Showing posts with label Nuwejaar.. Show all posts
Showing posts with label Nuwejaar.. Show all posts

Wednesday, October 19, 2011

Vrolikheid in tye van oorlog. Oor tant Alie se dagboek (3)

Wanneer tant Alie van Transvaal op Nuwejaarsdag 1901 haar angs en onsekerheid in haar oggendgebed oorkom en uiteindelik geborgenheid in die Vaderskoot ervaar, voeg sy ‘n boeiende tweede ervaring by.

Sy vertel dat sy na haar gebed op die werf uitgaan om “soos altyd”  haar troos in die natuur te soek. Troos kom dus op vele manier na haar – deur haar gebedslewe, maar ook op ‘n eenvoudige manier deur haar liefde vir die natuur.

Dit is asof haar oggendgebed en haar Godsvertroue dieper diemensies kry. Sy wil met haar taal die rykheid van die natuur en die volheid van haar ervaring uitdruk: Sy kry troos as sy na die groen aarde kyk, soos die plaas veral in Januarie lyk wanneer dit in groen getooi is. Die voëls is vrolik. Die beeste is vet en blink en die skape huppel.

So praat ‘n plaasvrou. Dit is blye taal – wat opval, veral omdat dit in ‘n tyd van oorlog gepraat word.

Sy skryf: “alles is pragtig”, met ‘n sentimentele  toevoeging: “oral pryk die doudruppels.” Dit taal is intens: “alles” en “oral” sien sy dinge raak. Haar ervaring is ryk en vol.

En dan, in ‘n eerste kort opmerking oor haar ervaring in die natuur wys sy weer eens haar spirituele instelling: “dit vertel van Gods wonderwerke.”

Sy is nog nie klaar met die plaastoneel op die Nuwejaarsoggend nie. Sy keer terug na die natuur: “Al die bome is belaai met vrugte, groen en ryp.” “Al” en “belaai” verraai weer die intensiteit van haar ervaring.

“Hoe aangenaam na ‘n warm nag is die verkwikkende môre en die genot van die skone natuur nie!”

Sy ervaar hierdie tydjie waarin sy “so na alles kyk” as inspirasie: “Dit was vir my of al die dinge my ‘n gelukkige Nuwe Jaar toewens en of dit my opbeur.”

Uiteindelik sluit sy die kort paragraaf oor haar tydjie buite in die natuur af met ‘n dieper opmerking. “Geen wonder” dat sy opgebeur is nie, “want alles praat van Gods liefde vir die mens en van Sy troue sorg.”

Ook hier slaan haar spiritualiteit van voorsienigheid deur, maar binne die raamwerk van die liefde.

En ook hier is daar weer ‘n gesangvers: “Hoe snood ondankbaar moet hy wees, wat die hart nie vrolik tot hom hef.” Vrolikheid in tye van oorlog.

Gereformeerder kan dit nie….



Tuesday, October 18, 2011

In die skoot van die Vader. Oor gebed en tant Alie se dagboek (2)

In hierdie dae bedink ek gebed as spirituele praktyk. Miskien was dit 'n verdere rede waarom ek geboeid was oor die twee bladsye in Tant Alie van Transvaal se dagboek waaroor ek gister geskryf het. 

Tant Alie se dagboek het ‘n allermooiste deel oor haar donker gevoelens as sy op Nuwejaarsdag 1901 opstaan en te midde van die verslegtende situasie in die oorlog angstig nadink oor wat die toekoms vir haar en haar gesin inhou. In gister se blog het ek so bietjie geskryf oor die rol wat haar ma se woorde oor die Nuwejaar in haar lewe bly speel het en op die spesifieke Nuwejaar in 1901 so helder by haar teruggekom het.

Hoe besweer tant Alie haar onsekerheid oor die toekoms? Sy onthou die wysheid van haar ma, met die raad om steeds weer na God op te kyk, maar ook dankbaar te wees.

Maar in haar boek is die manier waarop sy hierdie wysheid haar eie gemaak het, opvallend. Dit is nie net sentimentele herinneringe aan moeder se mooi woorde nie. Sy approprieer – wat ma geleer het, is deel en werklikheid in haar geestelike oefening.

Haar skrywery oor moederswysheid is in ‘n diep geestelike konteks ingebed. Wat haar ma haar vertel het, bring haar om haar op die Nuwejaarsoggend tot God te wend. Sy vertel van hierdie innerlike onsekerhede oor die toekoms in terme van haar stiltetyd wat sy soggens hou en wat sy ook op ‘n spesiale manier op die Nuwejaarsdag doen. Sy begin die Nuwejaar biddend. Sy skryf dat sy “lank op haar knieë gebly het.” In die stil oggend, in haar huis, met haar man duisende kilometers afgevoer na ‘n interneringskamp, in ‘n al slegter wordende oorlogsituasie, is hierdie vrou besig met een van die mees kenmerkende aspekte van haar Gereformeerde spiritualiteit: dit is haar stiltetyd, en haar stiltetyd bring sy op haar knieë deur. Op die manier besweer sy die angs wat in haar woed en op die manier werk haar ma se spiritualiteit ook in haar lewe voort.

Hoe kan ons woorde en dade van geslag tot geslag vrug dra…  

“Lank” het sy haar oggendgebed so deurgebring, skryf sy, “want ek het krag nodig gehad.” Die besef van innerlike swakheid word gepaar met ‘n intense verlange na die Bron van krag. Dan volg: “en die krag kon ek van God alleen ontvang.” Wat haar ma lank terug met haar gedeel het, om naamlik steeds by God te bly, is by haar ‘n werklikheid, veral wanneer haar vastighede verkrummel.

Die krag kom moeisaam, soos dit uit haar eerlike vertelling bly. Sy dink in hierdie môre-gebed diep na oor die verborge dinge van die toekoms wat op haar en haar gesin wag. Daar is, weet sy, nie ‘n maklike pad nie. Op al haar vrae en angste, skryf sy bietjie desperaat, kan geen mens, “geen wysgeer of doktor in die godgeleerdheid… of koning” antwoorde gee nie.

Dit is nie dat sy vertwyfeld is nie. God sal wel die verborge dinge mettertyd bekend maak “aan die wat hom vrees”. Tot dan, egter, hou sy vas aan Psalm 23, wat sy so aanhaal: “Is dit nie geskryf: ‘Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my; U stok en staf vertroos my.” Haar stiltetyd word dus gevul met Bybelse inhoude: uiteindelik is dit troos wat na haar kan toe kom, beput uit die ryke bron van die Bybel.

En dan skryf sy, in ‘n kontemplatiewe oomblik, wanneer sy die troos gevind het, hierdie paragraaf: “God sou my in die toekoms nie begeef nie.”

Dit is haar Nuwejaars-wete. Godsvertroue.

En tog loop alles weer nie so eenvoudig nie. Dit is nie asof ‘n kits-antwoord bereik is toe sy vashou aan God se teenwoordigheid op haar geestelike reis in die toekoms nie. Terwyl sy so pas haar vertroue hieroor vashou, “verlang” sy dadelik en summier weer. Die houvas van die onsekerhede op haar gemoed is sterk: “Ag, kon ek maar die gordyn van die toekoms ‘n bietjie opsy trek, daar waar God kan insien, om te weet!” Onmiddellik is daar weer ‘n proses van worsteling aan die gang. Alles is nie sommer maklik nie.

Weer kom daar ‘n stukkie wysheid uit haar binneste na vore. En weer herken ‘n mens die verligting wanneer sy skryf: “Dan kom dit weer by my: Ek sal mos die jaar baie langsaam deurleef; en elke dag sal net een dag wees en vir elke dag sal daar nuwe genade wees.”

Op die manier mediteer sy weer en weer op die Nuwejaarsdag van 1901 oor die rol van haar geloof in haar tyd van worsteling. Sy is bewus daarvan dat die lewensreis nie vooraf deurgrond kan word nie. Die pilgrim reis in die donkerte voort. Sy weet ook van ‘n ander spirituele waarheid. Elke tree in die pad moet geduldig, langsaam deurleef word. Een dag op ‘n keer. Hier gaan dit om geduld, maar dan spesifiek in die vorm van volharding. Die geestelike reis gaan om vasbyt en aanhou, tree vir tree. Hupomene, ‘n sleutel-motief in die Bybel.

Maar aan die einde van hierdie sinne oor die pelgrimsreis as stadige, volhardende proses is daar dan die dieper moment as sy die geestelike reis knoop aan die genade: elke tree wat die pelgrim elke dag loop bring hom of haar opnuut in God se genade in. “Vir elke dag sal daar nuwe genade wees.”

Nadat tant Alie gepraat het van die nuwe genade wat elke dag die pelgrim toeval, en nadat sy oratief van haar verlange na God en na die goddelike krag uitgespel het, kom daar die kontemplatiewe moment. In een sin skryf sy:

“En toe lê ek my in die skoot van die Vader neer, met alles wat my nog sou tref.”

Dit is die oomblik van intimiteit, van nabyheid aan die Vader: om ‘n mens neer te lê in die Vaderskoot. Dit is die geloofsoorgawe, die vaste vertroue.

Ook die nawerking bly nie uit nie. Want as haar gebed verby is, staan sy op met ‘n gesangvers:

“Lei my deur die donker toekoms,
Waar ek vrees ‘n stap te doen.”

Om op te staan versinnebeeld die krag wat sy gevind het. Singend, met ‘n bang hart, maar geborge in die Vaderskoot, stap sy 1901 in. Maar daar is, ten slotte, nog een aspek wat in Tant Alie se Nuwejaarservaring van 1901 aandag verdien. Môre meer. 

Hierdie twee bladsye uit Tant Alie se dagboek is wonderlike preekstof vir 'n Nuwejaarpreek, maar is ook waardevol om te begryp hoe belangrik gebed as spirituele praktyk is. Tant Alie, immers, probeer nie met God allerhande kontrakte afsluit waarin sy vra om wonderbaarlike uitkomste en gebedsverhoring nie. Haar gebed brand van verlange en blink uit in Godsvertroue. Wat uiteindelik vir haar tel, is dat sy met volle vertroue in God se voorsienige trou op daardie donker Nuwejaarsoggend tot rus kom. 

Monday, October 17, 2011

Nuwejaar in 'n tyd van oorlog. Oor gebed en tant Alie se dagboek (1)


Dit is boeiend om te sien hoedat ‘n mens se blootstelling aan spirituele praktyke ‘n mens se bewussyn vorm en vir ‘n mens nuwe dinge op ‘ n vars manier laat raaksien.

Ek besef dit elke keer weer en ook in hierdie dae nadat ek meer gelees en geskryf het oor die manier waarop ‘n mens jou gewete ondersoek.

Ek dink byvoorbeeld in die afgelope dae soms weer terug aan die klomp vrae uit ‘n spiritualiteitstradisie waarmee ‘n mens jou gewete kan toets en self-ondersoek doen (sien die vorige twee blogs). Wat my ook by die vrae opgeval het, is die verantwoordelikheid van ouers teenoor hulle kinders in hul geloofslewe: gedurig moet ‘n mens jouself afvra of ‘n mens in jou gesin die dieper waardes aanleer wat ook vir jou kinders, die dag as jy nie meer daar is nie, kan bybly.

Dit is iets wat vele ouers besef en ook vir hul kinders begeer. Daarom sal hulle vir hul kinders ryke geestelike insigte wil laat ervaar. Immers, ‘n mens weet, belangriker as alle dinge is dat jou kinders in alle tye die innerlike krag en die geestelike erfgoed het wat by ‘n mens bly.

Noudat ek weer tuis is, is ek in my leestyd terug by tant Alie Badenhorst se beroemde dagboek oor die Boere-oorlog. Soos die oorlog vorder en haar ervaringe intenser word, ontwikkel sy as mens ook meer diepte. Ek beleef die boek al hoe beter.

Sy begin hoofstuk 19 van haar boek met die opskrif: “Ons gaan ‘n nuwe tydperk in.” Dit is duidelik dat haar situasie na vyftien maande van oorlog besig is om te versleg. Daar is ‘n keerpunt in die boek en dinge begin steeds weer slegter lyk.

Ek is geboei deur die eerste twee bladsye van die hoofstuk waarin sy vertel hoedat sy die koms van die Nuwejaar belewe.

Sy vertel hoedat sy op Nuwejaarsdag 1901 op die plaas wakker word. Eenvoudig skryf sy: “Dit is oggend, en stil in die woning.”

Die gedeelte is deurspek met ‘n intense bewussyn van die nuwe jaar en die nuwe fase wat sy binnegaan. Sy is onmiddellik as sy wakker word bewus daarvan dat dit die nuwe jaar is. Sy is duidelik ingestel om dieper daaroor na te dink. Dit is vir haar ‘n tyd van stil-word, ‘n belangrike dag, ‘n dag om te bepeins en te bedink. Dit is oomblikke van mymering oor draaipunt-tye in ‘n mens se lewe.

Dit is egter ‘n tyd met ‘n duidelike geestelike karakter. Op die stil oggend dink sy heel eerste aan woorde van haar ma aan hulle as gesin en wat al vele kere by haar opgekom het, maar ook op die dag spesiaal in haar gemoed woon.

Die ma, skryf tant Alie, het altyd vir hulle as kinders op Nuwejaarsdag gesê: “Dink tog daaraan dat ‘n nuwe jaar aangebreek het en dat jy dit nie ligsinnig ingaan nie; want in ‘n jaar kan soveel gebeur. Jy kan miskien in hierdie jaar sterf.”

Die woorde het diep indruk op tant Alie gemaak. Diepsinnig – so moet ‘n mens oor die Nuwejaar nadink.

Duidelik was die ma iemand wat haar kinders met hierdie maan-woorde eerbied vir die lewe wou tuisbring. (leke spiritualiteit, sal Waaijman dit noem). En saam daarmee kom die eeu-oue raad van mementi mori: hou steeds jou dood in gedagte. “Jy kan miskien in hierdie jaar sterf.” As jy jou sterflikheid onthou, maak dit nogal ‘n verskil aan jou lewe. (Ek sien Steve Jobs het ook die mementi mori beklemtoon). Daarmee kan jy al ‘n hele transformasie ondergaan. As ‘n mens alles vanuit jou sterflikheid bedink, kry die lewe dadelik ander sin.

Maar Tant Alie se ma dink dieper as blote menslike wysheid oor die verganklikheid van alle dinge en voeg dan ‘n spirituele perspektief by: “Vra God om ‘n nuwe hart by die nuwe jaar; dink daaraan dat dit ‘n gewigtige dag is. Jy moet God dank vir wat verby is, en Sy leiding afsmeek.” Nuwejaar is die tyd vir gedagtes oor God: afhanklikheid van God – twee keer uitgespel: vra God ‘n nuwe hart en smeek God se leiding af. Maar dan is daar ook dankbaarheid wat belangrik is: steeds weer is dit die tye om met ‘n warm hart terug te dink aan goddelike gawe’s. Die tyd van mymering, van bewussyn oor eie verganklikheid, is ook ‘n tyd van nadenke oor God.

Terwyl ek die woorde lees, begryp ek meer as tevore waarom die Oujaarsdiens  so ‘n spesiale geestelike moment in ons spiritualiteitstradisie is. Vir vele mense is dit inderdaad ‘n “gewigtige” dag waarin ‘n mens jou sterflikheid te midde van die voortsnellende tyd beleef en soek om vernuwing in die verhouding met God. Tesame daarmee kom dankbaarheid oor geskenkte jare, maar ook afhanklikheid vir die tyd wat nog geleef moet word.

Tant Alie op Nuwejaarsdag is hierna, in haar eie woorde, die mediterende vrou wat hierdie vrae vra: “O jaar, wat bring jy vir my? Moontlik sterf ek vanjaar? Sal ek weggevoer word? Sal ek my kinders moet afstaan? Sal ek tyding van my Frikkie kry? Sal hy ook miskien my ontneem word? Hoe sal dit in hierdie jaar tog met ons kommando’s gaan? Sal almal gevange geneem word? Of gedood? Sal ons in hierdie jaar vrede behaal?”

‘n Mens sien in hierdie donker kwel-gedagtes die swart skaduwee van die oorlog oor ‘n vrou, alleen op haar plaas, in ‘n tyd van oorgange, hang. Dit is ‘n akute situasie: lewens word bedreig. Dinge is op hul uiterste. Sy skryf dus: “Nooit het ek die woorde van my moeder so gevoel as daardie môre nie; dit was my bang om die hart.”

Hier praat iemand wat diep nadink, wat oor die verborge dinge mymer.

En dan, terwyl sy nadink oor die voortsnellende tyd, is dit tyd vir haar môre-gebed, soos sy dit noem. Hieroor môre meer.


Blog Archive