Showing posts with label Gemeenskapspiritualiteit. Spiritualiteit van werk.. Show all posts
Showing posts with label Gemeenskapspiritualiteit. Spiritualiteit van werk.. Show all posts

Saturday, November 19, 2011

Spiritualiteit in die werksplek. Oor 'n nuwe tendens in die grootste sake-kompleks op aarde.

Vanmiddag van 15h30 tot 17h15 woon ek die byeenkoms van die SCS by. Dit is ‘n bespreking oor die aard van Spiritualiteit as ‘n dissipline.

Dit gaan oor die volgende vrae:

Kan ‘n mens spiritualiteit in dieselfde lig as teologie bekyk?  
Waar pas ‘n mens se eie ervaringe, behoeftes en vrae in?
Hoe beoordeel ‘n mens die persoonlike ervaringe van iemand wat ‘n kursus in Spiritualiteit volg?

Onder die sprekers is ‘n prominente figuur uit die besigheidswêreld wat kom praat oor sy werk met Spiritualiteit. Hy het al meer as 800 senior bestuurders opgelei oor sulke sake soos besluitneming deur uitvoerende bestuurders, organisatoriese ontwerp en bestuursinnovasie in vinnig groeiende omstandighede. Baie van die senior bestuurders kom uit die bekendste  firma’s in Sillicone  Valley. 

Hulle wil almal by hom ‘n kursus oor spiritualiteit en leierskap doen.

Op sy vraag aan hulle aan die begin van die kursus waarom hulle die kursus wil doen, antwoord die senior bestuurders dat hulle kennis soek, maar ook dat hulle ontnugter is met die donker kante van die besigheidswêreld.  Ook voel hulle hoedat hulle besighede  afgesny is van hul wortels in die gemeenskap.

Deur die kursus word mense bemoedig om weer sin in hul werk te ontdek, om konstruktiewe waardes na te jaag, om beter te presteer en om innerlike vervulling in hul werk te kry.
Hulle kan uitdagings beter hanteer, kry minder burnout en verbeter hul verhouding met hul personeel.

Hy vul sy kursus onder andere met material oor bekende leiers soos Ghandi, Eisenhower, Roosevelt en Oppenheimder, maar hy neem ook materiaal oor van bekende besigheidsfigure. Uit hulle geskiedenis leer hy byvoobeeld sy studente dat ‘n goeie leier rekening hou met terugslae en mislukkings, maar ook met ‘n kantoorlewe wat vol onverwagte draaie is. ‘n Leier koester dus by uitnemendheid die waardes van nederigheid en liefde. Dit is waardes wat 'n leier help om ook die moeilike tye en die groot teleurstellinge te kan hanteer.

Ek luister met verwondering na die aanhaling van Simeon, die Siriese kerkvader wat hy ophaal:

Ons belangrikste werk is nie ons daaglikse taak nie. Ons belangrikste werk is ons hart en hoe ons denke deel word van ons hart wanneer ons alles wat ons doen vir, in en tot God doen.

Dit is duidelik, besef ek terwyl hy die inhoude meedeel, dat die tyd ryp is om ook weer diep na te dink oor ‘n Spiritualiteit van werk. Ek onthou, terwyl ek na hom luister, opnuut weer hoe belangrik Blommestijn se werk hieroor is wat ek ‘n paar blogs gelede bespreek het. Die tyd is werklik reg hiervoor.

Dit is maar net enkele gedagtes uit die ryk toespraak van hierdie bekende deskundige.  Dit is indrukwekkend om te sien watter insigte hy met van die wêreld se bekendste sakeleiers deel.

En tog – ek bly knaag aan iets wat hy gesê het en wat vir my die hart van die saak aanraak. Die man is ‘n kundige en dink baie diep na oor sy belangrike taak. Iewers in al die belangrike ding wat in die kursus opgeneem is, val die klem ook op die uitdaging aan die senior bestuurder om God te midde van sy hardloop-program op te soek. Juis, besef ek, daarom is die werklik spiritualiteit en nie sommer ‘n lagie vernis van vroomheid wat met die dagtaak saamgeflans word nie. Daarom is duidelik: die bestuurder moet leer om vaste tye van die dag ruimte te maak om die teenwoordigheid van God te ervaar. 

Omgang met God, om te wees in die teenwoordigheid – dit is die sin van enige werk.

Sunday, October 09, 2011

Wanneer 'n mens se werksvreugde ander se vreugde word. Oor Spiritualiteit van werk (6).


In die vorige blog het ek nagedink hoe ‘n mens regtig in jou werk gelukkig kan wees. Dit is wanneer ‘n mens in jou werk regkry om te word wat God van ‘n mens dink en verwag, wanneer jou beroep wat vir jou ook ‘n roeping en ‘n lewensvervulling is. Ons het gesien hoedat ‘n mens oor jou werk moet dink vanuit jou transendente self: hoe ‘n mens in jou werk word wat jy weet jy graag wil wees en wat jou hartewens vir jou lewe is. As dit gebeur, kan ‘n mens ware geluk in jou werk vind. Dit, weer, kan jou daardie vreugde gee wat jou bo jouself laat uitstyg en vir jou vleuels gee.

‘n Mens moet egter onthou dat jou werk nie net om jouself gaan nie, hoe belangrik dit ook al is. ‘n Mens beïnvloed deur jou werk ook die lewens van ander mense en die omgewing waarin jy leef.

Daarom is dit belangrik dat ‘n mens gedurig jou eie werksvervulling met ander deel. Dit beteken onder andere dat ‘n mens ingestel moet wees daarop om ook ander mense te ondersteun om vreugde en vervulling in hul lewens te vind. Of ‘n mens moet daarop ingestel wees om dit waarmee jy werk op die beste manier te doen. Ander mense moet van jou in jou werk net die beste kwaliteit produk ontvang. As ‘n mens ‘n onderwyser is, moet leerders van jou ‘n opleiding kry wat hulle lewens sal verryk. As ‘n mens meubels verkoop, moet dit die beste kwaliteit produkte wees. As ‘n mens ‘n regspersoon is, moet ‘n mens vir jou kliënte help dat reg en geregtigheid ten alle koste geskied. As ‘n mens ‘n pastor is, is die uitdaging om so ‘n geestelike leier te wees dat dit in ooreenstemming sal wees met wat God van ‘n mens verwag.

Wat ons in ons werk is, raak ander mense daarom ten nouste. Daarom is ‘n spritualiteit van werk gedurig daarop ingestel om ‘n Spiritualiteit van werk te ontwikkel wat interpersoonlik van aard is, skryf Mertens en Blommestijn. As ‘n mens ‘n gelukkige werker is, sal dit vreugde in ander mense se lewens indra.

Dit raak ‘n nog dieper dimensie: ons werksvreugde is nie self-sugtig nie. Wanneer ‘n mens gelukkig is in jou werk en beroep, wanneer jou werk pas by jou diepste mens-wees, sal dit nie gerig wees op jouself nie, maar op ander.

Trouens, hoe meer ‘n mens se werk tot voordeel van ander is, hoe meer sal ‘n mens innerlik groei en tevrede wees in jou werk.

Saturday, October 08, 2011

Werk en ware geluk. Oor Spiritualiteit van werk (5).


In die vorige blog is nagedink oor hoe ‘n mens se identiteit deur jou werk bepaal word. Daardeur word duidelik hoe belangrik werk is. Dit dra by tot jou mens-wees.

Wat ander van jou as werker dink, wat jou ideale vir jou werk is en hoe jou huidige werksituasie is, is drie sake wat jou identiteit as ‘n werker vorm en wat bepaal hoe gelukkig en vervulled jy in jou werk-situasie is.

Maar daar is ‘n vierde aspek van ‘n mens se identiteit wat aandag vra. ‘n Mens het ‘n sosiale self (wat ander van jou dink), ‘n ideale self (wat jy oor jou toekoms droom) en jou werklike self (wat jy oor jouself in die hede ervaar). Dan het ‘n mens nog ‘n vierde kant – ‘n transendente self, skryf Mertens en Blommestijn.

‘n Godsdienstige mens sou hierdie “self” eenvoudig kon beskryf as dit wat God van ‘n mens dink. Dit is jou “transendente” kant.

Dit is ‘n perspektief op die self wat ‘n mens in spiritualiteit besef en ontwikkel.

Dit is ‘n besondere perspektief wat ons heeltemal te min bedink. Ek kan my voorstel dat ‘n mens hieroor belangrike preke kan maak. Dit is ook ‘n besondere tema vir gesprekke met jongmense, of mense wat in ‘n werkskrisis verkeer. Dit is ‘n perspektief wat veral deur die mistagoog ontwikkel moet word.

Daar is immer so min mense wat, sou ‘n mens selfs kan sê, op hul werk verlief is. En vir baie ure van die dag en die week, moet hulle kosbare lewenstyd verloor om te doen wat hulle nie eintlik naby aan die hart lê nie.

Kosbare lewenstyd gaan verlore en word gemors op ‘n minderwaardige lewensstyl.

Juis daarom is hierdie perspektief so belangrik: ‘n Mens moet op ‘n gelowige manier gedurig nadink oor wie ‘n mens in die oë van God is – veral ook ten opsigte van ‘n mens se daaglikse beroep en werk.

Wanneer ‘n mens hieroor nadink, staan dit nie los van die drie sake waaroor in die vorige blog geskryf is nie. ‘n Gelowige mens sal daarom gedurig nadink oor sy sosiale, ideale en werklike self. Hy of sy sal biddend bedink hoe ander mense oor sy of haar werksituasie reageer, wat ‘n mens se drome vir jou werk is en wat werklik aan die gang is.

Wanneer ‘n mens hieroor nadink, wil ‘n mens uitvind wat die waarheid oor jouself is. Die transendente self is hierop ingestel: wat is dit wat werklik ten diepste saak maak? Hoe raak my werk die diepste kante van my bestaan? Hoe kry ek ‘n beroep wat vir my ook ‘n roeping en ‘n lewensvervulling is?
Die vrae en die transendente self kan ‘n mens byvoorbeeld help om oor die volgende sake duidelikheid te kry:

1.  Doen ‘n mens ‘n werk om ander tevrede te stel? Is ‘n mens aan ‘n werk vasgeketting omdat ander mense sekere dinge van jou verwag? Of wil ‘n mens deur jou werk vir ander iets oor jouself bewys? Werk ‘n mens met ‘n gevoel van minderwaardigheid? Is ‘n mens se werk ‘n manier om te “bewys” dat ‘n mens nie is wat ander mense van jou dink nie?  Werk ‘n mens om ander mense tevrede te stel?  Laat ons toe dat ander mense aan ons ‘n identiteit toeken? Werk ons om mense se idee’s en konstruksies van wie ons in hulle oë behoort te wees te bevestig? Word ons in ons werksituasie deur ander se verwagtinge gestuur?

Of, gesien vanuit die transendente self:

Werk ‘n mens sodat ‘n mens kan word wat jy werklik en ten diepste is? Soek ‘n mens in jou werk om die bestemming van jou lewe te vind? Is jou werk vir jou ‘n roeping waarin ‘n mens God se wil vir jou lewe die beste kan uitwerk? Is ons gedurig in ons werk op soek na wat ons hartsbegeerte vir onsself is en wat vir ons die meeste sin aan ons lewe sal gee? Werk ‘n mens omdat dit jou eg gelukkig maak?

Dit is dan ook die diepste punt van ‘n spiritualiteit van werk: dat ‘n mens bewus word van die plek van jou “transendente” self in jou werk. Dit is die self wat belangriker is as alle uiterlike dinge. ‘n Mens wat sy “verborge”, dieper, transendente self ken, is iemand wat weet geld, salaris, byvoordele, range, posisies is nie belangrik nie. Dit is iemand wat weet die materiële dinge, al die liggaamlike aspekte, bring nie daardie innerlike vervulling nie wanneer ‘n mens, soos Mertens en Blommestijn dit beskryf, “ontrou raak aan jou ware self.”

Sommige mense sal dink dit is nie regtig so belangrik nie. ‘n Mens kan met ‘n gewone werk aan die gang bly, jou salaris bank, jou gerief geniet, al is jy nou nie juis vervul nie.

Ander sal weet dat ‘n mens in jou werk werklik gelukkig kan wees. Werk kan ‘n mens egte plesier gee. Soos Mertens en Blommestijn skryf:  Werk kan ‘n mens daardie vreugde gee wat ons bo onsself laat uitstyg en vir ons vleuels gee.

Daar is egter nog een kant van die saak in ‘n Spiritualiteit van werk wat om aandag vra. Hieroor nog ‘n bespreking.

Friday, October 07, 2011

Wanneer werk mens-wees bepaal. Oor Spiritualiteit van werk (4)

In die vorige blog het ek verder aan die hand van Mertens en Blommestijn oor die sielkundige en geestelike aspekte van werk nagedink. Werk moet vir ‘n mens innerlik bevredigend wees. ‘n Werk kan vervullend wees, dit kan die beste in ‘n mens uitbring en jou bestaan betekenisvol maak.

‘n Mens kan dit vanuit ‘n godsdienstige hoek so sien: ‘n mens moet in jou werk die vervulling van God se bedoeling met jou lewe kan nastreef.  Dan is ‘n mens se werk vir jou ‘n roeping en ervaar jy dit as jou bestemming.

Dit alles beteken dat ‘n mens deur jou werk ook ‘n bydrae lewer tot wie jy as mens is. Op die manier lewer iemand se werk ‘n belangrike bydrae tot identiteitsvorming. Wat ‘n mens as werk doen dra by tot ‘n mens se identiteit.

Dit is op die punt ‘n goeie oomblik om na te dink oor hoe ‘n mens se identiteit gevorm word. Wie ‘n mens is hang af van ‘n proses wat tussen drie punte plaasvind. Iemand se identiteit word naamlik gevorm deur wat ander mense van hom of haar dink, hoe hy of sy graag wil wees en hoe hy of sy werklik is.

Maar wat bepaal ‘n mens se siening van jouself?

Drie dinge dra by om ‘n mens se identiteit te vorm.

1. Die sosiale self:
Eerstens word ‘n mens beïnvloed deur wat ander mense oor jou dink. Mertens en Blommestijn praat van ‘n “sosiale” self. Hierdie sosiale kant van ‘n mens se identiteit word ook bepaal deur ‘n mens se werk. Al wil ‘n mens dit nie altyd toegee nie, word ‘n mens tog geraak deur hoe ander op jou in jou werksituasie reageer. Ander mense soos ‘n mens se familie, vriende, bure, medewerkers en gemeenskapsleiers sien raak wat ‘n mens doen en lewer positiewe kommentaar as iemand presteer. Dan wil mense aan hulle verwagtinge voldoen en werk ‘n mens ook om hulle te beïndruk of is ‘n mens gretig om van hulle komplimente te ontvang. Dit kan ‘n mens aanspoor om die beste te lewer. Hoe ander mense op jou in jou werksituasie reageer, kan dus waardevolle invloed op jou mens-wees uitoefen.

Die reaksie van ander op jou werk kan egter ook ‘n negatiewe kant hê. Dit gebeur wanneer ‘n mens te veel van ander mense se reaksies maak of selfs daarvan afhanklik raak. ‘n Mens is dan nie werklik op die werk self ingestel is nie, maar op wat ander mense van jou in jou werk dink en verwag. ‘n Mens se werk is dan nie meer vervullend of ‘n roeping nie, maar ‘n middel om geprys te word. Dan is ‘n mens gebind aan wat ander van jou dink. Jy doen nie meer jou werk omdat dit vir jou lekker is nie. Die werksituasie is nie meer die eintlike doel van alles – dit waaraan ‘n mens self plesier het nie.  Mertens en Blommestijn waarsku dat dit tot burnout kan lei. Dan, skryf hulle, pas ‘n persoon nie werklik by sy of haar werk nie en vind iemand nie sy of haar bestemming in sy loopbaan nie.

2. Die ideale self
Tweedens word ons identiteit ook beïnvloed deur ons ideale en drome, naamlik wat ons graag wil wees. ‘n Mens sou dit ook die “ideale” self kon noem. Hier gaan dit om die vraag wat ‘n mens van jouself verwag. Elke mens het ideale wat hy of sy nastreef. Van jongs af wil ‘n mens iets “word”, ‘n beroep kies. Dit is baie diep ingegrein in elke mens se lewe. Van kindsbeen af word kinders uitgevra oor wat hulle “eendag wil word.”

In ons keuse vir en toewyding aan ons werk word ons verwagtinge vir onsself waar. Mense druk hulleself om die meeste van hul werk te maak. Gedurig streef ‘n mens daarna om hierdie drome al hoe meer waar te maak. ‘n Mens wil “bo” uitkom, die hoogste sport bereik. Daarom werk ‘n mens hard. Met beplanning, inspanning en toewyding gooi ‘n mens alles in jou werk om daarvan ‘n sukses te maak. Wanneer iemand se drome waar word, gee  hulle werk aan hulle groot plesier. Dit is vir hulle dan vervullend om te kan werk.

Ook hier is daar ‘n negatiewe kant. ‘n Mens kan onrealistiese drome droom. Dit is soos iemand wat nie kan noot hou nie, wat dink hy of sy kan ‘n beroemde sanger word. Sulke mense is nie nugter genoeg nie. Hulle hou nie rekening met hul beperkinge nie. Dan raak hulle iesegrimmig. Hulle verwyt hul werkgewer van ondankbaarheid en onregverdigheid omdat hulle nie die erkenning kry wat hulle dink hulle verdien nie. Ook dit kan veroorsaak dat iemand mismoedig word of uitsak.

3. Die werklike self
En dan word ons, derdens, ook beïnvloed deur wie ons werklik is. Dit is hoe ‘n mens hier en nou is, wat prakties met ‘n mens aan die gebeur is – ook in jou werk. Die afstand tussen wat ‘n mens wil wees en wat ander van jou dink met jou werklike situasie , kan baie groot wees. Dit is dan dat ‘n mens onder druk staan. Maar, as ‘n mens realisties is, kan ‘n mens in jou werk jou drome en ideale verwesenlik sien word, terwyl ander ook merk dat ‘n mens in jou loopbaan gelukkig is. Dit is dan dat al drie aspekte – die sosiale, ideale en werklike self in balans met mekaar is.

Daar is egter nog ‘n vierde, dieper en spirituele aspek van ‘n mens wat aandag moet kry.  Hieroor later meer.

Thursday, October 06, 2011

Dit is nie jou werk wat jou gelukkig maak nie. Oor Spiritualiteit van werk (3).

In die vorige blog het dit geblyk dat spiritualiteit van werk ‘n liggaamlike en konkrete kant het wat ‘n mens nie kan verwaarloos nie.  Dit vra van mense om vanuit ‘n geestelike hoek oor die ligaamlike en materiele aspekte van hul werk na te dink: omdat ‘n mens se liggaam ook in jou werk ‘n goddelike gawe is, moet jy met liefde daarmee omgaan en dit nie verwaarloos nie. Dit beteken dat ‘n mens ook nie ander mense te na sal kom in hul konkrete, liggaamlike omstandighede nie – of jy nou die baas of ‘n kollega is.

Maar werk het ook ‘n nie-liggaamlike kant. ‘n Werk kan ‘n mens sielkundig vorm. Ook hierdie kant word soms nie hoog genoeg geag nie, veral nie as mense elke dag deur hulle werk worstel net om ‘n salaris te bank nie.

‘n Werk kan ‘n belangrike bydrae lewer tot iemand se welsyn en gevoel van tevredenheid. ‘n Mens kan ‘n ontspanne, rustige en vervulde persoon word wanneer hy of sy werksbevrediging kry.

Meer nog: ‘n Mens se werk kan selfs bepaal hoe jy oor jouself dink. Dit kan so belangrik word dat dit help om jou identiteit te vorm en bydrae hoe jy oor jouself as mens dink. ‘n werk dra immers ook by tot hoe jy en ander mense oor jou mens-wees voel en dink.

Mertens en Blommestijn skryf dat mense se werk aan hulle ‘n bepaalde rol in hul omgewing en gemeenskap toeken. Mense wil nie sommer net geïgnoreer of misken word nie. Op grond van jou werk geniet ‘n mens ‘n sekere posisie.  Iemand wat byvoorbeeld sien dat hulle deur hul werk ‘n bepaalde diens lewer, word gereken en raakgesien. Hulle werk het dan betekenis en omdat dit betekenis het, waardeer ander wat hulle elke dag doen. Dan dink ander mense dat hy of sy ‘n bydrae lewer tot sy of haar omgewing. Daardeur voel ‘n mens gewaardeer.

Iemand wat deur sy of haar werk ‘n gesonde identiteit ontwikkel en voel of hulle ‘n bydrae aan ander lewer, ervaar ‘n gevoel van verbondenheid met ander. Aan die een kant raak dit hulle self: Hulle voel goed, is gelukkig in hul omgewing, hou van wat hulle doen en is tuis in hul eie velle. Hulle is volwasse, geestelik-gesonde mense, want hulle kan sien dat hulle gerespekteer word en dat daar vir hulle ook ‘n plek in die son is.

Maar aan die ander kant voel hulle ook goed teenoor ander mense omdat hulle kan sien dat ander positief reageer op wat hulle doen. ‘n Mens se werkstevredenheid kan dus van jou iemand maak wat graag gesonde menseverhoudinge bou.

Dit alles beteken nou nie dat ‘n mens se identiteit van jou werk afhang nie. Terwyl ‘n mens weet dat werk van jou ‘n nog beter mens kan maak wat volwasse is en wat omgee vir ander, besef ‘n mens ook dat dit nie die werk is wat tel nie. Wat tel is dat ‘n mens ‘n dieper ingesteldheid het op alles wat jy doen. Jy is so mens genoeg dat jy jou werk met ‘n goeie, geestelike houding benader.

Hierdie dieper ingesteldheid help ‘n mens ook om gedurigdeur die regte houding teenoor werk in te neem. Terwyl werk belangrik is, is dit nie alles nie. Daarom sal ‘n mens nie toelaat dat jou werk jou lewe bepaal nie. Dit is  juis andersom. ‘n Mens se lewensingesteldheid bepaal jou werk. Daarom is ‘n mens gedurig daarop ingestel om vreugde uit werk te put. ‘n Mens weet jou werk mag nie vir jou ‘n onuitstaanbare las word waardeur jy geestelik tot niet gaan nie. Gedurigdeur soek ‘n mens daarna, ook in moeilike tye by die werk, om dit so te kan doen dat jy gelukkig bly. Dit is immers nie jou werk wat jou gelukkig maak nie, maar dit is jy wat jou werk ‘n plesier laat word.

Dit bring ‘n mens by die godsdienstige, spiritualiteitskant uit. Die sielkundige kant van ‘n werk het godsdienstige, geestelike dimensies. Die heel belangrikste uitgangspunt, skryf Mertens en Blommestijn, is dat ‘n mens in jou lewe word wat God wil hê ‘n mens moet wees. Of, soos dit deur sommige gesê word, dat ‘n mens jou skeppingsbedoeling bereik.  

‘n Mens se godsdienstige siening van werk kom na vore wanneer ‘n mens van jou werk kan sê dat dit van jou ‘n beter mens maak wat op pad is om te word wat God vir jou voorsien het. Dan sien ‘n mens, skryf Mertens en Blommestijn, jou werk as ‘n roeping. ‘n Mens sit hart en siel in jou daaglikse arbeid omdat jy daarin ‘n kans kry om God se wil vir jou lewe te soek. Dan ervaar ‘n mens dat jou werk jou vry maak. Dit bied die geleentheid waardeur ‘n mens kom tot jou volle mens-wees. Dan is ‘n mens se hart in jou werk.

Dit alles klink eintlik surrealisties wanneer ‘n mens hoor hoe baie mense hul werksituasie beleef. En tog - dit is hoe gelowige mense oor hul werk kan dink, veral vanuit hul skeppingsgeloof. 

Dink net wat sal gebeur as bestuurders en base begin besef dat hulle aan mense die kans bied om hulle volle mens-wees te kan bereik. Sulke besigheidsleiers kan in hul werk hul eie godsdienstige roeping raaksien en uitleef deur 'n besigheidsomgewing te skep waarin hul werknemers tot sterker, volwasser mense kan groei. Hierdie leiers en bestuurders moet dan eenvoudig net daarop ingestel wees om vir mense wat vir hulle werk die kans te gee om volwaardige mens te word. 

En dink net wat sal gebeur wanneer mense begin insien dat hulle werk 'n kans vir hulle bied om hul mens-wees verder te leer ken en ontwikkel. Dit is hierdie heel basiese insig dat 'n mens se werk 'n geestelike uitdaging bied, wat 'n hele samelewing kan omkeer en wat gelukkiger mense sal kweek.

Uiteindelik nog 'n gedagte: waarom hoor 'n mens van godsdienstige leiers nie meer preke/leiding oor 'n spiritualiteit van werk nie? 

Wednesday, October 05, 2011

Ons kry net een liggaam... Oor spiritualiteit van werk (2).


Vir vele mense sal die idee van ‘n “spiritualiteit van werk” vreemd wees. Mense is juis in ons tyd versigtig om orals met godsdiens te smous. Hulle sal daarom vra: wat het ‘n mens se werk met geestelike sake te doen?

Nog vreemder sal die volgende stelling vir hulle klink, veral vir mense wat elke dag doodgewone kantoorwerk doen: Wanneer ‘n mens oor die spiritualiteit van werk praat, gaan dit heel eerste oor ‘n mens se liggaam.

En tog is die band tussen werk en die liggaam belangriker as wat mense besef.

Die liggaam bly ‘n verwaarloosde aspek van werk. Om dit te illustreer kan ‘n mens die volgende voorbeeld noem. Mense, veral die pennelekkers onder ons, onderskei  byvoorbeeld heel dikwels tussen kantoorwerk en handewerk. Die groot verskil tussen die twee is volgens hulle dat ‘n mens in die kantoor nie hande-arbeid verrig nie. Hulle doen in die kantoor iets anders as ‘n werker in ‘n fabriek wat klere sny, of ‘n motorwerktuig­kundige in ‘n garage wat motors nagaan, of ‘n winkelklerk wat rakke uitpak, of ‘n plaaswerker wat vrugte pluk of ‘n posbode wat briewe aflewer.  Vir sulke mense beteken dit dus dat hulle eie werk nie eintlik met die liggaam of met liggaamlike werk te doen het nie.

Die band met die liggaamlike word ook verwaarloos omdat mense dink dat hulle werk op kantoor anders is as die werk wat sommige met ander mense doen. Hulle werk nie soos die dokter, verpleegster of arbeidsterapeut met pasiënte se liggame nie.

Mense dink dus nie altyd aan die liggaamlik kant van hulle werk nie. Maar selfs die mees “geestelike” werk of die urelange kantoordag het gedurig allerhande implikasies vir die mens se liggaam. Dit kan ‘n mens op baie maniere raaksien. Op die mees basiese vlak werk ‘n mens omdat jy moet kan eet, aantrek, slaap en kan rondbeweeg. ‘n Mens se werk moet sorg dat jy aan jou liggaamlike behoeftes en gedrag kan voorsien.

Die liggaamlikheid van werk loop egter wyer. As ‘n mens in jou werk liggaamlik negatief beïnvloed word, kan dit nadelig wees. Mense werk sleg in ‘n ou, afgesloofde en vuil gebou wat hulle bedruk laat voel. As ‘n mens soggens dou voor dag moet opstaan en kilometers ver moet reis, beïnvloed dit ook op ‘n negatiewe manier die kwaliteit van werk wat mense kan lewer. Iemand wat nie kan ontspan of genoeg vakansie neem nie, word ook moeg en uitgeput.  

Die liggaamlike kan ‘n mens selfs op ‘n heel basiese vlak raak: iemand wat nie op ‘n behoorlike stoel sit nie, of wat nie die regte posisie voor die rekenaar inneem nie, se liggaam kan dit nie hou nie, met die gevolg dat hulle klaar oor allerhande skete en kwale.

Ander voorbeelde bevestig hoe belangrik die liggaamlike vir werk is. Dit is byvoorbeeld belangrik vir mense om fisiek en liggaamlik aktief te bly. Onlangs nog hoor ek ‘n kollega vertel van ‘n vriend van hom wat afgetree het en kort na sy aftrede dood is. Ons praat oor hoe dit ‘n mens jonk hou om nog aan die gang te wees, om uit te kom uit die huis, om deel te wees van mense wat goeie dinge doen en om te voel ‘n mens lewer ‘n bydrae. Dit wys dat ‘n mens nie werk net om ‘n salaris te verdien en aan die leef te bly nie. ‘n Mens  kan dikwels leef om te werk. Die lewe is goed en mooi wanneer ‘n mens nog aktief kan wees. Dit kan ‘n mens baie energie gee om ‘n werk te doen wat goed en sinvol is. Dit hoef nie noodwendig dieselfde werk te wees wat ‘n mens altyd gedoen het nie, maar om aan die woel en werskaf te bly kan vir ‘n mens geestelik baie beteken.  

In hul werk hieroor, sê Mertens en Blommestijn dat werk dus vir heelwat mense op die oog af weinig met spiritualiteit te doen het. Dit lyk eerder of dit bloot goed is om sekere fisieke dinge vir ‘n werksituasie in ag te neem. Om ‘n goeie kantoorstoel te hê, is tog ‘n kwessie van gesonde verstand. Om vir jou werkers te help met hul mediese fonds en hul huisvesting, is ‘n teken van ‘n wyse bestuurstyl wat produktiwiteit en vertrou in die maatskappy kan bevorder.

Daarom sou mense kan vra: Wat het die kantoor dan om hemelsnaam met spiritualiteit te doen?  

Wat in die werk gebeur, hang nou saam met wat ‘n mens oor die liggaam dink. Hier kan ‘n mens op twee benaderings tot die liggaam en werk wys:

Aan die een kant kan ‘n mens juis die belangrikheid van die liggaam inperk. ‘n Mens kan jou liggaam bloot net as ‘n middel tot ‘n doel beskou. Dit is nie die liggaam wat tel nie, maar wat ‘n mens wil bereik deur jou liggaam te gebruik.

So ‘n houding roep allerhande vrae op:  Gebruik ‘n mens jou werkers om die doel van die maatskappy of firma te bereik ongeag wat dit aan hulle liggaamlike welsyn doen? Verwag ‘n mens van ander om groot opofferings te maak ter wille van die winste van die maatskappy? Dan redeneer ‘n mens dat mense se liggame soos die ander voorwerpe in die fabriek of die maatskappy of die kantoor is. Hulle liggame moet gebruik word en is deel van die kantoormeublement wat hul leeftyd het en mettertyd afgeskryf word. So, sou ‘n mens dan dink, werk die lewe maar ten ene male.

Daar is egter ook ‘n ander houding  teenoor die liggaam en werk. Hierdie houding het alles met spiritualiteit te doen, want dit gaan om ‘n geestelike perspektief.  Wat vir mense wat dieper dink tel, is dat hulle steeds weier om oor hulleself as ‘n ding of ‘n meubelstuk of ‘n voorwerp te dink. ‘n Mens kry nie ‘n liggaam bloot net om aan die lewe te bly nie. Hierdie mense besef dat die lewe ‘n wonder is. Van dag tot dag leef hul soos iemand wat vir die eerste keer pa of ma word: hulle staan verwonderd oor die gawe van die lewe. ‘n Mens se liggaam is nie iets waaroor jy beskik en waarmee jy kan doen wat jy wil nie. Dit is iets wat aan jou geskenk word en wat jy eintlik nooit ten volle kan peil nie.

Jou liggaam is as gawe iets wat mens daarom liefdevol versorg.  Mertens en Blommestijn skryf (12) As ‘n mens in al jou doen en late, in jou denke en spreke onthou dat die lewe aan ‘n mens geskenk word deur God as gewer, dan ontdek ‘n mens deur jou liggaam “dat die lewe ‘n onbegryplike wonder” is.

Wanneer ‘n mens dit besef, dan kyk jy met ander oë na jouself en dan tree jy anders teenoor jou liggaam op. 

En saam daarmee kom ook ‘n groter waardering vir ander mense in hul liggaamlikheid op. Jy hanteer ander nie soos dinge nie, soos meubelstukke nie, maar soos mense wat die gawe van die liggaam en die lewe as ‘n wonder ontvang het.

Jou liggaam kan jou verwonderd laat staan. Met so ‘n geestelike perspektief kyk ‘n mens heel anders na jou liggaam. ‘n Mens ontdek in jou liggaam en in alles wat ‘n mens in hierdie wêreld kan beleef, die openbaring van God se skeppende liefde. Ons liggaam vertel vir ons dat ons ‘n plek in die wêreld het, dat ons raakgesien word en dat dit goed is dat ons bestaan (12).

Die ander kant is net so waar: Wie in sy of haar werk sy liggaam verwaarloos, verloor sy of haar plesier in werk. Of: Wanneer ‘n mens se werk deur ander nie gereken word nie, of misken word, is dit nie maar net ‘n kwessie dat mense ons werk geringskap nie. Dan word mense se geestelike belewing van hul werk aangetas.

Te dikwels vergeet ‘n mens dat jy net een liggaam kry en het. Mense het die keuse om dit te verniel.

Of deur die liggaam kan mense egte lewensplesier ervaar, selfs in ‘n werk wat deur vele as blote gesleur beskou word.

Blog Archive