Friday, October 14, 2011

Dit is nogal 'n kuns om die onkruid uit te kan skoffel. Oor sondebelydenis.



Wanneer ‘n mens die Onse Vader as model neem, moet ‘n mens erns maak met die gebed om sondevergifnis. Vele mense vra dus daagliks tereg om vergifnis vir wat hulle fout gedoen het.

Dat juis die soeke na vergifnis in die kort Onse Vader opgeneem is, is ‘n teken hoe belangrik dit is. Daar is niks so verlammend soos ‘n skuldgevoel waarmee mense opgesaal is. Om vergifnis daarvoor te ontvang kan besonder bevrydend wees. Om van God vergifnis te kan ontvang, verdiep geloof en verinnig die verhouding met God.

Die ander kant is net so waar. Dit is indrukwekkend om te sien hoe sondevergifnis kan inspireer. Daar is min dinge wat so edel is soos iemand wat onreg ervaar het, maar wat tog bereid is om daardie onreg oor te sien en die skuldige vry te skeld wanneer daardie skuld bely word. Daarom is belydenis van sonde en die ontvangs van vergifnis spesiaal. 

In die Katolieke tradisie word die belydenis van sonde as so belangrik beskou, dat dit as die bieg 'n sakrament geword het.

Juis omdat sondebelydenis lewensvernuwend kan werk,  moet ‘n mens noukeurig nadink oor wat fout gaan in ‘n mens se lewe om dit te kan bely. Deur skoon te maak, deur die groot en klein dinge uit ‘n mens se lewe te kry, word ‘n mens heel, meer volwasse en, uiteindelik ‘n gelukkiger mens.

Daarom is daar in die Spiritualiteitstradisie sekere riglyne wat deur die eeue deur baie mense ontwikkel is om ‘n mens by te staan oor die dinge waarvoor ‘n mens om vergifnis vra. Dit help ‘n mens om na te dink oor sonde.

Tereg besef mense dat sonde te doen het met die groot oortredinge. Die Tien Gebooie lei mense klokhelder hieroor: dit gaan om dinge soos lieg, steel en moor. Dit kan so ernstig wees dat dit in die Katolieke tradisie as doodsonde beskou is wat ten alle koste bely moet word.

Uiteraard moet ‘n mens om vergifnis vra vir die ergerlike, lewensvernietigende dade waarvoor ‘n mens verantwoordelik is. 

Maar in die proses moet 'n mens nie onderskat hoe 'n mens se lewe belas kan word deur ander vorme van sonde nie.

Uit die Bergrede blyk dit hoe deeglik Jesus nagedink het oor sonde. Selfs die ydele vloekwoord teenoor ander mense is vir Jesus ergerlik en onaanvaarbaar. Dit was juis die vernuwende in Jesus se bediening dat hy die onherkende, ongerekende vorme van sonde uitgewys het.

‘n Mens sondig op vele maniere deur sekere dinge te doen en te dink wat op die oog af nie juis opspraakwekkend of vernietigend lyk nie.

Juis daarom is die mistagoog, die geestelike vriend wat saam met ‘n mens ‘n geestelike reis aflê, iemand wat ‘n mens help om bewus te word van bedekte sonde wat kwaad doen en wat negatiewe dinge tot gevolg het. Die mistagogie wil daarom vir die mens help om op ‘n verantwoordelike manier self-ondersoek te doen sodat ‘n mens die dinge wat seermaak, kan bely voor God. Belydenis is immers die eerste stap na genesing en herstel.

In die Protestantse tradisie het hierdie self-ondersoek in kerklike verband sterk na vore gekom by die voorbereiding tot die gebruik van die nagmaal. Die formulier moedig mense dus aan om gereeld, veral voor die gebruik van die sakrament, hulle gewetens te ondersoek en die sonde in 'n mens se lewe dan te bely.

En dit is juis hier waar ‘n mens ‘n aanknopingspunt kry vir ‘n saak waaroor dieper nagedink moet word. Daar is naamlik ‘n groot behoefte om mense te ondersteun om op ‘n volwasse manier hul tekortkominge, gebreke en sondes te herken en te bely. Dit is in die mistagogie soms gedoen deur ‘n model te skep waaraan mense hul lewens kan meet.

Ek lees byvoorbeeld onlangs ‘n lys van sake waaroor ‘n mens jou gewete ondersoek om op 'n verantwoorde manier na te dink oor vernietigende kragte in 'n mens se lewe. ‘n Mens sou byvoorbeeld kon nadink oor negatiewe dinge in ‘n mens se verhouding tot God, tot ‘n mens se familie, tot die gemeenskap en tot jouself. Na aanleiding hiervan het ek die lys verwerk en aangepas. Dit sou ‘n hele eksperiment kon word om verder daaraan te werk in klein groepe. 

Die rigtinggewende vrae sou selfs by nagmaalsdienste afgedruk kon word om mense te help om die uitkringende en onherkende sondes in hul lewens te herken. Dit is nie 'n lys wat veroordeel nie of wat allerhande moralistiese kwessies wil uitsnuffel nie. Dit is vrae wat 'n mens biddende kan gebruik, op 'n mens se eie, om oor 'n mens se lewe bestek op te neem. Dit is bedoel juis om mense te help om gelukkiger te word. 

'n Mens se lewensakker is nogal groter as wat 'n mens altyd bewustelik bedink. Die onkruid is maar orals en kruip nogal goed weg. Om stil te raak met jouself voor God in die lig van hierdie vrae, kan aanvanklik ongemaklik raak. Dit is nie moeilike vrae nie. Maar sommige van hulle sal sommer met die eerste leesslag al so bietjie skaamte wakker maak. Dit is ook goed. Want dan gee 'n mens al die eerste skoffelslag om die onkruid uit te roei sodat die oes geil en goed op die lewensakker kan opskiet.

Ek het so bietjie daaroor nagedink en heel voorlopig my eie lys saamgestel oor die dinge waaroor ‘n mens jou gewete kan ondersoek wanneer dit aan om ‘n verhouding met God. ‘n Mens kan die gewetensondersoek ten opsigte van die familie, aan die hand van die volgende vrae kon doen:

·      Spoor ek deur my lewe, voorbeeld en gesprekke mense naby my aan om naby aan God te leef?
·      Soek my familie steeds weer om die gesindheid van Christus na te streef?
·      Is ek steeds ingestel daarop om my familie lief te hê met ‘n liefde wat soos God se liefde lyk? Weet elkeen in my familie dat ek vir hulle omgee en hulle lief het?
·      Het ek nagelaat om my pligte teenoor my familie, my ouers, lewensmaat, kinders na te kom deurdat ek nie vir hulle na Christus gelei het, vir hulle gebid het en saam met hulle gebid het nie?
·      Het ek my lewensmaat met dieselfde eerbied behandel waarmee ek God eerbiedig? Sorg ek vir my maat, voorsien, beskerm en tree ek altyd so op dat ek haar/sy waardigheid bevestig en sy/haar menslikheid aanvaar?  Strewe ek daarna om hom/haar gelukkig te maak?
·      Tree ek altyd so op dat my familielede my lewensmaat sal respekteer? Kom ek vir hom/haar op wanneer sy/hy gekritiseer word? Beywer ek my dat sy/haar posisie as my lewensmaat met respek bejeën word?
·      Is ek die oorsaak dat my familie oortree en sondig? Het ek veroorsaak dat hulle met goeie rede kwaad geword het en onredelik seergemaak is?
·      Het ek nagelaat om van hulle vergifnis te vra toe dit nodig was?
·      Het ek my familie, my ouers, my kinders en my vriende, maar ook ander vergewe vir foute wat hulle gemaak het?
·      Ly my familie deur slegte gewoontes van my gebrek? Word my familie deur my optrede en lewenswyse voor ander mense verneder?  
·      Versaak ek my plig teenoor my kinders? Sorg ek dat hulle verstandig en reg lewe? Dissiplineer ek hulle op ‘n regverdige en billike manier? Is ek te streng, te veroordelend en die rede waarom my kinders ongelukkig en vreugdeloos lewe? Verneder ek my kinders deur my dissipline?
·      Is ek ‘n goeie voorbeeld vir my lewensmaat en kinders?
·      Is die belangrikste ideaal vir my familie dat hulle ‘n goeie en vervulde lewe sal lei? Soek ek aktief daarvoor dat hulle gelukkig is?
·      Gee ek tyd aan my familie en my onverdeelde aandag wanneer hulle daarom vra? Is ek daarop ingestel om hulle nood my nood te maak en te soek om hul daarin by te staan?
·      Lei ek my familie om vir die skepping om te gee, om spaarsamig met die skeppingsgawes om te gaan en om ‘n eenvoudige, dankbare lewe te lei?
·      Lewe ek ‘n opregte, skoon huwelikslewe? Is ek ingestel op die liggaamlike behoeftes van my lewensmaat?
·      Hou ek my kinders weg van lewensvernietigende gevare?
·      Soek ek daarna om my kinders te laat nadink oor die dieper, goeie dinge wat hulle lewe interessant kan maak en vir hulle sal laat groei tot kritiese, nadenkende en volwasse mense?
·      Het ek genoeg gedoen om my kinders oor geestelike sake in te lig, om vir hulle bekend te stel aan goeie boeke, musiek en kuns?
·      Help ek my kinders om hul emosies te hanteer, om nie in slegte gedagtes vas te val nie en om emosioneel sterk mense te word?
·      Help ek my kinders om hulle pligte teenoor God, teenoor hul familie, teenoor ander en ook teenoor hulleself te leer ken en na te kom? Maak ek hulle bewus van hoe hulle moet optree teenoor die behoeftiges, ouer mense, siekes, mense met gebreke en mense wat hulp nodig het? Dink ek saam met my kinders oor God se wil vir hulle lewe?

Die ding van sondebelydenis is die positiewe gevolge daarvan - soos hierbo uitgespel is. Meer nog, wanneer 'n mens leer hoe omvattend vernietigende dinge in 'n mens se lewe werk, is 'n mens geneig om self makliker te vergewe. Omdat 'n mens die krag van die verkeerde in jou lewe begryp, kan 'n mens verstaan wanneer ander in hul lewens ook swig voor die kwaad. Hulle stryd, besef 'n mens, is ook jou stryd. En die behoefte wat 'n mens uitspreek in sondebelydenis om vergewe te kan word, is iets wat 'n mens dan goed in ander kan verstaan wanneer hulle hul sonde bely. Dit is dan dat 'n mens self ook kan vergewe.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive