Tuesday, October 25, 2011

Die stryd teen die mistiek


Een van die skerpste kritici van die mistiek in modern tye was Karl Barth, een van die bekendste teoloë van die twintigste eeu. Bladsy na bladsy van sy reuse-werk, die Kerklike Dogmatiek, bevat skerp kritiek op die mistiek. Kommentatore wys daarop dat Barth so skerp skryf dat dit lyk asof hy oorlog teen die mistiek verklaar het. Hulle dink, trouens, dat Barth se hele teologie ‘n reaksie teen die mistiek was.

Barth se groot vyand was Schleiermacher, die ewe bekende teoloog van die ervaring wat in die negentiende eeu groot klem gelê het op die mens se ervaring van totale afhanklikheid van God en veral aandag gegee het aan religieuse gevoel. Hierdie vyandskap van Barth teenoor Schleiermacher en sy focus op godsdienstige ervaring was deel van Barth se groot verset teen enige vorm van natuurlike teologie.

Barth het hom verset teen enige poging om God se genadige toewending na die mens te kort te doen. God is heeltemal anders as die mens en die mens leef totaal vanuit die genade van God. God maak die mens regverdig en die mens leef uit die geregtigheid van God wat in Christus geskenk word. In sy beroemde kommentaar op Romeine beklemtoon Barth dit oor en oor. Dit is vermetel van die mens om te dink dat hy of sy op enige manier by God kan uitkom of dat die mens deur eie vrome gevoelens aansprake voor God kan maak.

Barth wil niks te doen hê nie met enige vorm van menslike geregtigheid waardeur die mens op een of ander manier ‘n greep op God wil uitoefen. Die inherente neiging van die mens om deur vroomheid sy saak by God te wil bevorder, is diep sondig en gedryf deur eie waan. Nooit kan die mens hom of haar op enige manier aanmatig om sy of haar eie pad na God oop te breek nie.

‘n Mens kan nie deur religieuse ervaring by God uitkom nie. Dit is net deur God se genade, deur die Woord dat die mens die egte lewe ontdek.

Barth was nie alleen nie.  Ander bekende persone aan die begin van die twintigste eeu het net so sterk soos hy teen die mistiek te velde getrek. Onder hulle was sulke bekendes soos Gogarten en Brunner.

Barth en sy kollega’s uit die dialektiese teologie het ‘n baie groot aandeel gehad om die mistiek ‘n hoogs negatiewe reputasie te gee. Hulle het ‘n merkwaardige invloed uitgeoefen op die modern teologie se houding teenoor die mistiek.

Die vraag is nou: wat het Barth onder mistiek verstaan? Dit word veral interessant wanneer ‘n mens daaroor dink dat Barth in sy later jare tog anders oor die mistiek begin dink het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive