Wednesday, October 26, 2011

Die oorlog teen die mistiek (2).


Dit interesseer my altyd weer hoe bepaalde vooroordele wat deur sekere publikasies en bekende figure gepropageer word, onkrities kan voortleef – soms vir dekade’s lank. ‘n Voorbeeld hiervan is die manier waarop die mistiek beoordeel word en die oppervlakkige manier waarop daaroor gepraat word.

Tussen hakies: dit is juis een van die kenmerke van Spiritualiteit dat dit die integriteit van die ander ten alle koste wil beskerm. En, weet 'n mens, vooroordele teen ander is nie altyd 'n teken van respek vir hul integriteit nie. Des te meer wanneer hierdie vooroordele onreg pleeg teenoor ander en hul standpunte verdraai. 

Karl Barth, het ons gister bedink, was saam met sommige van sy kollega’s en as invloedryke, veel-gelese denkers van die twintigste eeu, verder verantwoordelik vir die slegte reputasie wat die begrip “mistiek” veral sedert die Verligting in die moderne tyd gekry het. 

Barth se oorlog teen die mistiek is gerig teen wat algemeen beskryf word as “wesensmistiek”. Dit is die mistiek, word gesê, waarin die mens in God opgaan, die grense tussen God en mens opgehef word en die mens vergoddelik word.

Die implikasie van die opmerkings van Barth, en saam met hom, van baie ander skrywers, is dat die mistiek daarop ingestel is om die onderskeid tussen God en mens op te hef. Die mistiek as die eenwording met God beteken dan dat die mens se identiteit verdwyn en dat die identiteit van die mens opgaan in of dat die mens deel kry aan die wese van God. Dit is dan wat “wesensmistiek” sou beteken.

Barth het herhaaldelik – tot vervelens toe, eintlik – verduidelik dat hy hom oor hierdie rede totaal verset teen die wesensmistiek. Kyk maar wat skryf hy in sy Kerklike Dogmatiek hieroor. Dit is belangrik om sy siening te volg omdat hy, as “ortodokse” teoloog wye invloed gehad het, ook op teoloë in ons land.

Barth is skerp genoeg om te besef dat die verhouding tussen God en mens eintlik ‘n mistieke karakter het. Daarom skryf hy oor die probleem van die mistiek wanneer hy praat oor die gemeenskap wat Christene met Christus het. Die gemeenskap van God met die mens het te doen met die gelowige as disippel wat aan Christus “behoort” en in wie die Heilige Gees kragtig aan die werk is.

Barth skryf hieroor in sterk taal. Hy merk byvoorbeeld op dat die gelaaide woord van “gemeenskap” inderdaad vertel van die intieme en intense verhouding tussen Christus en gelowiges (sy formulering).
Maar tog, verklaar hy dadelik, is daar geen kwessie dat hierdie gemeenskap ooit beteken dat ‘n gelowige die identiteit van Christus aanneem nie. Barth skryf: “… there can be no question of an identification of the follower with his preceding leader (d.i. Christus), the possession with its owner, or the life of the one awakened by the Holy Spirit with the One who gives him this Spirit.”

Dit is duidelik dus: hoewel daar ‘n intieme, nou, intense verhouding met Christus bestaan, is die mens altyd weer mens en kan ‘n mens Christus-gelykvormigheid nie in terme van ‘n verlies aan menslike identiteit verstaan nie. Vir Barth beteken enige vorm van identifisering van God en mens dat God eintlik vermenslik word. God, die oneindige, die totaal andere, word dan opgevang en meegedeel in die eindige, die immanente. Ons kan nie God domestiseer nie, vasvang in ons menslike kategorieë, gelykstel met menslike ervaring, opwinding, ekstase, verinnerliking nie.

'n Mens kan Barth hiering volg, hom goedkeurend beaam en graag met hom saamstem. 

Wat Barth dus kwaad gemaak het, was dat hy gedink het dat Schleiermacher as “liberale” teoloog die Reformasie verloën het, meer nog: dat hy die Christendom wesenlik aangetas het deur te maak asof hy oor God praat terwyl hy eintlik maar op ‘n verhewe manier oor die mens gepraat het. Schleiermacher, het Barth telkens beweer, het die Woord van God met die woord van die mens vervang. Hy sou ‘n antropologie, die studie van die mens aanbied in plaas van ‘n boodskap oor Christus. Die “Woord van God” het dus, volgens Barth, eenvoudig uit Schleiermacher se denke verdwyn.

Hierdie kort bespreking wys op die een oorheersende beswaar van Barth teen die mistiek en die intense manier waarop hy dit met sy groot vyand, Schleiermacher, verbind het.

Die vraag is net: is dit wat mistiek beteken? Gaan mistiek oor die vergoddeliking van die mens en die vermensliking van God? Is dit wat Schleiermacher wil doen? Is die mistiek werklik so oppervlakkig om op 'n naiewe manier die grense tussen God en mens uit te wis?

Maar dan : wat doen ‘n mens wanneer verskeie navorsers uitwys hoe Barth Schleiermacher sleg gelees het, uit verband aangehaal het en sy belangrike Reformatoriese fokus op Woordverkondiging misgekyk het (Lees hieroor die publikasie van Dawn Devries oor Jesus Christ in the preaching of Calvin and Schleiermacher.)  Hoe rym dit dan  Schleiermacher, die Gereformeerde predikant, die verkondiging van die Woord so uitgebreid voorgestaan het terwyl hy wou nadink oor die belangrike aspek van geloofservaring?

Het Schleiermacher nie probeer nadink oor wesenlike aspekte van die geloofslewe waaroor Barth meer moes geskryf het nie? Ek sou graag op 'n ander keer meer oor Schleiermacher wou nadink. Maar, sonder om veel te karring oor Barth se verstaan van Schleiermacher, kan ‘n mens net Barth self lees om agter te kom dat hy sy byltjie met Schleiermacher nie altyd baie skerp geslyp het nie.  Barth se oorlog teen die mistiek neem naamlik in sy eie werke later ‘n wending wanneer hy self dieper nadink oor geloofservaring. Later meer hieroor.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive