Sunday, October 23, 2011

Voorspoed kan sleg wees. Wanneer goeie tye ‘n mens geestelik lui maak (1)


In sommige plekke word Spiritualiteit nou verbind met die soeke na geluk. “Happinez” is die naam van ‘n tydskrif in Nederland wat op spiritualiteit ingestel is.
Maar hoe goed is vreugde en geluk? Is ‘n voorspoedige lewe noodwendig ‘n goeie lewe?
‘n Gelukkige mens is nie noodwendig ‘n spirituele mens nie. Trouens, geluk kan soms soos ‘n swaard oor die geestelike weg hang, reg om die gelukkige mens skade aan te doen.
Bible Gateway stuur vanoggend die volgende Spurgeon-aanhaling op sy poslys uit: Die teks van Spurgeon kom uit Lukas 22:46 waar Jesus die dissipels roep tot waaksaamheid sodat hulle nie in versoeking  beland  nie.
Spurgeon skryf oor die gedeelte:

When is the Christian most liable to sleep? Is it not when his temporal circumstances are prosperous? Have you not found it so? When you had daily troubles to take to the throne of grace, were you not more wakeful than you are now? Easy roads make sleepy travellers.

In die gedeelte wil Spurgeon beklemtoon dat uiterlike voorspoed ‘n mens se geestelike ingesteldheid kan aantas. Wanneer voorspoed ‘n mens oorval, het ‘n mens die innerlike neiging om geestelike sake te verwaarloos. Spurgeon wys daarop hoe teenspoed, aan die ander kant, ‘n mens weer terugdryf na geestelike sake. Hiermee neem Spurgeon ‘n motief op wat deur die eeue vele mense besig gehou het. Die ou predikers was maar kwaai  hieroor: hulle het altyd, so bietjie vingerswaaiend, gewaarsku daarteen dat mense die kerk net ken as dit met hulle sleg gaan en hulle in ‘n krisis is.

Ek probeer die goeie bedoeling met hierdie vermaning begryp. Sekerlik is ons wyse voorouers nie altyd knyplippies oor godsdiens nie. Daarvoor ken ons hulle te goed. Hulle het in vele opsigte lewensvreugde gehad, humor vertroetel, sukses bewonder en lewensdrif uitgestraal. Daar is geen twyfel oor hul lewensvreugde en hul waardering vir die goeie dinge wat ‘n mens se lewe kan vul nie: Die goeie tye is daarom geniet te word.

Maar dit is ook die tye dat ‘n mens toelaat dat jy jou maklik kan laat verloor in die gewone lewensgang en al sy goeie dinge. Dit word dan tye dat die fokus op ‘n mens se voorspoed en geluk self val. 

Prediker het sy bedenkinge hieroor op sy manier verwoord: dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid. Oftewel, wanneer alles goed gaan, jy sterk is en voorspoed het, moenie die geestelike dinge vergeet nie.

Dit is selfs buite die diepste godsdienstige lewe ‘n algemene wysheid dat ‘n mens nie te oppervlakkig, te materialisties oor die lewe moet dink nie. Die goeie tye is daar om geniet te word, maar dit is ook die tyd dat ‘n mens bly weet dat ook die goeie dinge nie vir altyd daar is nie. Die lewe het altyd sy goeie en slegte kante. Daarom moet ‘n mens selfs in die goeie tye jou geestelike mondering nie verwaarloos nie. Goeie tye moet ‘n mens nie geestelik lui maak, deurdat dit ‘n mens laat dink dat die lewe gaan om goeie dinge te beleef nie. Ook in die goeie tye moet ‘n mens maar bly nadink oor die dieper, verborge dinge.

Die punt is: wat vir ons na geluk lyk, kan dikwels egte geluk in die pad staan. Dit gebeur wanneer 'n mens jou geestelik perspektief kwytraak oor uiterlike voorspoedstye. 

Maar daar is nog 'n tweede kant wat aandag vra. Môre meer daaroor.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive