Tuesday, October 04, 2011

Vet salaris, min geluk. Oor die spiritualiteit van werk (1).


Ek lees met my terugkeer van Nijmegen vandag Mertens en Blommestijn se nuwe publikasie op die gebied van maatskaplike spiritualiteit (gemeenskapspiritualiteit) waarin hulle nadink oor die spiritualiteit van werk.

Ek is onmiddellik geïnteresseerd in die boek. ‘n Mens se daaglikse werk kan inderdaad, soos hulle skryf, jou hele lewe oorheers. Dit kan jou dagprogram totaal in beslag neem.  Maar selfs wanneer ‘n mens net werk om aan die lewe te bly, is ‘n mens se werk steeds belangrik. Min mense kan eenvoudig met hul lewe aangaan sonder aandag vir hul werk. Maar hoeveel mense gaan sit en dink na oor die  geestelike implikasies hul werksituasie?  Hoeveel mense sit terug en vra vir hulleself wat hulle werk aan hulle doen en hoe hulle lewens deur hul werk geraak word?

Dit is nie noodwendig dat mense oppervlakkig lewe nie.

Oor ander dinge sal mense dikwels en gereeld groot vrae vra. Sulke dieper vrae sou 'n mens selfs kon sien as 'n teken van mense se geestelike bewussyn. Sulke dieper vrae kan dus saamhang met spiritualiteit, met ‘n lewe in geestelikheid. 

Spiritualiteit is ‘n saak wat al hoe meer aandag kry, ook in kritiese vra. Maar ‘n minderheid dink daaraan om spiritualiteit direk ook met hul eie ervaring van hul werksituasie te verbind.

Miskien sal sommige mense hieroor verras wees. Dit is dan vir hulle ongewoon om dieper vrae te vra oor hul werk.  

‘n Spiritualiteit van werk is egter nie so ‘n vreemde saak soos wat vele verbaas sou dink nie.

Kyk maar net na ons samelewing. Voorheen het ‘n mens gewerk om kos op die tafel te kry en ‘n dank oor die kop te kan bekostig. Deesdae werk ‘n mens vir ‘n salaris. Hieruit betaal ‘n mens vir die kos wat jy eet en vir jou huis, maar jy koop ook baie ander dinge. Daardeur leef ons heel anders as ons voorouers. Ons koop en besit veel meer as hulle.

En tog maak ‘n werk met ‘n salaris mense nie noodwendig gelukkig nie. In ons tyd met al sy keuses en al die nuwe lewensmoontlikhede leef mense nie meer sinvol as hul voorgeslagte nie. Dink mense ooit daaraan om hieroor dieper vrae te vra? Waarom is dit dat ons so klaerig, onvergenoegd, onnadenkend al die goeie dinge van ons tyd beleef en by ons laat verbygaan?

Mense kan tog baie vrae vra: hulle is krities oor swak produkte, hulle dink pryse van produkte is te duur of hulle voel ook dat hulle dinge koop wat nie regtig nuttig genoeg is nie. Hulle kan selfs al diepsinnige vrae stel. Mense wil nie produkte koop van firma’s wat hul werkers uitbuit nie. Of hulle stel versoekskrifte op teen maatskappy wat oneties optree. Sommige mense sou dan kan redeneer dat hulle in die werkplek omgee vir ‘n bepaalde gesonde geestelike benadering. Firma’s moet hul werkers ordentlik behandel. Mynmaatskappy moet hul arbeiders menslike lone en huisvesting aanbied. Menslikheid is dan immers ‘n gesonde geestelike waarde waaraan ‘n mens die sakewêreld kan meet. Sulke opmerkings hoor 'n mens so af en toe in gesprekke en lees 'n mens in die media.

Maar spiritualiteit is nie so ‘n vae algemene gevoel van geestelikheid wat iewers op die sakewêreld van toepassing gemaak word nie. En dit gaan ook nie bloot oor hoe ander mense of maatskappy op ‘n verantwoordelike manier besigheid doen nie.

Spiritualiteit in die werkplek gaan spesifiek om wie die mens werklik is. Dit gaan nie om die vraag of ‘n mens ‘n werk het of nie het nie. Wat tel is of ‘n mens se werk vervullend is, of iemand sy of haar werk sinvol ervaar.

Dit is 'n heel spesifieke geestelike kwessie: 'n mens sou dit selfs kon  beskryf as die vraag wat 'n mens se werk aan jou gees doen.

Die implikasies van die vraag word duidelik as 'n mens bedink wat 'n werk aan iemand se gees kan doen: Iemand wie se werk vir hom of vir haar ‘n pyn en ‘n straf is, word dikwels ‘n ongelukkige mens, ‘n gefrustreerde ouer, ‘n nukkerige eggenoot/eggenote of ‘n klaerige kind. Hulle familie ly onder mense wat by hul werk nie gelukkig is nie. En hulle word by die werk self onmoontlike kollega’s wat in slegte werksverhoudinge  vasval en met niemand klaarkom nie. Hulle kan ook maklik ‘n maatskappy tot niet maak of skade aandoen.

Omdat ‘n mens se werk jou lewe so omvattend kan beïnvloed, is dit juis ‘n verrassing dat mense so min nadink oor ‘n spiritualiteit van werk – oor die dieper geestelike aspekte van dit waarmee hulle daagliks besig is. Selfs al verdien hulle baie, al is hulle ‘n groot baas in die werksplek, al bank hulle ‘n stewige tjek elke maand en kan hulle ‘n pragtige dak oor die kop bekostig, kan mense diep ongelukkig wees omdat hulle werk vir hul sinloos is. 

Dit hoef ook nie eers so dramaties te wees nie. Baie mense is nie noodwendig ongelukkig nie. Maar hulle ervaar hulle werk as ‘n stuk gesleur, as iets wat hulle tog net verby moet kry om dan aan te gaan met hulle lewe buite die werk. 

Daarmee verloor die lewe vir mense soms sy sin en betekenis.

Binne hierdie konteks wil Blommestijn en Mertens dieper nadink oor ‘n spritualiteit van werk. Ek wil meer hieroor skryf.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive