Vir vele mense sal die idee van ‘n “spiritualiteit van werk” vreemd wees. Mense is juis in ons tyd versigtig om orals met godsdiens te smous. Hulle sal daarom vra: wat het ‘n mens se werk met geestelike sake te doen?
Nog vreemder sal die volgende stelling vir hulle klink, veral vir mense wat elke dag doodgewone kantoorwerk doen: Wanneer ‘n mens oor die spiritualiteit van werk praat, gaan dit heel eerste oor ‘n mens se liggaam.
En tog is die band tussen werk en die liggaam belangriker as wat mense besef.
Die liggaam bly ‘n verwaarloosde aspek van werk. Om dit te illustreer kan ‘n mens die volgende voorbeeld noem. Mense, veral die pennelekkers onder ons, onderskei byvoorbeeld heel dikwels tussen kantoorwerk en handewerk. Die groot verskil tussen die twee is volgens hulle dat ‘n mens in die kantoor nie hande-arbeid verrig nie. Hulle doen in die kantoor iets anders as ‘n werker in ‘n fabriek wat klere sny, of ‘n motorwerktuigkundige in ‘n garage wat motors nagaan, of ‘n winkelklerk wat rakke uitpak, of ‘n plaaswerker wat vrugte pluk of ‘n posbode wat briewe aflewer. Vir sulke mense beteken dit dus dat hulle eie werk nie eintlik met die liggaam of met liggaamlike werk te doen het nie.
Die band met die liggaamlike word ook verwaarloos omdat mense dink dat hulle werk op kantoor anders is as die werk wat sommige met ander mense doen. Hulle werk nie soos die dokter, verpleegster of arbeidsterapeut met pasiënte se liggame nie.
Mense dink dus nie altyd aan die liggaamlik kant van hulle werk nie. Maar selfs die mees “geestelike” werk of die urelange kantoordag het gedurig allerhande implikasies vir die mens se liggaam. Dit kan ‘n mens op baie maniere raaksien. Op die mees basiese vlak werk ‘n mens omdat jy moet kan eet, aantrek, slaap en kan rondbeweeg. ‘n Mens se werk moet sorg dat jy aan jou liggaamlike behoeftes en gedrag kan voorsien.
Die liggaamlikheid van werk loop egter wyer. As ‘n mens in jou werk liggaamlik negatief beïnvloed word, kan dit nadelig wees. Mense werk sleg in ‘n ou, afgesloofde en vuil gebou wat hulle bedruk laat voel. As ‘n mens soggens dou voor dag moet opstaan en kilometers ver moet reis, beïnvloed dit ook op ‘n negatiewe manier die kwaliteit van werk wat mense kan lewer. Iemand wat nie kan ontspan of genoeg vakansie neem nie, word ook moeg en uitgeput.
Die liggaamlike kan ‘n mens selfs op ‘n heel basiese vlak raak: iemand wat nie op ‘n behoorlike stoel sit nie, of wat nie die regte posisie voor die rekenaar inneem nie, se liggaam kan dit nie hou nie, met die gevolg dat hulle klaar oor allerhande skete en kwale.
Ander voorbeelde bevestig hoe belangrik die liggaamlike vir werk is. Dit is byvoorbeeld belangrik vir mense om fisiek en liggaamlik aktief te bly. Onlangs nog hoor ek ‘n kollega vertel van ‘n vriend van hom wat afgetree het en kort na sy aftrede dood is. Ons praat oor hoe dit ‘n mens jonk hou om nog aan die gang te wees, om uit te kom uit die huis, om deel te wees van mense wat goeie dinge doen en om te voel ‘n mens lewer ‘n bydrae. Dit wys dat ‘n mens nie werk net om ‘n salaris te verdien en aan die leef te bly nie. ‘n Mens kan dikwels leef om te werk. Die lewe is goed en mooi wanneer ‘n mens nog aktief kan wees. Dit kan ‘n mens baie energie gee om ‘n werk te doen wat goed en sinvol is. Dit hoef nie noodwendig dieselfde werk te wees wat ‘n mens altyd gedoen het nie, maar om aan die woel en werskaf te bly kan vir ‘n mens geestelik baie beteken.
In hul werk hieroor, sê Mertens en Blommestijn dat werk dus vir heelwat mense op die oog af weinig met spiritualiteit te doen het. Dit lyk eerder of dit bloot goed is om sekere fisieke dinge vir ‘n werksituasie in ag te neem. Om ‘n goeie kantoorstoel te hê, is tog ‘n kwessie van gesonde verstand. Om vir jou werkers te help met hul mediese fonds en hul huisvesting, is ‘n teken van ‘n wyse bestuurstyl wat produktiwiteit en vertrou in die maatskappy kan bevorder.
Daarom sou mense kan vra: Wat het die kantoor dan om hemelsnaam met spiritualiteit te doen?
Wat in die werk gebeur, hang nou saam met wat ‘n mens oor die liggaam dink. Hier kan ‘n mens op twee benaderings tot die liggaam en werk wys:
Aan die een kant kan ‘n mens juis die belangrikheid van die liggaam inperk. ‘n Mens kan jou liggaam bloot net as ‘n middel tot ‘n doel beskou. Dit is nie die liggaam wat tel nie, maar wat ‘n mens wil bereik deur jou liggaam te gebruik.
So ‘n houding roep allerhande vrae op: Gebruik ‘n mens jou werkers om die doel van die maatskappy of firma te bereik ongeag wat dit aan hulle liggaamlike welsyn doen? Verwag ‘n mens van ander om groot opofferings te maak ter wille van die winste van die maatskappy? Dan redeneer ‘n mens dat mense se liggame soos die ander voorwerpe in die fabriek of die maatskappy of die kantoor is. Hulle liggame moet gebruik word en is deel van die kantoormeublement wat hul leeftyd het en mettertyd afgeskryf word. So, sou ‘n mens dan dink, werk die lewe maar ten ene male.
Daar is egter ook ‘n ander houding teenoor die liggaam en werk. Hierdie houding het alles met spiritualiteit te doen, want dit gaan om ‘n geestelike perspektief. Wat vir mense wat dieper dink tel, is dat hulle steeds weier om oor hulleself as ‘n ding of ‘n meubelstuk of ‘n voorwerp te dink. ‘n Mens kry nie ‘n liggaam bloot net om aan die lewe te bly nie. Hierdie mense besef dat die lewe ‘n wonder is. Van dag tot dag leef hul soos iemand wat vir die eerste keer pa of ma word: hulle staan verwonderd oor die gawe van die lewe. ‘n Mens se liggaam is nie iets waaroor jy beskik en waarmee jy kan doen wat jy wil nie. Dit is iets wat aan jou geskenk word en wat jy eintlik nooit ten volle kan peil nie.
Jou liggaam is as gawe iets wat mens daarom liefdevol versorg. Mertens en Blommestijn skryf (12) As ‘n mens in al jou doen en late, in jou denke en spreke onthou dat die lewe aan ‘n mens geskenk word deur God as gewer, dan ontdek ‘n mens deur jou liggaam “dat die lewe ‘n onbegryplike wonder” is.
Wanneer ‘n mens dit besef, dan kyk jy met ander oë na jouself en dan tree jy anders teenoor jou liggaam op.
En saam daarmee kom ook ‘n groter waardering vir ander mense in hul liggaamlikheid op. Jy hanteer ander nie soos dinge nie, soos meubelstukke nie, maar soos mense wat die gawe van die liggaam en die lewe as ‘n wonder ontvang het.
Jou liggaam kan jou verwonderd laat staan. Met so ‘n geestelike perspektief kyk ‘n mens heel anders na jou liggaam. ‘n Mens ontdek in jou liggaam en in alles wat ‘n mens in hierdie wêreld kan beleef, die openbaring van God se skeppende liefde. Ons liggaam vertel vir ons dat ons ‘n plek in die wêreld het, dat ons raakgesien word en dat dit goed is dat ons bestaan (12).
Die ander kant is net so waar: Wie in sy of haar werk sy liggaam verwaarloos, verloor sy of haar plesier in werk. Of: Wanneer ‘n mens se werk deur ander nie gereken word nie, of misken word, is dit nie maar net ‘n kwessie dat mense ons werk geringskap nie. Dan word mense se geestelike belewing van hul werk aangetas.
Te dikwels vergeet ‘n mens dat jy net een liggaam kry en het. Mense het die keuse om dit te verniel.
Of deur die liggaam kan mense egte lewensplesier ervaar, selfs in ‘n werk wat deur vele as blote gesleur beskou word.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.