksterbidure hoe die dominante toon van die byeenkomste bekering van kerklosses en kerkloses was.  Die getalle van mense wat tot bekering kom word dan ‘n maatstaf van die krag van jou eie geloof. Van die liedere wat in die verband nou nog dikwels by my as ‘n refrein bly, is “Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet. Nie een siel gewy aan Jesus, niks te offer aan sy voet.”

En ook hier is die impikasie : hoe meer ander mense tot bekering kom, hoe groter jou geloof. Die bekering van ander was iewers iets wat soos ‘n swaard oor jou kop gehang het: jy het jou geloof betwyfel as mense nie deur jou insette tot bekering gekom het nie.

In die proses het die bekering van ons eie hart dikwels op die agtergrond geraak. Ander ja, moet verander en hoe meer hoe beter.

Wanneer ‘n mens hieroor begin praat, staan een ding vir my vas: Mense wat self-vernietigend optree of ander se lewens verwoes, moet inderdaad tot verandering aangespoor word. Om ander tot inkeer op te roep, is nie ‘n fout nie.

Maar dit bly vir my by dat die begrip bekering steeds weer ‘n dubbele betekenis het – dit raak daardie groot ommekeer (van ander), ja, maar dit impliseer oork “voortgaande” bekering van 'n mens self. Daarmee het die wyse kerkvaders ‘n hovaardige self-geregtigheid sekerlik bevraagteken: ‘n mens roep nie net ander op om te verander nie, jy moet self voortdurend die noodsaaklikheid van jou eie verandering en vernuwing begryp en najaag.

Die opmerking wat die week by my vassteek, draai dus die prentjie volledig om. Terwyl ons normaalweg maklik ander wil verander en onsself in die proses oorslaan, word dit nou eerder 'n saak van: ‘n mens kan nie ander mense verander nie. Jy kan jouself egter ten minste verander. 


Die man wat die uitspraak maak, het dit goed bedoel. Ek kan ook insien hoe bevrydend sy insig kan wees: moenie desperaat raak as jy sien hoe ander mense hul lewens tot niet maak nie. Weet ten minste dit hoef nie met jou te gebeur nie. 

Dis bietjie taai, voel ek, hierdie gedagte dat ander mense nie kan verander nie. Ek begryp dit is bietjie hard gestel om ‘n punt te maak. Maar ander mense verander tog en dikwels kan ‘n mens bydrae tot daardie verandering. Miskien sou ‘n mens dit liewers só kon stel: jy kan net verandering by ander mense verwag as jy self verander.

En hierby sou ‘n mens nog iets moet byvoeg wat nogal lei tot nederigheid en dieper inspanning op die geestelike reis: as dit waar is dat ander mense nie sommer verander nie, is dit ook op ‘n mens self van toepassing. Want die skrikwekkende feit is dat self-transformasie nie sommer net gewens kan word of maar net gebeur nie.

‘n Mens verander nie regtig maklik aan jouself nie. Gevestigde gedragspatrone  is van die moeilikste dinge om te verander. 

Paulus se briewe is deurspek met die gedagte dat heiligmaking nie sommer uit die lug val nie. Dit is ‘n gawe van God, maar dit moet gejaag word.

Een van my professore het jare terug van iemand wat aan almal van sy onlangse bekering vertel het, gesê: hy was voor sy bekering ‘n cowboy, nou is hy ‘n bekeerde cowboy, waarmee hy ‘n sardoniese kommentaar op die bekeringservaring gelewer het. "Geloof" kan dikwels 'n blote sousie wees wat die hardheid van 'n onbekeerlike lewe meer wegsteek as in die verlede.

Die kerk se fokus op bekering, dus, betrek eerste van almal onsself in ons alledaagse bestaan. En as ‘n mens jouself bekyk, pas dit ‘n mens om te sê dat verandering so nodig is, omdat ons so onbekeerlik is.

Wat my by die eintlike punt uitbring: Wat is dit wat mense laat verander?

Dikwels word mense wat ‘n groot ommekeer ervaar het, gevra: wanneer het jy dan werklik verander?

‘n Persoonlike trauma, ‘n inspirerende getuienis, ‘n troostende Bybelvers is dinge wat mense sou kon motiveer om te verander.  Mense lewer nogal insiggewende kommentaar hieroor. Ek dink byvoorbeeld terug aan ‘n dagstuk van Henri Nouwen (3 Januarie) waarin hy oor die kwesbaarheid van die lewe praat.

Terwyl ek sy bydrae gelees het, het ek daaraan gedink hoe sy kommentaar ‘n mens se siening op die lewe sterk kan beÏnvloed. Dit val my byvoorbeeld op hoeveel mense verander deurdat hulle iemand aan die dood verloor. As ‘n mens besef hoe kosbaar die lewe is, maar ook hoe kwesbaar dit is, dan begin jy twee keer dink oor wat jy doen. Jesus se gelykenis oor die ryk dwaas wie se lewe in een nag van hom weggeneem is, illustreer iets hiervan. Niks, ook niks kan vasgemaak word nie. Juis daarom moet ‘n mens die lewe voluit lewe. Jy leef ánders as voorheen die oomblik wat jy gekonfronteer word met die fragiliteit van jou bestaan.

Hier is Nouwen se dagstuk:  

Die lewe is kosbaar. Nie omdat dit so sterk en ewig soos 'n diamant is nie, maar omdat dit so verwondbaar is, so kwesbaar en weerloos soos 'n kuikentjie.

Om die lewe lief te hê, beteken om te aanvaar dat dit verganklik is en verwondbaar; dat dit versorg en beskerm en gekoester moet word; dat dit vra om aandag, en leiding, en ondersteuning.

Lewe en dood word deur verwondbaarheid verbind.

Sowel die pasgebore baba en die sterwende ouer mens herinner ons aan die kosbaarheid van die lewe.

Laat ons die kosbaarheid en die kwesbaarheid van die lewe nie vergeet in die tye wanneer ons sterk, suksesvol en gewild is nie.

Dit is maklik om te sê ‘n mens moet jouself verander. Dit word ‘n avontuur om terug te sit en te mymer oor wat ‘n mens bring om te verander. Die begrip transformasie is sentraal aan spiritualiteit. Die inhoud van transformasie moet egter mooi bekyk word. 


Ten slotte: hoe 'n mens ook al besef en soek om veral self dieper in 'n verhouding met God in te groei, hoe meer begryp 'n mens dat dit gebeur veral wanneer 'n mens by God is. Self-transformasie kom op by die mens wat in verwondering voor God staan en voel hoe die aanraking van God hom of haar tot in sy wese raakvat.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive