‘n Mens kan dit vanuit ‘n godsdienstige hoek so sien: ‘n mens moet in jou werk die vervulling van God se bedoeling met jou lewe kan nastreef. Dan is ‘n mens se werk vir jou ‘n roeping en ervaar jy dit as jou bestemming.
Dit alles beteken dat ‘n mens deur jou werk ook ‘n bydrae lewer tot wie jy as mens is. Op die manier lewer iemand se werk ‘n belangrike bydrae tot identiteitsvorming. Wat ‘n mens as werk doen dra by tot ‘n mens se identiteit.
Dit is op die punt ‘n goeie oomblik om na te dink oor hoe ‘n mens se identiteit gevorm word. Wie ‘n mens is hang af van ‘n proses wat tussen drie punte plaasvind. Iemand se identiteit word naamlik gevorm deur wat ander mense van hom of haar dink, hoe hy of sy graag wil wees en hoe hy of sy werklik is.
Maar wat bepaal ‘n mens se siening van jouself?
Drie dinge dra by om ‘n mens se identiteit te vorm.
1. Die sosiale self:
Eerstens word ‘n mens beïnvloed deur wat ander mense oor jou dink. Mertens en Blommestijn praat van ‘n “sosiale” self. Hierdie sosiale kant van ‘n mens se identiteit word ook bepaal deur ‘n mens se werk. Al wil ‘n mens dit nie altyd toegee nie, word ‘n mens tog geraak deur hoe ander op jou in jou werksituasie reageer. Ander mense soos ‘n mens se familie, vriende, bure, medewerkers en gemeenskapsleiers sien raak wat ‘n mens doen en lewer positiewe kommentaar as iemand presteer. Dan wil mense aan hulle verwagtinge voldoen en werk ‘n mens ook om hulle te beïndruk of is ‘n mens gretig om van hulle komplimente te ontvang. Dit kan ‘n mens aanspoor om die beste te lewer. Hoe ander mense op jou in jou werksituasie reageer, kan dus waardevolle invloed op jou mens-wees uitoefen.
Die reaksie van ander op jou werk kan egter ook ‘n negatiewe kant hê. Dit gebeur wanneer ‘n mens te veel van ander mense se reaksies maak of selfs daarvan afhanklik raak. ‘n Mens is dan nie werklik op die werk self ingestel is nie, maar op wat ander mense van jou in jou werk dink en verwag. ‘n Mens se werk is dan nie meer vervullend of ‘n roeping nie, maar ‘n middel om geprys te word. Dan is ‘n mens gebind aan wat ander van jou dink. Jy doen nie meer jou werk omdat dit vir jou lekker is nie. Die werksituasie is nie meer die eintlike doel van alles – dit waaraan ‘n mens self plesier het nie. Mertens en Blommestijn waarsku dat dit tot burnout kan lei. Dan, skryf hulle, pas ‘n persoon nie werklik by sy of haar werk nie en vind iemand nie sy of haar bestemming in sy loopbaan nie.
2. Die ideale self
Tweedens word ons identiteit ook beïnvloed deur ons ideale en drome, naamlik wat ons graag wil wees. ‘n Mens sou dit ook die “ideale” self kon noem. Hier gaan dit om die vraag wat ‘n mens van jouself verwag. Elke mens het ideale wat hy of sy nastreef. Van jongs af wil ‘n mens iets “word”, ‘n beroep kies. Dit is baie diep ingegrein in elke mens se lewe. Van kindsbeen af word kinders uitgevra oor wat hulle “eendag wil word.”
In ons keuse vir en toewyding aan ons werk word ons verwagtinge vir onsself waar. Mense druk hulleself om die meeste van hul werk te maak. Gedurig streef ‘n mens daarna om hierdie drome al hoe meer waar te maak. ‘n Mens wil “bo” uitkom, die hoogste sport bereik. Daarom werk ‘n mens hard. Met beplanning, inspanning en toewyding gooi ‘n mens alles in jou werk om daarvan ‘n sukses te maak. Wanneer iemand se drome waar word, gee hulle werk aan hulle groot plesier. Dit is vir hulle dan vervullend om te kan werk.
Ook hier is daar ‘n negatiewe kant. ‘n Mens kan onrealistiese drome droom. Dit is soos iemand wat nie kan noot hou nie, wat dink hy of sy kan ‘n beroemde sanger word. Sulke mense is nie nugter genoeg nie. Hulle hou nie rekening met hul beperkinge nie. Dan raak hulle iesegrimmig. Hulle verwyt hul werkgewer van ondankbaarheid en onregverdigheid omdat hulle nie die erkenning kry wat hulle dink hulle verdien nie. Ook dit kan veroorsaak dat iemand mismoedig word of uitsak.
3. Die werklike self
En dan word ons, derdens, ook beïnvloed deur wie ons werklik is. Dit is hoe ‘n mens hier en nou is, wat prakties met ‘n mens aan die gebeur is – ook in jou werk. Die afstand tussen wat ‘n mens wil wees en wat ander van jou dink met jou werklike situasie , kan baie groot wees. Dit is dan dat ‘n mens onder druk staan. Maar, as ‘n mens realisties is, kan ‘n mens in jou werk jou drome en ideale verwesenlik sien word, terwyl ander ook merk dat ‘n mens in jou loopbaan gelukkig is. Dit is dan dat al drie aspekte – die sosiale, ideale en werklike self in balans met mekaar is.
Daar is egter nog ‘n vierde, dieper en spirituele aspek van ‘n mens wat aandag moet kry. Hieroor later meer.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.