Dit is boeiend om te sien hoedat ‘n mens se blootstelling aan spirituele praktyke ‘n mens se bewussyn vorm en vir ‘n mens nuwe dinge op ‘ n vars manier laat raaksien.
Ek besef dit elke keer weer en ook in hierdie dae nadat ek meer gelees en geskryf het oor die manier waarop ‘n mens jou gewete ondersoek.
Ek dink byvoorbeeld in die afgelope dae soms weer terug aan die klomp vrae uit ‘n spiritualiteitstradisie waarmee ‘n mens jou gewete kan toets en self-ondersoek doen (sien die vorige twee blogs). Wat my ook by die vrae opgeval het, is die verantwoordelikheid van ouers teenoor hulle kinders in hul geloofslewe: gedurig moet ‘n mens jouself afvra of ‘n mens in jou gesin die dieper waardes aanleer wat ook vir jou kinders, die dag as jy nie meer daar is nie, kan bybly.
Dit is iets wat vele ouers besef en ook vir hul kinders begeer. Daarom sal hulle vir hul kinders ryke geestelike insigte wil laat ervaar. Immers, ‘n mens weet, belangriker as alle dinge is dat jou kinders in alle tye die innerlike krag en die geestelike erfgoed het wat by ‘n mens bly.
Noudat ek weer tuis is, is ek in my leestyd terug by tant Alie Badenhorst se beroemde dagboek oor die Boere-oorlog. Soos die oorlog vorder en haar ervaringe intenser word, ontwikkel sy as mens ook meer diepte. Ek beleef die boek al hoe beter.
Sy begin hoofstuk 19 van haar boek met die opskrif: “Ons gaan ‘n nuwe tydperk in.” Dit is duidelik dat haar situasie na vyftien maande van oorlog besig is om te versleg. Daar is ‘n keerpunt in die boek en dinge begin steeds weer slegter lyk.
Ek is geboei deur die eerste twee bladsye van die hoofstuk waarin sy vertel hoedat sy die koms van die Nuwejaar belewe.
Sy vertel hoedat sy op Nuwejaarsdag 1901 op die plaas wakker word. Eenvoudig skryf sy: “Dit is oggend, en stil in die woning.”
Die gedeelte is deurspek met ‘n intense bewussyn van die nuwe jaar en die nuwe fase wat sy binnegaan. Sy is onmiddellik as sy wakker word bewus daarvan dat dit die nuwe jaar is. Sy is duidelik ingestel om dieper daaroor na te dink. Dit is vir haar ‘n tyd van stil-word, ‘n belangrike dag, ‘n dag om te bepeins en te bedink. Dit is oomblikke van mymering oor draaipunt-tye in ‘n mens se lewe.
Dit is egter ‘n tyd met ‘n duidelike geestelike karakter. Op die stil oggend dink sy heel eerste aan woorde van haar ma aan hulle as gesin en wat al vele kere by haar opgekom het, maar ook op die dag spesiaal in haar gemoed woon.
Die ma, skryf tant Alie, het altyd vir hulle as kinders op Nuwejaarsdag gesê: “Dink tog daaraan dat ‘n nuwe jaar aangebreek het en dat jy dit nie ligsinnig ingaan nie; want in ‘n jaar kan soveel gebeur. Jy kan miskien in hierdie jaar sterf.”
Die woorde het diep indruk op tant Alie gemaak. Diepsinnig – so moet ‘n mens oor die Nuwejaar nadink.
Duidelik was die ma iemand wat haar kinders met hierdie maan-woorde eerbied vir die lewe wou tuisbring. (leke spiritualiteit, sal Waaijman dit noem). En saam daarmee kom die eeu-oue raad van mementi mori: hou steeds jou dood in gedagte. “Jy kan miskien in hierdie jaar sterf.” As jy jou sterflikheid onthou, maak dit nogal ‘n verskil aan jou lewe. (Ek sien Steve Jobs het ook die mementi mori beklemtoon). Daarmee kan jy al ‘n hele transformasie ondergaan. As ‘n mens alles vanuit jou sterflikheid bedink, kry die lewe dadelik ander sin.
Maar Tant Alie se ma dink dieper as blote menslike wysheid oor die verganklikheid van alle dinge en voeg dan ‘n spirituele perspektief by: “Vra God om ‘n nuwe hart by die nuwe jaar; dink daaraan dat dit ‘n gewigtige dag is. Jy moet God dank vir wat verby is, en Sy leiding afsmeek.” Nuwejaar is die tyd vir gedagtes oor God: afhanklikheid van God – twee keer uitgespel: vra God ‘n nuwe hart en smeek God se leiding af. Maar dan is daar ook dankbaarheid wat belangrik is: steeds weer is dit die tye om met ‘n warm hart terug te dink aan goddelike gawe’s. Die tyd van mymering, van bewussyn oor eie verganklikheid, is ook ‘n tyd van nadenke oor God.
Terwyl ek die woorde lees, begryp ek meer as tevore waarom die Oujaarsdiens so ‘n spesiale geestelike moment in ons spiritualiteitstradisie is. Vir vele mense is dit inderdaad ‘n “gewigtige” dag waarin ‘n mens jou sterflikheid te midde van die voortsnellende tyd beleef en soek om vernuwing in die verhouding met God. Tesame daarmee kom dankbaarheid oor geskenkte jare, maar ook afhanklikheid vir die tyd wat nog geleef moet word.
Tant Alie op Nuwejaarsdag is hierna, in haar eie woorde, die mediterende vrou wat hierdie vrae vra: “O jaar, wat bring jy vir my? Moontlik sterf ek vanjaar? Sal ek weggevoer word? Sal ek my kinders moet afstaan? Sal ek tyding van my Frikkie kry? Sal hy ook miskien my ontneem word? Hoe sal dit in hierdie jaar tog met ons kommando’s gaan? Sal almal gevange geneem word? Of gedood? Sal ons in hierdie jaar vrede behaal?”
‘n Mens sien in hierdie donker kwel-gedagtes die swart skaduwee van die oorlog oor ‘n vrou, alleen op haar plaas, in ‘n tyd van oorgange, hang. Dit is ‘n akute situasie: lewens word bedreig. Dinge is op hul uiterste. Sy skryf dus: “Nooit het ek die woorde van my moeder so gevoel as daardie môre nie; dit was my bang om die hart.”
Hier praat iemand wat diep nadink, wat oor die verborge dinge mymer.
En dan, terwyl sy nadink oor die voortsnellende tyd, is dit tyd vir haar môre-gebed, soos sy dit noem. Hieroor môre meer.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.