Friday, December 23, 2011

Kersgebed: Die God wat nuut maak...

Kerstyd, Here, bedink ek opnuut weer die seisoen van vrede, die oer-oue boodskap van die nuwe paradys. 

Hoe goed is in die tyd van die Kind se geboorte hierdie boodskap van U welwillendheid, U omgee, U uitreik. Dit is die tyd dat hemel en aarde naby aan mekaar kom, dat die lam en die leeu langs mekaar wei, dat die engele die vredesboodskap aan U aarde uitsing.

Dit is ook, genadige God, die tyd van rus en uitspan. In die koms van die Kind, in die stilte na die opwinding van Sy gebore-word, kom daar die oneindige rustigheid.

Dit is ‘n tyd van stil word by die wete van ons saam-wees, naby wees. Dit is die tyd van vrede. Van U vrede met ons, van U nabyheid aan ons, maar ook van die bande wat ons aanmekaar bind en ons naby aan mekaar hou.

En daarmee saam is my gedagtes vol herinnering oor hoe die jare sy loop neem, van die vele kerseisoene wat U ons gegun het: altyd weer is daar die terugdink aan die goeie tye in die seisoen van vrede saam met die naby-mense, die wat ek liefgehad het, hulle wat naby aan my leef.

Dit is ‘n tyd van dankbaarheid vir wat ‘n mens ontvang het van hulle wat al lank nie meer by ons is nie. Goeie gedagtes wat by ‘n mens opkom oor hul lewens, hul omgee en hul liefde.

Dit is ‘n tyd van hartseer, skerp pyn van die gemis, die verlange om net weer ‘n keer met hulle te kon saam-wees. Maar altyd weer, ook in die seer verlange, is daar die rustige wete van U nabyheid.

Dankie, Here, vir die tyd van vrede, vir die tyd van rus, vir die tyd van onthou en vir die tyd van verlange na die weer ontmoet, van die hoop.

Maar kerstyd, Here, is bo alles U tyd. Want in ‘n mens se gedagtes kom telkens die beelde op van die Kind van vrede. Dikwels hoor ons die boodskap van U koms, van U uitreik, van U mens-word.

Deur al die eeue was U by ons, U mense. Geslag na geslag het U getrou na ons gekom, U liefde aan ons getoon, vir ons gekroon met U ontferming.

In tye van nood het U ons bygestaan. Soms het U ons gered van die kwaad, soms het U ons gesterk teen die kwaad, soms was U by ons te midde van die storms van kwaad wat om ons gewoed het. Maar altyd deur het ons geweet: dit is goed om by God te wees.

En toe, Here, in die volheid van die tyd, in die mooiste oomblik van alle tye, het U vir ons die volmaakte gegee: Uself. As die kind van Bethlehem het U onder ons kom woon – nader as ooit tevore, liefdevoller soos ons nog nooit ervaar het nie.

Hoe nuut is hierdie liefde nie – hoe uniek, onverwags, ‘n stuk genade soos wat ons nooit te wagte kon wees nie. Hoe anders het ons U leer ken, hoe naby aan ons het U gekom.

Maar watter verrassing was U kersliefde: eenvoudig, herkenbaar, menslik, maar net ‘n baba in ‘n krib. Hoe anders as ooit tevore kon ons nou U nabyheid vier! Nooit het ons gedink God sou op die manier, op hierdie verrassend nuwe wyse onder ons kom bly nie. Terwyl U tempel in U stad, in Jerusalem trots getroon het as die plek van U woord en U woning, het U stilweg, verborge, ongesiens vir die groot wêreld vir U tuisgemaak in die agterkamer, tussen die pakdiere, van ‘n huisie in ‘n onbekende straat van ‘n vaal dorpie.

Hoe anders tog ook, hoe nuut, hoe ongewoon, hoe skokkend uniek… Want in die eenvoudige was U, die Oneindige.

Dit was U – God, verborge, maar so liefderik dat engele uitgesing het van die skoonheid daarvan: die gedagte dat U,  God, mens geword het, onder ons kom woon het, een met ons geword het, volledig solidêr met ons was. Dit was U! God Self!

Van toe af, ewige God, roep U ons weg van ons geweld, van ons liefdeloosheid, van ons selfsug en ons self-gerigtheid. U knoop ons aandag vas aan die baba, die hulpelose kindjie wat vra dat die wêreld die Liefde vier, die Vrede soek, die Rus binnegaan.

God, gee ons opnuut weer in hierdie kerstyd die groot verrassing: wys vir ons hoe U ook in ons tyd nuut kan werk, hoe U mense anders wil maak, hoe U hoop bring, gewonde harte kan vertroos, ‘n versweerde gemoed kan balsem, smart kan verlig en haat in liefde kan ombuig.

Maak ons weer nuut, o Ewige God, lewende God, God wat groter is as ons diepste gedagtes, maar wat woon in die binneste kamers van ons harte. Laat U lig die lig van kerstyd, die donker in en om ons vir altyd verdryf.  

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive