Die mag van die kerk oor die lewens van mense neem soms onvoorstelbare omvang aan.
Tydens my onlangse reis gesels ek met iemand oor die bieg – wat my hiervan meer as tevore bewus maak.
Wanneer ‘n mens na die bieg gaan, is die vereiste absolute eerlikheid en, gepaard daarmee, absolute openheid.
Die priester kan vir jou die mees intieme vrae vra wat ‘n mens reguit moet antwoord.
Op die manier, verduidelik my gespreksgenoot, moes sy landgenote ‘n dertig jaar gelede aan die priester vertel vir wie hulle gestem het. As hulle gestem het vir ‘n politieke party wat vir die kerk op daardie stadium onaanvaarbaar was en teen wie die kerk hom uitgespreek het, het die priester geweier om vir daardie persoon “absolusie” van hul sondes te gee. Dit het geweldige konsekwensies vir die persoon en sy familie gehad. Dan was hulle afgesny van kerklike voorregte.
In die tyd, in ‘n streng katolieke land, is mense wat dus vir sekere partye gestem het, deur hierdie magsposisie van die kerk in sosiale verwerping ingedompel. Die bieg was dus die kerk se manier om die sosiale strukture te beheer en om verreikende politieke en sosiale mag uit te oefen. Iemand wat uit pas was met die kerklike voorkeure en instruksies was summier die voorwerp van ernstige ostrasering.
In sy land, vertel die gespreksgenoot my, het dit tot dekade-lange verbittering gelei. Kinders en kleinkinders onthou nog die geestelike lyding wat hul familie met skande ervaar het oor hul politieke keuses. Omdat feitlik die hele bevolking katoliek is, was die verwerping besonder sleg.
Dit tref my vol in die gesig toe ek begin nadink oor wat dit moes beteken het dat ‘n mens so deur die kerk gebind kon word. In Protestantse kringe is die gebruik en die impak van die bieg nie so bekend nie en kan ‘n mens jou noulik in so ‘n situasie indink. Dit is dus ‘n ervaring om daaraan blootgestel te word en om te verneem hoe mense gely het onder die houvas van die kerk op die samelewing.
Die ironie is dat die politieke party wat die kerk in my gespreksgenoot se land veroordeel en verwerp het, later die regerende party sou word. En hierdie party onderhou heel goeie verhoudinge met die kerk, ten spyte van ‘n meningsverskil by ‘n geleentheid of wat. Al daardie lyding en skande was dus, vanuit latere tye gesien, eintlik onnodig.
Maar die punt is vir my nie soseer dat die kerk se oordeel op ‘n ironiese manier heel radikaal kan wissel nie. Dit gebeur in alle kerke dat besluite van gister die skande van môre kan word.
Vir my is die punt hier iets anders: daar is nie maklik iets meer gevaarliks as mag nie. Dit is wel so dat ‘n mens mag kan gebruik om goed te doen. Die geskiedenis het byvoorbeeld gewys hoedat die kerk die werk van moeder Teresa eers moes goedkeur voordat sy in Kalkutta vir die armes en siekes begin versorg het. Die kerk het ook iewers vir haar die ruimte geskep waarbinne sy haar werk kon vorm en uitvoer (al het dit, soos haar briewe toon, nie altyd so maklik gebeur nie).
Soms, soos in hierdie geval, kan mag inderdaad ‘n geestelike karakter hê. Maar dikwels – te dikwels – is die kerk se houvas op mense minder gelukkig.
Dit bly boeiend dat die verhaal van die evangelie gaan oor magsprysgawe. Jesus het dit geen prestasie geag om aan God gelyk te wees nie, sê die beroemde Christus-himne in Filippense 2. Maar Hy het dit prysgegee om aan mense gelyk te word en soos ‘n slaaf te kom dien. En ‘n beroemde woord van Jesus is om alles prys te gee, sodat ‘n mens alles kan wen.
Die mag van geestelikes oor lidmate en gemeentes is onvoorstelbaar groot. Die magsoptrede van die kerk kan onvoorstelbare vorme aanneem en mense se lewens radikaal bepaal. Wanneer ‘n mens hieroor begin nadink, is die blote feit hiervan genoeg om ‘n mens te laat terugskrik. Daarom is die groot vraag op watter geestelike manier die kerk sy mag uitoefen. Die evangelie is hieroor nogal duidelik: die geestelike mag van die kerk is nie in heers en regeer te vind nie. Egte geestelike mag het veral ‘n dienende karakter. Jesus is die voetewasser.
Dit is seker die groot uitdaging vir die kerk van ons tyd: in die gewone samelewing wil mense nie meer gebind wees aan mag as dwingelandy nie. Wat deesdae in ons kultuur vir mense nader aan God bring, is die mag om te dien. Dit is nie verniet dat in ‘n onlangse televisie-program die meeste mense wat ondervra is oor wie die grootste vroue-figuur in onlangse tye was, moeder Teresa se naam genoem het nie. Intuïtief is die evangelie se magsprysgawe al in die kultuur van ons tyd teenwoordig en verbind mense dit met grootheid.
Hieroor moet ‘n mens nie romantiseer nie. Dit is nie maklik om mag prys te gee nie. Vir die kerk is dit allermins maklik – want magsprysgawe gaan teen die grein van die kerkgeskiedenis met sy talle magsvergrype in. En elke predikant weet maar te goed hoe swaar dit is om die mag op te gee en die minste te wees. Om mag op te gee, vra ‘n bewustelike keuse. Dit is iets waartoe ‘n mens jouself moet dryf. Magsprysgawe is ‘n bitter beker.
Maar die vrug daarvan is geurig en soet. Dit is ‘n keuse wat ‘n mens toegang geen tot die vrug van die Gees en die blydskap van die geestelike lewe.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.