By die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke se byeenkoms in die Noorde verlede naweek is daar ‘n klomp mense bymekaar wat almal die gereformeerde identiteit as gemeenskaplike faktor het. Dit val my op dat vele van die afgevaardigdes uit die hele Afrika jongerige mense is, waarvan ‘n hele paar swart vroue-predikante is. Ons nagmaalsviering Sondag word deur ‘n swart vrou bedien, met ander mense uit Afrika-gebiede wat die elemente uitdeel.
Dit is ‘n rustige, maar deurleefde liturgie waarin die formulier in sy lang vorm deurgelees word, liedere in verskeie tale (ook Afrikaans) gesing word en waarin liturgiese gebede voorgelees word. In die rustigheid daarvan kom daar in my gemoed ‘n vreemde stilte – weke se rowwe tye, besef ek op ‘n oomblik, wat uit my sisteem wegwyk en plek maak vir verborge vrede wat die sakrament met die heenwyse na Groter Teenwoordigheid bring.
Die gesprekke in die besprekingstye is ontspanne, maar ernstig. Vele opmerkings word in hierdie Hervormings-naweek oor die gereformeerde erfenis gemaak. Dit boei my dat oor die hele Afrika ‘n beduidende klomp gemeentes uit die Gereformeerde tradisie ontstaan het, dat hulle invloedryk is en dat hulle in vele gevalle so vry geraak het dat hulle vroue in die amp kan bevestig en kan afvaardig om die kerk by sulke vergaderings by te woon.
Ek is beïndruk deur die preek van die Sekretaris-Generaal van die WBGK waarin hy praat oor die korrupsie selfs onder predikante: terwyl groepe geestelikes bymekaar kom en die staat profeties aanspreek, berispe hy kwaai, gaan sommige van hulle daarna na die staatslui omdat hulle van staatsfondse afhanklik is, en verseker dan vir die staatslui dat hulle eintlik nie regtig met die groep saamgestem het nie. Op die manier verseker hulle dat hul tog nog op die gunste en gawes van die staat sal kan reken.
Maar, meer nog, dit val my in ons gesprekke op hoe goed hierdie Christene hul Bybel ken. Meer as een val in die geselsery dikwels weg met lang aanhalings (in Engels!) uit Bybeltekste. Dit is deurleefde Bybelkennis, besef ek. ‘n Mens kan sien wanneer iemand ‘n gedeelte sommer net spontaan onthou en oorvertel, asof dit die normaalste ding ter wêreld is.
Daar heers ‘n gees van eenvoud in alles wat gepraat word en in al die tye wat ons bymekaar is. Daar is geen prag of praal, vele rituele en liturgiese blink klere nie. Die enigste klerikale drag is die, interessant genoeg, nek-boordjie wat sommige van die predikante uit die res van Afrika aantrek vir die erediens op Sondag.
Calvinisties, hierdie eenvoud, terwyl ek dink aan my oupa wat altyd vertel het dat die Here nooit ‘n show van dinge gemaak het nie!
In ons seminaar oor spiritualiteit kom daar vroeg reeds besorgde vrae na vore oor die gawes van die Gees wat veral in sommige kerke uit ‘n charismatiese of pentekostalistiese tradisie na vore kom. Dit is vir my duidelik uit die besprekings hoe diep die Gereformeerde tradisie bly voortleef ook in ons Afrika-konteks en hoe dit die gemeente-gees in uithoeke van die kontinent deurdring het.
Mense wat gewoond is aan die Gereformeerde erediens vind die spreek in tale byvoorbeeld as iets ongewoons, wat meer die aandag aftrek as wat dit hulle gemeente opbou. Hulle kan dit moeilik verwerk in hul spiritualiteit van eenvoud en ingekeerdheid – soos wat dit in die liturgie en erediens na vore kom. Die pastor wat met die probleem worstel, wil van ons weet hoe hy sulke nie-gereformeerde grepe op sy gemeente moet hanteer. Hy is kennelik besorg daaroor. Hy wil met wysheid die opbou van die gemeente najaag.
Na die drie-dae lange byeenkoms kies ek koers huis toe, gevul met baie gedagtes. Die besprekings tydens ons spiritualiteit-sessie het vir my veel stof tot nadenke gegee. Ook uit die ander gesprekke is daar vele indrukke wat by my agterbly en in my broei. Ek bedink dit, geniet die onthou en die uitpluis van wat dit alles nog sou kon beteken.
Maar dit is iets anders wat ek as die diepste en mees transformerende ervaring in hierdie drie dae vashou. Hierdie ander dinge het te doen met die duursaamheid en die skoonheid van geloof. Iemand, ‘n vrou uit die bevoorregte gemeenskap staan byvoorbeeld op en vertel hoe nodig dit is dat in die kerke nagedink word oor die begeleiding van mense wat pyn het by die herinneringe dat hulle deel was van die apartheidsjare sonder dat hulle meer gedoen het om hulle daarteen te verset. Hulle dra iewers skuld daaroor in hulle rond en dit kwel hulle. Dit is nie net die slagoffers van apartheid wat gely het onder diskriminasie en verwerping wat genesing moet kry nie. Maar ook hulle wat gediskrimineer het, bevoorreg is, is eintlik slagoffers omdat hulle pyn het wanneer hulle na hul eie rol in daardie jare kyk.
Sy sê dit sonder enige opsweping, sonder om te verwyt – sy self is ‘n bevoorregte en sy soek self na genesing. Dit is ‘n ding in haar eie innerlike.
Ek verwonder my oor hierdie skone soeke na verdieping, na heel-wording, na geïntegreerdheid van iemand wat gelowig op reis is met God. Dit is eintlik betowerend dat iemand nie die verlede van onreg sommer net agterlaat nie, maar met pyn, ook namens ‘n hele gemeenskap, soek om by God te bly teen die konteks van eie feilbaarheid en om van God ook ‘n helende hand uitgestrek te kry.
Die duursaamheid en die skoonheid van geloof laat sy spore waar mense in ‘n noue verhouding met God leef. Wanneer God ‘n mens eers een keer aangeraak het, kan ‘n mens nie by die eerste en beste kans onverskillig raak nie. Daardie aanraking het ‘n mens se lewe onherroeplik na die liefde toe omgekeer. En wanneer ‘n mens die pad van die Gees loop, word daar steeds weer geskuur en geskaaf aan die liefdeloosheid waardeur ‘n mens by tye die pad byster raak. Skoongeskuur en gelykgeskaaf tot skoonheid, met pyn, ja, maar ook tot die al hoe meer gelyk raak aan die beeld van God.
Rondom my in daardie vergadering van gereformeerde gelowiges sit mense wat nie ‘n maklike pad loop nie. Die uitdagings in die kerk is enorm – stem almal saam. Vanaf materiële sorge tot geestelike afval. Dit bly ‘n pad wat deur die stormtye loop. Maar dit is ‘n pad, besef ek, wat hulle met toewyding loop. Steeds weer hoor ek iemand praat van hoe nodig ‘n mens God het, hoe belangrik dit is om steeds weer in die teenwoordigheid van die Here te bly in hierdie kronkelende reis. Dit is ‘n herhaalde refrein in die praat van mense wat weet hoe wankelrig die bene tydens die geestelike reis kan word en hoe nodig is dat die vuur steeds weer van Bo af moet kom.
Soli Deo Gloria, het die kerkvader destyds al beklemtoon. En, kenmerkend van sy manier van dink was dat die kerk steeds weer die ruimte was waar ‘n mens jou geloof ook moet anker – in die gemeenskap van gelowiges. Krag en moed put ‘n mens uit die gemeenskap van die gelowiges. Maar ook nog was daar sy Calvinistiese fokus op skuldbelydenis. Steeds weer moet ‘n mens aan die genade vashou, veral in die bewussyn van eie fale. Waar dit gebeur, kom die vryheid. En wie vry is, geniet, soos hy geskryf het, God in vreugde. In Afrika, wêrelde ver van Geneve, in die 21e eeu, word op Hervormingsnaweek hierdie spiritualiteit opnuut weer met innerlike vervulling ervaar en gevier.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.