Maar werk het ook ‘n nie-liggaamlike kant. ‘n Werk kan ‘n mens sielkundig vorm. Ook hierdie kant word soms nie hoog genoeg geag nie, veral nie as mense elke dag deur hulle werk worstel net om ‘n salaris te bank nie.
‘n Werk kan ‘n belangrike bydrae lewer tot iemand se welsyn en gevoel van tevredenheid. ‘n Mens kan ‘n ontspanne, rustige en vervulde persoon word wanneer hy of sy werksbevrediging kry.
Meer nog: ‘n Mens se werk kan selfs bepaal hoe jy oor jouself dink. Dit kan so belangrik word dat dit help om jou identiteit te vorm en bydrae hoe jy oor jouself as mens dink. ‘n werk dra immers ook by tot hoe jy en ander mense oor jou mens-wees voel en dink.
Mertens en Blommestijn skryf dat mense se werk aan hulle ‘n bepaalde rol in hul omgewing en gemeenskap toeken. Mense wil nie sommer net geïgnoreer of misken word nie. Op grond van jou werk geniet ‘n mens ‘n sekere posisie. Iemand wat byvoorbeeld sien dat hulle deur hul werk ‘n bepaalde diens lewer, word gereken en raakgesien. Hulle werk het dan betekenis en omdat dit betekenis het, waardeer ander wat hulle elke dag doen. Dan dink ander mense dat hy of sy ‘n bydrae lewer tot sy of haar omgewing. Daardeur voel ‘n mens gewaardeer.
Iemand wat deur sy of haar werk ‘n gesonde identiteit ontwikkel en voel of hulle ‘n bydrae aan ander lewer, ervaar ‘n gevoel van verbondenheid met ander. Aan die een kant raak dit hulle self: Hulle voel goed, is gelukkig in hul omgewing, hou van wat hulle doen en is tuis in hul eie velle. Hulle is volwasse, geestelik-gesonde mense, want hulle kan sien dat hulle gerespekteer word en dat daar vir hulle ook ‘n plek in die son is.
Maar aan die ander kant voel hulle ook goed teenoor ander mense omdat hulle kan sien dat ander positief reageer op wat hulle doen. ‘n Mens se werkstevredenheid kan dus van jou iemand maak wat graag gesonde menseverhoudinge bou.
Dit alles beteken nou nie dat ‘n mens se identiteit van jou werk afhang nie. Terwyl ‘n mens weet dat werk van jou ‘n nog beter mens kan maak wat volwasse is en wat omgee vir ander, besef ‘n mens ook dat dit nie die werk is wat tel nie. Wat tel is dat ‘n mens ‘n dieper ingesteldheid het op alles wat jy doen. Jy is so mens genoeg dat jy jou werk met ‘n goeie, geestelike houding benader.
Hierdie dieper ingesteldheid help ‘n mens ook om gedurigdeur die regte houding teenoor werk in te neem. Terwyl werk belangrik is, is dit nie alles nie. Daarom sal ‘n mens nie toelaat dat jou werk jou lewe bepaal nie. Dit is juis andersom. ‘n Mens se lewensingesteldheid bepaal jou werk. Daarom is ‘n mens gedurig daarop ingestel om vreugde uit werk te put. ‘n Mens weet jou werk mag nie vir jou ‘n onuitstaanbare las word waardeur jy geestelik tot niet gaan nie. Gedurigdeur soek ‘n mens daarna, ook in moeilike tye by die werk, om dit so te kan doen dat jy gelukkig bly. Dit is immers nie jou werk wat jou gelukkig maak nie, maar dit is jy wat jou werk ‘n plesier laat word.
Dit bring ‘n mens by die godsdienstige, spiritualiteitskant uit. Die sielkundige kant van ‘n werk het godsdienstige, geestelike dimensies. Die heel belangrikste uitgangspunt, skryf Mertens en Blommestijn, is dat ‘n mens in jou lewe word wat God wil hê ‘n mens moet wees. Of, soos dit deur sommige gesê word, dat ‘n mens jou skeppingsbedoeling bereik.
‘n Mens se godsdienstige siening van werk kom na vore wanneer ‘n mens van jou werk kan sê dat dit van jou ‘n beter mens maak wat op pad is om te word wat God vir jou voorsien het. Dan sien ‘n mens, skryf Mertens en Blommestijn, jou werk as ‘n roeping. ‘n Mens sit hart en siel in jou daaglikse arbeid omdat jy daarin ‘n kans kry om God se wil vir jou lewe te soek. Dan ervaar ‘n mens dat jou werk jou vry maak. Dit bied die geleentheid waardeur ‘n mens kom tot jou volle mens-wees. Dan is ‘n mens se hart in jou werk.
Dit alles klink eintlik surrealisties wanneer ‘n mens hoor hoe baie mense hul werksituasie beleef. En tog - dit is hoe gelowige mense oor hul werk kan dink, veral vanuit hul skeppingsgeloof.
Dink net wat sal gebeur as bestuurders en base begin besef dat hulle aan mense die kans bied om hulle volle mens-wees te kan bereik. Sulke besigheidsleiers kan in hul werk hul eie godsdienstige roeping raaksien en uitleef deur 'n besigheidsomgewing te skep waarin hul werknemers tot sterker, volwasser mense kan groei. Hierdie leiers en bestuurders moet dan eenvoudig net daarop ingestel wees om vir mense wat vir hulle werk die kans te gee om volwaardige mens te word.
En dink net wat sal gebeur wanneer mense begin insien dat hulle werk 'n kans vir hulle bied om hul mens-wees verder te leer ken en ontwikkel. Dit is hierdie heel basiese insig dat 'n mens se werk 'n geestelike uitdaging bied, wat 'n hele samelewing kan omkeer en wat gelukkiger mense sal kweek.
Uiteindelik nog 'n gedagte: waarom hoor 'n mens van godsdienstige leiers nie meer preke/leiding oor 'n spiritualiteit van werk nie?

No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.