Sunday, October 16, 2011

Die paradys





Die paradys was in die antieke een van die belangrikste godsdienstige beelde wanneer mense oor hul wêreld nagedink het. Iewers kan dit tog nie dit wees waaroor alles gaan nie. 


En deur die eeue is daar altyd geredeneeer dat daar 'n alternatief is op alles wat 'n mens elke dag aan hierdie aardse bestaan beleef. Iets anders moet tog vir die mens beskore wees. Mens-wees kan tog nie bestaan uit die onvrede, wrewel, onenigheid en verskille tussen mense nie. 


Altyd deur het mense dus van die paradys gepraat - die vrederyk waarin mense 'n alternatiewe bestaan kan herken. Iets wat hulle inspireer om verby die kwaad te kyk en om die goeie te begeer. 


Hierdie paradys verteenwoordig 'n idilliese bestaan wat nie maklik deur mense self bewerk kan word nie. Hulle word deur die simbole van vrede, van harmonie, van goedheid en van geluk wat so nou met die paradys-motief verbind is, geïnspireer.

In die Nuwe Testament is vrede 'n kern-motief. Dink maar aan die kerstyd, wat binnekort ook by ons op hande is. Dit is by uitstek die vredestyd wat met die koms van die evangelie saamhang. 

Openbaring 22:1-2 bevat een van die min verwysings in die Nuwe Testament na die paradys. Dit is nie verniet dat hierdie verwysing voorkom in die laaste hoofstuk van die laaste boek in die Bybel nie. Saam met die eerste boek van die Bybel en sy openingsbeskrywing van die paradys, trek die twee verwysings ‘n ring om die Bybel. Die paradys as die tuin, die woonplek van God onder die mense omring die boodskap van die Bybel. 

Die kerk het die Bybel gelees as 'n boek wat uitloop op God se groot vredesryk, die paradys. 

Die paradys-motief is deel van ‘n ryk gedeelte in Openbaring met gelaaide simbole. Dit pas byvoorbeeld goed by die voorafgaande vertelling oor die nuwe stad Jerusalem wat aan gelowiges geskenk sal word en wat ook die bruid van die Lam is. Jerusalem is die tempelstad waar God gewoon het. As tempelstad was dit by uitstek ‘n simbool en teken van God se liefde vir die volk.

Die paradys is die plek waar mense in harmonie met God en met mekaar leef. Dit is die plek van volledige transformasie van die aardse bestaan tot 'n vredesryk. 



Dit is nie die enigste spesiale, positiewe beeld van God en die gelowiges in die laaste hoofstukke van Openbaring nie. Wanneer die kerk as die bruid van die Lam geteken word, wys dit ook op ‘n intieme, noue verhouding tussen gelowiges en Christus.  In Bybelse konteks is die simbool van die bruid ‘n teken van hoe spesiaal die taal is waarmee mense se godsdiens uitgebeeld word.  

Maar daar is ook ander beelde: Wanneer ‘n mens Openbaring 22:1-3 lees, is die konkrete beelde daarin opvallend. Dit gaan oor suiwer water en oor ‘n boom met oordadige vrugte. Dit is weer eens simbole wat sterk positiewe betekenis het. Water en vrugte in ‘n droë Naby-Oosterse sou vir lesers van Openbaring spesiale gevoelens wakker maak:

“En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.”

Die gedeelte word dus met tuin-taal gevul. Dit vertel van die tyd wanneer die Nuwe Jerusalem sal kom en hoe die nuwe plek van God sal lyk. Dit roep by mens dieselfde gevoelens as Psalm 23 op. Maar dit herinner die lesers veral aan die eerste hoofstukke van die Bybel met sy idilliese voorstelling van die paradys. Dit herinner ook aan die tuin waarin die graf was en waar Jesus op die opstandingsoggend gewandel het.

Drie verse in Openbaring 21 bevat die sleutel tot die verstaan van die gedeelte: In die stad is die woonplek van God by die mense. God sal by hulle wees as hulle God (vers 3). God is die lig van die stad – daarom is daar geen son en maan nie. Die Lam is die lamp van die stad (vers 22-3). Die nasies sal in die stad se lig lewe.

‘n Intiemer beeld kan nouliks geteken word: mense sal lewe uit die lig van hul verhouding met God.

Terwyl daar reeds al in die hede ‘n noue verhouding tussen gelowiges en God is, wag daar selfs ‘n  nog nouer verhouding van God met gelowiges in die Nuwe Jerusalem. Die Nuwe Jerusalem word in Openbaring 22:1-2 as die paradys uitgebeeld. Duidelik blyk dit daaruit dat die boom van die lewe wat in die eerste paradys was, ook in die nuwe paradys sal wees. Uit die troon van God in hierdie nuwe Jerusalem en paradys stroom daar water. Dit herinner aan Genesis 2:10: “Daar het ‘n rivier in Eden ontspring om die tuin nat te maak, en van daar af het dit verdeel en vier riviere geword.” Maar dit herinner ook aan die visioen van Esegiël 47 waarin water in ‘n diep stroom uit die heiligdom van die tempel vloei. Die water laat alles lewe. Langs die rivier is daar vrugtebome waarvan die blare nooit verlep nie en waarvan die vrugte nooit opraak nie. Die vrugte is om te eet en die blare om genesing te bring (12).

Drie dinge is hier belangrik: die eerste is dat die verse beklemtoon dat die intieme verhouding met God nou reeds, maar ook tot in die verre toekoms sal bestaan. Uit die troon, vanuit die teenwoordigheid van God, vloei die waters, die lewenskrag wat mense herstel en laat vrug dra. En terwyl Openbaring as boek vertel van vervolging en swaarkry, wil dit terselfdertyd iets dieper sê. Wat ook al ‘n mens se situasie, uiteindelik is God se nabyheid aan die mens spesiaal en duidelik. Niemand of niks sal ‘n mens van hierdie liefdevolle nabyheid weghou nie.

Tweedens is daar ‘n noue verbintenis met Christus: In Esegiël 47 stroom die lewegewende waters uit die heiligdom. In Openbaring 22 stroom die waters ook uit die troon van die Lam. Reeds in Openbaring 5 is in ‘n intense uitbeelding vertel van die troon van die Lam. Die Lam is ‘n begrip wat intense ervaringe wakkermaak: aan die een kant is daar die Lam wat geslag is tot vergifnis van sonde (Openbaring 1:6), maar die Lam kontrasteer ook sterk met die gewelddadige, misleidende bedreiging van die Draak en sy twee diere-handlangers wat lewe tot niet maak.

Die lewe wat ‘n mens vind in die teenwoordigheid van God, wil Johannes uitbeeld, word deur dus Christus as die self-opofferende, liefdevolle Een bemiddel.

Derdens vloei die lewe veel verder as net die gelowiges. Dit boom van die lewe is tot genesing van die nasies. Hoewel God die bose en sy handlangers, die vyandige konings en volkere veroordeel, word die nasies uiteindelik ook die ontvangers van genesing. 

Die paradys is nie bloot die plek waar 'n paar gelowiges uiteindelik snoesig bymekaar gaan wees nie. Dit is baie meer: die is die plek waar alle nasies 'n tuiste sal vind en vrede sal smaak. 

Vir die lesers van Openbaring word hierdie heilswoord ‘n trooswoord. God wat die wêreld geskape het, sal dit nie tot niet laat gaan nie. Ook die volkere sal uiteindelik kan deel in God se nabye teenwoordigheid. God se paradys staan oop vir almal wat maar die sin van hulle bestaan in God vind. Dit is duidelik uitgespel in Openbaring 21:24: “Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan.”

Johannes wil op ‘n mistieke manier die intieme, noue verhouding van God met die geloofsgemeenskap en met die wêreld beklemtoon. Hy neem bekende beelde uit die Ou Testament oor. Die paradys-motief van die Boom van die lewe en die vele vrugte wat dit sal dra word vir hom die boodskap van die verhouding met God. Dit is sy manier om die dieper boodskap te verkondig dat die mens se lewe uiteindelik in God sy diepste sin en vreugde vind.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive