Vanmiddag van 15h30 tot 17h15 woon ek die byeenkoms van die SCS by. Dit is ‘n bespreking oor die aard van Spiritualiteit as ‘n dissipline.
Dit gaan oor die volgende vrae:
Kan ‘n mens spiritualiteit in dieselfde lig as teologie bekyk?
Waar pas ‘n mens se eie ervaringe, behoeftes en vrae in?
Hoe beoordeel ‘n mens die persoonlike ervaringe van iemand wat ‘n kursus in Spiritualiteit volg?
Onder die sprekers is ‘n prominente figuur uit die besigheidswêreld wat kom praat oor sy werk met Spiritualiteit. Hy het al meer as 800 senior bestuurders opgelei oor sulke sake soos besluitneming deur uitvoerende bestuurders, organisatoriese ontwerp en bestuursinnovasie in vinnig groeiende omstandighede. Baie van die senior bestuurders kom uit die bekendste firma’s in Sillicone Valley.
Hulle wil almal by hom ‘n kursus oor spiritualiteit en leierskap doen.
Op sy vraag aan hulle aan die begin van die kursus waarom hulle die kursus wil doen, antwoord die senior bestuurders dat hulle kennis soek, maar ook dat hulle ontnugter is met die donker kante van die besigheidswêreld. Ook voel hulle hoedat hulle besighede afgesny is van hul wortels in die gemeenskap.
Deur die kursus word mense bemoedig om weer sin in hul werk te ontdek, om konstruktiewe waardes na te jaag, om beter te presteer en om innerlike vervulling in hul werk te kry.
Hulle kan uitdagings beter hanteer, kry minder burnout en verbeter hul verhouding met hul personeel.
Hy vul sy kursus onder andere met material oor bekende leiers soos Ghandi, Eisenhower, Roosevelt en Oppenheimder, maar hy neem ook materiaal oor van bekende besigheidsfigure. Uit hulle geskiedenis leer hy byvoobeeld sy studente dat ‘n goeie leier rekening hou met terugslae en mislukkings, maar ook met ‘n kantoorlewe wat vol onverwagte draaie is. ‘n Leier koester dus by uitnemendheid die waardes van nederigheid en liefde. Dit is waardes wat 'n leier help om ook die moeilike tye en die groot teleurstellinge te kan hanteer.
Ek luister met verwondering na die aanhaling van Simeon, die Siriese kerkvader wat hy ophaal:
Ons belangrikste werk is nie ons daaglikse taak nie. Ons belangrikste werk is ons hart en hoe ons denke deel word van ons hart wanneer ons alles wat ons doen vir, in en tot God doen.
Dit is duidelik, besef ek terwyl hy die inhoude meedeel, dat die tyd ryp is om ook weer diep na te dink oor ‘n Spiritualiteit van werk. Ek onthou, terwyl ek na hom luister, opnuut weer hoe belangrik Blommestijn se werk hieroor is wat ek ‘n paar blogs gelede bespreek het. Die tyd is werklik reg hiervoor.
Dit is maar net enkele gedagtes uit die ryk toespraak van hierdie bekende deskundige. Dit is indrukwekkend om te sien watter insigte hy met van die wêreld se bekendste sakeleiers deel.
En tog – ek bly knaag aan iets wat hy gesê het en wat vir my die hart van die saak aanraak. Die man is ‘n kundige en dink baie diep na oor sy belangrike taak. Iewers in al die belangrike ding wat in die kursus opgeneem is, val die klem ook op die uitdaging aan die senior bestuurder om God te midde van sy hardloop-program op te soek. Juis, besef ek, daarom is die werklik spiritualiteit en nie sommer ‘n lagie vernis van vroomheid wat met die dagtaak saamgeflans word nie. Daarom is duidelik: die bestuurder moet leer om vaste tye van die dag ruimte te maak om die teenwoordigheid van God te ervaar.
Omgang met God, om te wees in die teenwoordigheid – dit is die sin van enige werk.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.