Saturday, October 15, 2011

Wanneer 'n mens voor God te kort skiet. Oor skuldbelydenis (2)


Ek het in die vorige blog oor skuldbelydenis geskryf. 'n Mens wat soek om sy of haar skuld te bely groei sterker in die geestelike reis deur te weet met watter bril hy of sy na sy of haar lewensweg kyk.

Wanneer ‘n mens jou skuld bely, kan ‘n mens dit sinvol doen aan die hand van sekere vrae vir jouself. Die vorige blog se vrae het gegaan oor alles wat in ‘n mens se verhouding met jou familie verkeerd kan loop.

In hierdie blog wil ek kyk na ‘n paar vrae wat ‘n mens kan gebruik om na te dink oor alles wat in ‘n mens se verhouding met God skeef kan loop. Eintlik moet ‘n mens by hierdie vrae begin. Voordat ‘n mens kan vra hoe ‘n mens teenoor jou familie opgetree het, wil ‘n mens jouself toets in jou verhouding tot God. 

Hier is ‘n paar sulke vrae:

  • Hoe lyk my verhouding tot God?  Is dit ‘n liefdesverhouding? Het ek God met my hele hart, verstand en met al my kragte lief?
  • Hoe leef, dink en praat ek oor God? Gee ek aan God die eer wat God toekom? Was ek oneerbiedig oor die dinge van God? Praat ek ligsinnig of neerhalend oor die dinge van God?
  • Hoe versorg ek my verhouding met God? Bid ek? Vas ek om meer bewus te word van God se teenwoordigheid? Hou ek stiltetyd om naby aan God te wees?
  • Hoe reageer ek teenoor God as die Skepper en Gewer van alle gawes? Is ek dankbaar teenoor God en wys ek my dankbaarheid?
  • Hoe verset ek my teen dinge wat my verhouding met God skade aandoen? Is daar iets wat my van God skei?
  • Watter getuienis lewer ek van my kindskap van God? Misbruik ek die naam van God om te vloek? Het ek opgekom vir die saak van die Here toe dit nodig was?
  • Hoe getrou is ek in my lewe as kind van God? Het ek ‘n belofte in die naam van die Here verbreek?
  • Hoe ernstig is ek om van die Here se teenwoordigheid bewus te bly? Maak ek ‘n spesiale poging om die Nagmaal te gebruik? Het ek Nagmaal op ‘n onwaardige manier gebruik?
  • Soek ek God se wil vir my lewe deur in my lewe tye vir God in te ruim? Het ek die dag van die Here eerbiedig? Het ek die eredienste bygewoon?
  • Bely ek my skuld?
  • Soek ek om my geloof beter te verstaan sodat ek meer insig het in die karakter van God en in die geestelike tradisies wat God aan my geskenk het?
  • Soek ek mense op wat geestelike mede-reisigers is om saam met my in ‘n lewegewende verhouding met God te staan?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive