In die vorige blog is nagedink oor hoe ‘n mens se identiteit deur jou werk bepaal word. Daardeur word duidelik hoe belangrik werk is. Dit dra by tot jou mens-wees.
Wat ander van jou as werker dink, wat jou ideale vir jou werk is en hoe jou huidige werksituasie is, is drie sake wat jou identiteit as ‘n werker vorm en wat bepaal hoe gelukkig en vervulled jy in jou werk-situasie is.
Maar daar is ‘n vierde aspek van ‘n mens se identiteit wat aandag vra. ‘n Mens het ‘n sosiale self (wat ander van jou dink), ‘n ideale self (wat jy oor jou toekoms droom) en jou werklike self (wat jy oor jouself in die hede ervaar). Dan het ‘n mens nog ‘n vierde kant – ‘n transendente self, skryf Mertens en Blommestijn.
‘n Godsdienstige mens sou hierdie “self” eenvoudig kon beskryf as dit wat God van ‘n mens dink. Dit is jou “transendente” kant.
Dit is ‘n perspektief op die self wat ‘n mens in spiritualiteit besef en ontwikkel.
Dit is ‘n besondere perspektief wat ons heeltemal te min bedink. Ek kan my voorstel dat ‘n mens hieroor belangrike preke kan maak. Dit is ook ‘n besondere tema vir gesprekke met jongmense, of mense wat in ‘n werkskrisis verkeer. Dit is ‘n perspektief wat veral deur die mistagoog ontwikkel moet word.
Daar is immer so min mense wat, sou ‘n mens selfs kan sê, op hul werk verlief is. En vir baie ure van die dag en die week, moet hulle kosbare lewenstyd verloor om te doen wat hulle nie eintlik naby aan die hart lê nie.
Kosbare lewenstyd gaan verlore en word gemors op ‘n minderwaardige lewensstyl.
Juis daarom is hierdie perspektief so belangrik: ‘n Mens moet op ‘n gelowige manier gedurig nadink oor wie ‘n mens in die oë van God is – veral ook ten opsigte van ‘n mens se daaglikse beroep en werk.
Wanneer ‘n mens hieroor nadink, staan dit nie los van die drie sake waaroor in die vorige blog geskryf is nie. ‘n Gelowige mens sal daarom gedurig nadink oor sy sosiale, ideale en werklike self. Hy of sy sal biddend bedink hoe ander mense oor sy of haar werksituasie reageer, wat ‘n mens se drome vir jou werk is en wat werklik aan die gang is.
Wanneer ‘n mens hieroor nadink, wil ‘n mens uitvind wat die waarheid oor jouself is. Die transendente self is hierop ingestel: wat is dit wat werklik ten diepste saak maak? Hoe raak my werk die diepste kante van my bestaan? Hoe kry ek ‘n beroep wat vir my ook ‘n roeping en ‘n lewensvervulling is?
Die vrae en die transendente self kan ‘n mens byvoorbeeld help om oor die volgende sake duidelikheid te kry:
1. Doen ‘n mens ‘n werk om ander tevrede te stel? Is ‘n mens aan ‘n werk vasgeketting omdat ander mense sekere dinge van jou verwag? Of wil ‘n mens deur jou werk vir ander iets oor jouself bewys? Werk ‘n mens met ‘n gevoel van minderwaardigheid? Is ‘n mens se werk ‘n manier om te “bewys” dat ‘n mens nie is wat ander mense van jou dink nie? Werk ‘n mens om ander mense tevrede te stel? Laat ons toe dat ander mense aan ons ‘n identiteit toeken? Werk ons om mense se idee’s en konstruksies van wie ons in hulle oë behoort te wees te bevestig? Word ons in ons werksituasie deur ander se verwagtinge gestuur?
Of, gesien vanuit die transendente self:
Werk ‘n mens sodat ‘n mens kan word wat jy werklik en ten diepste is? Soek ‘n mens in jou werk om die bestemming van jou lewe te vind? Is jou werk vir jou ‘n roeping waarin ‘n mens God se wil vir jou lewe die beste kan uitwerk? Is ons gedurig in ons werk op soek na wat ons hartsbegeerte vir onsself is en wat vir ons die meeste sin aan ons lewe sal gee? Werk ‘n mens omdat dit jou eg gelukkig maak?
Dit is dan ook die diepste punt van ‘n spiritualiteit van werk: dat ‘n mens bewus word van die plek van jou “transendente” self in jou werk. Dit is die self wat belangriker is as alle uiterlike dinge. ‘n Mens wat sy “verborge”, dieper, transendente self ken, is iemand wat weet geld, salaris, byvoordele, range, posisies is nie belangrik nie. Dit is iemand wat weet die materiële dinge, al die liggaamlike aspekte, bring nie daardie innerlike vervulling nie wanneer ‘n mens, soos Mertens en Blommestijn dit beskryf, “ontrou raak aan jou ware self.”
Sommige mense sal dink dit is nie regtig so belangrik nie. ‘n Mens kan met ‘n gewone werk aan die gang bly, jou salaris bank, jou gerief geniet, al is jy nou nie juis vervul nie.
Ander sal weet dat ‘n mens in jou werk werklik gelukkig kan wees. Werk kan ‘n mens egte plesier gee. Soos Mertens en Blommestijn skryf: Werk kan ‘n mens daardie vreugde gee wat ons bo onsself laat uitstyg en vir ons vleuels gee.
Daar is egter nog een kant van die saak in ‘n Spiritualiteit van werk wat om aandag vra. Hieroor nog ‘n bespreking.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.