Tuesday, October 18, 2011

In die skoot van die Vader. Oor gebed en tant Alie se dagboek (2)

In hierdie dae bedink ek gebed as spirituele praktyk. Miskien was dit 'n verdere rede waarom ek geboeid was oor die twee bladsye in Tant Alie van Transvaal se dagboek waaroor ek gister geskryf het. 

Tant Alie se dagboek het ‘n allermooiste deel oor haar donker gevoelens as sy op Nuwejaarsdag 1901 opstaan en te midde van die verslegtende situasie in die oorlog angstig nadink oor wat die toekoms vir haar en haar gesin inhou. In gister se blog het ek so bietjie geskryf oor die rol wat haar ma se woorde oor die Nuwejaar in haar lewe bly speel het en op die spesifieke Nuwejaar in 1901 so helder by haar teruggekom het.

Hoe besweer tant Alie haar onsekerheid oor die toekoms? Sy onthou die wysheid van haar ma, met die raad om steeds weer na God op te kyk, maar ook dankbaar te wees.

Maar in haar boek is die manier waarop sy hierdie wysheid haar eie gemaak het, opvallend. Dit is nie net sentimentele herinneringe aan moeder se mooi woorde nie. Sy approprieer – wat ma geleer het, is deel en werklikheid in haar geestelike oefening.

Haar skrywery oor moederswysheid is in ‘n diep geestelike konteks ingebed. Wat haar ma haar vertel het, bring haar om haar op die Nuwejaarsoggend tot God te wend. Sy vertel van hierdie innerlike onsekerhede oor die toekoms in terme van haar stiltetyd wat sy soggens hou en wat sy ook op ‘n spesiale manier op die Nuwejaarsdag doen. Sy begin die Nuwejaar biddend. Sy skryf dat sy “lank op haar knieë gebly het.” In die stil oggend, in haar huis, met haar man duisende kilometers afgevoer na ‘n interneringskamp, in ‘n al slegter wordende oorlogsituasie, is hierdie vrou besig met een van die mees kenmerkende aspekte van haar Gereformeerde spiritualiteit: dit is haar stiltetyd, en haar stiltetyd bring sy op haar knieë deur. Op die manier besweer sy die angs wat in haar woed en op die manier werk haar ma se spiritualiteit ook in haar lewe voort.

Hoe kan ons woorde en dade van geslag tot geslag vrug dra…  

“Lank” het sy haar oggendgebed so deurgebring, skryf sy, “want ek het krag nodig gehad.” Die besef van innerlike swakheid word gepaar met ‘n intense verlange na die Bron van krag. Dan volg: “en die krag kon ek van God alleen ontvang.” Wat haar ma lank terug met haar gedeel het, om naamlik steeds by God te bly, is by haar ‘n werklikheid, veral wanneer haar vastighede verkrummel.

Die krag kom moeisaam, soos dit uit haar eerlike vertelling bly. Sy dink in hierdie môre-gebed diep na oor die verborge dinge van die toekoms wat op haar en haar gesin wag. Daar is, weet sy, nie ‘n maklike pad nie. Op al haar vrae en angste, skryf sy bietjie desperaat, kan geen mens, “geen wysgeer of doktor in die godgeleerdheid… of koning” antwoorde gee nie.

Dit is nie dat sy vertwyfeld is nie. God sal wel die verborge dinge mettertyd bekend maak “aan die wat hom vrees”. Tot dan, egter, hou sy vas aan Psalm 23, wat sy so aanhaal: “Is dit nie geskryf: ‘Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my; U stok en staf vertroos my.” Haar stiltetyd word dus gevul met Bybelse inhoude: uiteindelik is dit troos wat na haar kan toe kom, beput uit die ryke bron van die Bybel.

En dan skryf sy, in ‘n kontemplatiewe oomblik, wanneer sy die troos gevind het, hierdie paragraaf: “God sou my in die toekoms nie begeef nie.”

Dit is haar Nuwejaars-wete. Godsvertroue.

En tog loop alles weer nie so eenvoudig nie. Dit is nie asof ‘n kits-antwoord bereik is toe sy vashou aan God se teenwoordigheid op haar geestelike reis in die toekoms nie. Terwyl sy so pas haar vertroue hieroor vashou, “verlang” sy dadelik en summier weer. Die houvas van die onsekerhede op haar gemoed is sterk: “Ag, kon ek maar die gordyn van die toekoms ‘n bietjie opsy trek, daar waar God kan insien, om te weet!” Onmiddellik is daar weer ‘n proses van worsteling aan die gang. Alles is nie sommer maklik nie.

Weer kom daar ‘n stukkie wysheid uit haar binneste na vore. En weer herken ‘n mens die verligting wanneer sy skryf: “Dan kom dit weer by my: Ek sal mos die jaar baie langsaam deurleef; en elke dag sal net een dag wees en vir elke dag sal daar nuwe genade wees.”

Op die manier mediteer sy weer en weer op die Nuwejaarsdag van 1901 oor die rol van haar geloof in haar tyd van worsteling. Sy is bewus daarvan dat die lewensreis nie vooraf deurgrond kan word nie. Die pilgrim reis in die donkerte voort. Sy weet ook van ‘n ander spirituele waarheid. Elke tree in die pad moet geduldig, langsaam deurleef word. Een dag op ‘n keer. Hier gaan dit om geduld, maar dan spesifiek in die vorm van volharding. Die geestelike reis gaan om vasbyt en aanhou, tree vir tree. Hupomene, ‘n sleutel-motief in die Bybel.

Maar aan die einde van hierdie sinne oor die pelgrimsreis as stadige, volhardende proses is daar dan die dieper moment as sy die geestelike reis knoop aan die genade: elke tree wat die pelgrim elke dag loop bring hom of haar opnuut in God se genade in. “Vir elke dag sal daar nuwe genade wees.”

Nadat tant Alie gepraat het van die nuwe genade wat elke dag die pelgrim toeval, en nadat sy oratief van haar verlange na God en na die goddelike krag uitgespel het, kom daar die kontemplatiewe moment. In een sin skryf sy:

“En toe lê ek my in die skoot van die Vader neer, met alles wat my nog sou tref.”

Dit is die oomblik van intimiteit, van nabyheid aan die Vader: om ‘n mens neer te lê in die Vaderskoot. Dit is die geloofsoorgawe, die vaste vertroue.

Ook die nawerking bly nie uit nie. Want as haar gebed verby is, staan sy op met ‘n gesangvers:

“Lei my deur die donker toekoms,
Waar ek vrees ‘n stap te doen.”

Om op te staan versinnebeeld die krag wat sy gevind het. Singend, met ‘n bang hart, maar geborge in die Vaderskoot, stap sy 1901 in. Maar daar is, ten slotte, nog een aspek wat in Tant Alie se Nuwejaarservaring van 1901 aandag verdien. Môre meer. 

Hierdie twee bladsye uit Tant Alie se dagboek is wonderlike preekstof vir 'n Nuwejaarpreek, maar is ook waardevol om te begryp hoe belangrik gebed as spirituele praktyk is. Tant Alie, immers, probeer nie met God allerhande kontrakte afsluit waarin sy vra om wonderbaarlike uitkomste en gebedsverhoring nie. Haar gebed brand van verlange en blink uit in Godsvertroue. Wat uiteindelik vir haar tel, is dat sy met volle vertroue in God se voorsienige trou op daardie donker Nuwejaarsoggend tot rus kom. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive