Ons is in vele opsigte armer gelaat in ons godsdienstige lewe deurdat ons ervaring van die teenwoordigheid van God deur sekere vooroordele en wanvoorstellings oor spiritualiteit en die mistiek negatief beïnvloed is.
In onlangse jare is daar ‘n groeiende belangstelling in spiritualiteit juis omdat dit ons godsdiens verryk. Deur spiritualiteit her-ontdek ons wat ons ontsê is deur mense nie altyd billik was in hul beoordeling van belangrike erfgoed in die lewe van die kerk nie.
Beide die spiritualiteit en mistiek gaan oor die ervaring van die nabye teenwoordigheid van God in die lewensreis van mense. Spiritualiteit en mistiek dink nie aan godsdiens as net ‘n intellektuele saak nie, asof godsdiens daarom gaan om sekere waarhede onder mense se aandag te bring nie. Dit wil ook nie godsdiens afwater tot allerhande insigte oor historiese gebeurtenisse in Bybelse tye nie. Steeds weer is die dieper behoefte om te vra na die sin en waarde van alles wat God in die geskiedenis en in die tyd aan mense onthul het en watter verskil dit aan mense se lewens gemaak het.Wat is, vra spiritualiteit, die eintlike punt van alles wat ons op godsdienstige gebied vir mekaar sê?
Spiritualiteit en mistiek stel ook nie meer belang in godsdiens wat ingestel is op ‘n mens se eie selfsugtige, tydelike behoeftes nie en wat meeding om oppervlakkige, verganklike dinge nie. Dit herken ‘n voorspoedsteologie vir die leuen wat dit is.
Hulle fokus eerder op die “ewige” dinge – op wat vir altyd bly en wat ‘n mens se lewe onherroeplik nuut maak. Hulle kyk na die lewensbelangrike verskil wat God aan mense se lewens maak wanneer hulle bewus raak van die goddelike aanraking in hulle lewe.
In spiritualiteit word vertel hoe mense bewus raak dat hulle lewens heel word, hoedat daar ‘n proses van volwassewording aan die gang kom en hoe hulle lewe sinvol raak. Hulle ervaar die vervulling van hul diepste behoeftes deurdat hulle die dieper dinge ontdek. In die mees intieme kante van hul lewens ontdek hulle ‘n volheid waarsonder hulle nie meer kan bestaan nie. Hulle besef en ervaar dat die lewe groter as hulle self is.
‘n Verborge, mistieke proses is in hul lewe aan die gang gesit. In kerklike taal praat mense van die teenwoordigheid van God wat alles omgekeer het en hul lewens in ‘n totaal nuwe rigting neem.
Die geestelike mens leef nou in ‘n intieme, noue verhouding met God en uit hierdie onmiddellike ervaring van die goddelike word die lewe die moeite werd. Dit is so spesiaal dat hulle dikwels nie kan verklaar wat aan die gang is nie. Hulle “weet” dit, “ervaar” dit – soveel so dat dit selfs ‘n ekstatiese karakter kry: hulle word van hul ou, ingekeerde en klein bestaan vrygemaak en in ‘n nuwe ruimte van lig ingetrek in ‘n proses “wat alle verstand te bowe gaan”.
Nie almal vertrou hierdie spesiale ervaring nie en dink dat dit – ook in sy mees sublieme vorme – arrogante inbeelding is of baie naby daaraan kom. Die buitengewone ervaring van ‘n mistieke eenheid met God, die unio mystica, is deur sommige teoloë, aangevuur deur bekende skrywers soos Karl Barth, verdag gemaak asof dit beteken dat die mens deur eie inspanning in God opgeneem word en dus vergoddelik word, asof dit ingeprente, onstabiele ekstatiese emosies is. Omdat sommige denkers in die verlede sulke uitsprake sou gemaak het, is die mistiek as geheel onder verdenking.
Dit is nou opmerklik dat dieselfde teoloë op ‘n ander stadium rekenskap moet gee hoe hulle dan nou self die verhouding tussen God en mens sien. En hulle doen dit dan, ironies, in taal wat dikwels self mistieke kwaliteit het.
Hulle besef goed dat die verhouding van God met die mens nie sommer maar net ‘n normale kwessie is waarin een die ander ken nie of waarin die een op een of ander manier met die ander een te doen kry nie.
Die verhouding tussen God en mens is, ten minste in Bybelse konteks, veel meer – onvoorstelbaar meer.
Barth, soos ek gister geblog het, byvoorbeeld, skryf uitgebreid, maar byna sukkelend, oor die verhouding van gelowiges met Christus en probeer baie hard om dit weg te hou van ‘n verwronge mistieke opvatting. Dit kan hy met alle reg doen. Maar wanneer hy self oor die verhouding skryf, gebruik hy self mistieke taal in die goeie sin van die woord. Hy skryf uitdruklik dat die verhouding ‘n “intieme, intense gemeenskap” is. Die gemeenskap van die gelowige met Christus is vir hom ook ‘n “unieke” en ook ‘n “noue” verhouding.
Vir hom beteken dit egter nie dat die mens ‘n verhouding met God het in die sin dat die mens dan tot die hoogste vorme van bewussyn kan styg nie. Hy wil byvoorbeeld nie die verhouding met God sien as die resultaat van die konsentrasie, verdieping of intensifiëring van die menslike selfbewussyn nie. Barth se rede hiervoor is dat die gemeenskap met God nie die gevolg is van die mens se besondere vermoëns nie.
Die verhouding en gemeenskap met God, beklemtoon hy, kom alleen van die kant van God tot stand. God roep die mens tot ‘n verhouding en die mens gehoorsaam hierdie roeping. Die gemeenskap met God is geheel en al ‘n genade-gawe aan die mens. Trouens, hierdie gemeenskap vra altyd dat die mens God moet aanbid en dus ook die nodige afstand moet teenoor God moet hou.
Nadat Barth dit alles geskryf het, gaan hy egter voort om te verduidelik dat die verbintenis met God nie maar beteken dat die mens tydelik lossies aan God gebind word nie. Al word die mens nie vergoddelik nie, word die mens op ‘n heel uitsonderlike manier deelgenoot van ‘n intieme band met God. Dit is ‘n eenwording waarin die gelowige opgeneem word in ‘n onlosmaaklike, egte en ware eenheid met God in Christus.
Dit is ‘n besondere omvattende, verreikende toevertrou aan mekaar: Christus gee hom totaal en al, sonder enige reserwe aan die mens. En, in antwoord, vertrou die mens hom of haar geheel en al aan Christus toe.
Reeds hierin sien ‘n mens raak hoedat die diepste geheim van gemeenskap met Christus te doen het met self-prysgawe, met die wegbreek uit jou eie klein, ingekeerde wêreld waarin alles om jou en jou eie selfsugtige behoefte draai. Dit is die groot omvorming wat ‘n mens intrek in die goddelike ruimte van die liefdevolle leef-vir-ander.
Ek hou van die beskrywing dat die gemeenskap met Christus ‘n wedersydse toevertrou is. Soos daar aan jou gegee is, so gee ‘n mens ook. Soos ‘n mens die onpeilbaarheid van die Christus-gawe in besit neem en jou eie maak, so gee ‘n mens op jou beurt en in antwoord jouself weg aan God. Soos God se hart brand vir die liefde van die mens, so word die mens se hart aan die brand gesteek vir die liefde wat groter as alles, veral as sy of haar eie bestaan, is.
Kyk nou die volgende paragraaf waarin Barth verder hieroor skryf (Kerklike Dogmatiek 4.3.2) en let veral op die (deur my) onderstreepte dele:
For it takes place and consists in a self-giving which for all the disparity is total on both sides. In this self-giving Christ and the Christian become and are a single totality, a fluid and differentiated but genuine and solid unity, in which He is with His people, the Lamb on the throne with the one who recognises in Him his Lord and King, the Head with the members of His body, the Prophet, Teacher and Master with His disciples, the eternal Son of God with the child of man who by Him and in Him, but only thus, only as His adopted brother, may be called and be the child of God. Like His own unity of true deity and humanity, this unity is hic et nunc concealed. It may be known in faith but not in sight, not by direct vision. The revelation of its glory has still to come. But even hic et nunc there can be and is no question of creating it or giving it force, but only of making definitively and universally visible its possibility, nature and reality as something incomparably great and totally new. This, and this alone, is what the whole of creation, with all men and Christians too, is waiting and groaning for. The purpose for which Christians are already called here and now in their life-histories within universal history is that in the self-giving of Jesus Christ to them, and theirs to Him, they should enter into their union with Him, their unio cum Christo.
Barth skryf hier oor die onuitsegbare en hy worstel met woorde om daaraan reg te laat geskied. Hy kan nie genoeg die unieke, onvergelyklike eenheid tussen God en mens in woorde uitdruk nie.
Die kernpunt, die moeilikste oomblik in Barth se worsteling met woorde oor die intiemste moontlike band waarin die mens kan deel, is vir my te vind in sy verwysing na Christus wat self die eenheid van ware godheid en menslikheid is. Dit is vir Barth iets verborge (concealed). Eintlik bedoel hy dat dit iets mistieks is.
Juis hieroor moet ‘n mens nie te blind wees nie: in Christus het ‘n mens juis die eenheid tussen God en mens op die mees mistieke wyse moontlik uitgespel. Dit is inderdaad mistiek: dat God mens geword het om die goddelike liefde volmaak te deel! En dat die Mens God geword het in heerlikheid – die doxa omdat die liefde so volmaak gedien is. En dat daarmee die model van navolging gereed gemaak is – sodat die liefde van toe af volmaak geleef kan word.
Hoe ingrypend ervaar ‘n mens dit wanneer ‘n mens, konform aan Christus, jou geestelike reis loop! Hoe kan ‘n mens ooit peil wat dit beteken dat God in die volmaakte eenheid met die Mens getree het? Inderdaad, as ‘n mens dit begin bedink, kreun ‘n mens saam met die hele skepping om die uiteindelike voltooiing hiervan.
Maar nog verder: Vir my is die punt nie eintlik regtig dat die mens nie vergoddelik moet word nie of dat die mens in sy/haar verhouding met God sy identiteit nooit prysgee nie. Min mistici wil op die vlak dink. En vele mistici ondersteun so ‘n uitwissing van identiteit in elk geval nie.
Die punt is eerder dat God juis uit genade, in vryheid, die mens opsoek in ‘n allernouste en allerintiemste verhouding. God, die Onvergelyklike, Transendente, Totaal Andere is ook, as God, die een wie se identiteit daarin bestaan om die mens verlangend sy eie te maak. Hieroor wil ek weer vir Barth aanhaal – want wat hy skryf is juis die sake waaroor diep nagedink word in die mistiek – en sonder al die afwykings waarvan hy die mistiek verdink en verwyt. (Volg later).
Die verdere punt is ook dat mistieke skrywers dikwels in hul reis oor God praat op so ‘n manier dat dit inspireer en dat dit die verhouding met God verder kan verdiep. Immers, watter ryk moontlikhede gaan vir die mens oop wanneer ‘n mens besef dat God nie alleen wil wees nie, dat God se identiteit daarin na vore kom dat God ‘n allerintiemste verhouding met die mens wil wees? En om te dink op watter geduldige manier God gedurig hierdie verlange in die skepping, die herskepping, die uitstorting van die Gees uitgedruk het! As ‘n mens Handelinge mooi lees, ontdek jy hoedat die Gees lank nie net op Pinksterdag uitgestort is nie. Ook daarna was daar Pinksterdae waarop alle mense, ook nie-Jode, die Gees ontvang het (bv. Hd. 10:44). Keer op keer, steeds weer, reik die goddelike hart uit na hulle wat God graag by God wil hê. Maar later meer van Barth.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.