Sunday, October 09, 2011

Wanneer 'n mens se werksvreugde ander se vreugde word. Oor Spiritualiteit van werk (6).


In die vorige blog het ek nagedink hoe ‘n mens regtig in jou werk gelukkig kan wees. Dit is wanneer ‘n mens in jou werk regkry om te word wat God van ‘n mens dink en verwag, wanneer jou beroep wat vir jou ook ‘n roeping en ‘n lewensvervulling is. Ons het gesien hoedat ‘n mens oor jou werk moet dink vanuit jou transendente self: hoe ‘n mens in jou werk word wat jy weet jy graag wil wees en wat jou hartewens vir jou lewe is. As dit gebeur, kan ‘n mens ware geluk in jou werk vind. Dit, weer, kan jou daardie vreugde gee wat jou bo jouself laat uitstyg en vir jou vleuels gee.

‘n Mens moet egter onthou dat jou werk nie net om jouself gaan nie, hoe belangrik dit ook al is. ‘n Mens beïnvloed deur jou werk ook die lewens van ander mense en die omgewing waarin jy leef.

Daarom is dit belangrik dat ‘n mens gedurig jou eie werksvervulling met ander deel. Dit beteken onder andere dat ‘n mens ingestel moet wees daarop om ook ander mense te ondersteun om vreugde en vervulling in hul lewens te vind. Of ‘n mens moet daarop ingestel wees om dit waarmee jy werk op die beste manier te doen. Ander mense moet van jou in jou werk net die beste kwaliteit produk ontvang. As ‘n mens ‘n onderwyser is, moet leerders van jou ‘n opleiding kry wat hulle lewens sal verryk. As ‘n mens meubels verkoop, moet dit die beste kwaliteit produkte wees. As ‘n mens ‘n regspersoon is, moet ‘n mens vir jou kliënte help dat reg en geregtigheid ten alle koste geskied. As ‘n mens ‘n pastor is, is die uitdaging om so ‘n geestelike leier te wees dat dit in ooreenstemming sal wees met wat God van ‘n mens verwag.

Wat ons in ons werk is, raak ander mense daarom ten nouste. Daarom is ‘n spritualiteit van werk gedurig daarop ingestel om ‘n Spiritualiteit van werk te ontwikkel wat interpersoonlik van aard is, skryf Mertens en Blommestijn. As ‘n mens ‘n gelukkige werker is, sal dit vreugde in ander mense se lewens indra.

Dit raak ‘n nog dieper dimensie: ons werksvreugde is nie self-sugtig nie. Wanneer ‘n mens gelukkig is in jou werk en beroep, wanneer jou werk pas by jou diepste mens-wees, sal dit nie gerig wees op jouself nie, maar op ander.

Trouens, hoe meer ‘n mens se werk tot voordeel van ander is, hoe meer sal ‘n mens innerlik groei en tevrede wees in jou werk.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive