In die Nederlandse koerant, “Trouw”, is daar vandag en gister interessante berigte oor die Nederlandse Versetbeweging in die Tweede Wêreldoorlog. Vele Nederlanders, wat hulle hartgrondiglik skaam omdat vele van hulle landgenote in die oorlog die Nazi-inval en wegvoering van die Jode uit Nederland na konsentrasie-kampe ondersteun/geduld het, vind troos uit die feit dat daar ‘n sterk, ondergrondse versetbeweging teen hierdie misdrywe was.
Die berigte in vandag se Trouw is bietjie ontnugterend. Hulle fokus daarop dat ‘n mens nie te maklik moet romantiseer oor sulke verset-bewegings nie – asof mense wat hulle verset het teen die gruweldade en die moorde op die Jode almal helde was nie. In werklikheid blyk dit dat die egte, groot helde so skaars soos koei-slagters in Indië is.
Die berigte in Trouwe vertel van ‘n paar boeke wat onlangs gepubliseer is waarin bewyse gegee word dat vele van die sogenaamde heldhaftige versetstryders ook maar voete van klei gehad het. Hulle was korrup, het omkoopgeld aanvaar, het mede-stryders verraai en hulle was nie altyd so dapper nie.
Dit is duidelik, toon die berigte, dat ‘n mens nie te vinnig moet onderskei tussen die goeies en die slegtes nie. Die goeies kan ook maar dikwels ‘n lelike streep in hulle omdra. Die idee dat mense netjies in twee kampe – die goeie of die slegte – inpas, is kennelik naïef.
Miskien sien ek die berig raak omdat dit iets is wat my in die laaste tyd besonder interesseer. Ek het dikwels hieroor nagedink, want ‘n mens wat geneig is om ander te idealiseer kry dubbel seer as hulle teleurgestel word. En ‘n mens onderskat die houvas wat die kwaad kan uitoefen op hulle wat in die lig skyn te lewe.
Die Nederlanders wat op die koerantberig kommentaar lewer, beklemtoon dit ook: ‘n mens moenie vir mense te maklik en te veel tot “helde” verhef nie.
As ‘n mens oop oë deur die lewe gaan, sien jy hoe die beste en mooiste van mense hulle Koning Dawid-oomblikke, hulle Petrus-oomblik, hulle Thomas-twyfel het. Trouens, ‘n mens sou selfs kon dink aan die oomblik van versoeking in die Tuin van die Een wat naby aan God was.
Die al te menslike, al te feilbare tye kom nogal meer voor as wat ‘n mens normaalweg dink.
‘n Boesemvriend wat jou in die steek laat, ‘n ouer wat jou skok, ‘n kind wat jou hart breek, ‘n kollega wat jou in die rug steek. Oral en altyd sal jy hiermee moet rekening hou en dan daarmee moet saamleef. En dan ook nie as die uitsonderlike oomblik nie. Van die grootste wêreld-literatuur worstel met hierdie innerlike swakheid van selfs die sterkstes onder die helde.
Wanneer ‘n mens op hierdie manier “realisties” begin dink oor die wyse waarop goed en kwaad in een mens by herhaling vermengd voorkom, kan jy sulke seerkry-tye met meer volwassenheid hanteer. Jy weet – so is dit ook met jou. En vanuit hierdie wete kom die begrip. Oeroue wysheid het gemaan dat hulle wat sonder verwyte kan leef, dan maar die eerste klip moet gooi. Die balk in die eie oog, herinner so bietjie hieraan. Aldus ook die gees wat gewillig is, maar die vlees…
Hieruit leer ‘n mens verstaan waarom ‘n mens nie te haastig moet wees om te oordeel nie. En ‘n mens sou ook kon leer hoe nodig dit is om naby te gaan aan hulle wat geval het.
‘n Mens sou nou maklik dit as die “realiteit” kon sanksioneer. So is mense maar en so moet ‘n mens daarmee saamleef.
Daar is tog ‘n ander, beter weg.
Op die diepste vlak bring hierdie vermengdheid van goed en kwaad in die menslike bestaan ‘n mens terug na die oer-ervaring: om te bly in die teenwoordigheid in die Enige Algoeie God. Heel naby bly ‘n mens by die Barmhartige Een woon. Want in die lig van die goddelike goedheid, die Ideaal van die volkomene, kan ‘n mens die kwaad eerder begin aanvat.
Dit is so – hierdie teenwoordigheid van die kwaad in die menslike bestaan. Maar, weet ‘n mens ook, dit hoef nie onvermydelik te wees nie.
Steeds weer leer ‘n mens heel langsamerhand meer en meer begryp van die Skoonheid van heiligheid en ontdek ‘n mens hoedat dit tog, sterker as die kwaad, ‘n houvas op jou hart kry.
Dit is ‘n duur, duursame proses om meer te verstaan waarom die geloofsreis die afskud van die kwaad beteken en nie die dulding daarvan nie. Dit is ‘n worstelstryd. Die hart van geloof vertel van die vreugde wat te vind is wanneer God se wil – eerder as die kwaad – uiteindelik wortel skiet en begin uitbot in die Tuin van die lewe.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.