Tuesday, November 01, 2011

Dankbaarheid


Meister Eckhart het op sy manier besef hoe sentraal dankbaarheid in die geestelike lewe van ‘n pelgrim is. Hy skryf:

“As “dankie” die enigste gebed is wat jy ooit in jou lewe gebid het, sal dit genoeg wees.”
Maar in die sleur van ons daaglikse bestaan kry dankbaarheid nie ‘n prominente plek nie. Trouens, ons leef in ‘n omgewing van onvergenoegdheid.

In die lig van ons lewens vol surigheid en onbehae, staan ‘n mens verbaas oor Meister Eckhart se opmerking. Dit ken aan dankbaarheid ‘n baie spesiale plek in die geestelike reis toe. 

Sy opmerking bring ‘n mens tot stilstand en laat ‘n mens na binne kyk oor iets belangriks wat in ‘n mens se lewe ontbreek.

Dit is tog iets as een van die grootste mistici van alle tye soveel klem op dankbaarheid plaas.  En, intuitief, weet ‘n mens hy is reg: om dankbaar te wees is ‘n teken van innerlike vervulling. ‘n Dankbare mens is ‘n gelukkige mens.

Dankbaarheid is ‘n deug wat ‘n mens kan soek. Dit is iets waarvoor ‘n mens in jou innerlike 'n ruimte kan soek en inruim.

Hoe kweek ‘n mens ‘n gesindheid van dankbaarheid?

Ek lees iewers vandag ‘n blog van iemand wat skryf dat hy ‘n sekere tyd van die jaar daarvan ‘n punt maak om ‘n lys op te stel van alles wat hy ontvang het en wat hom dankbaar maak.

Dit het nou al by hom ‘n ritueel geword, skryf hy. En dit is vir hom opvallend hoe dit sy lewe beïnvloed. Dit is asof hy met meer fokus op God leef, want hy begryp al hoe meer hoe sy dankbaarheid bepaal word deur die goeie dinge wat aan hom geskenk word sonder dat hy regtig daarop aanspraak kan maak.

Tog wonder ek: is dankbaarheid iets wat ons ervaar bloot net as ons goeie dinge ontvang? ‘n Mens kan, soos iemand skryf, soms dankbaar wees selfs oor gebede wat God nie verhoor het nie. Of jy kan dankbaar wees vir dinge wat jou nie beskore was nie. Dikwels hoor ‘n mens van persone wat dankbaar is oor teenspoed van hulle beter mense gemaak het. Wat tel dus is ook dat ons dankbaarheid ervaar oor alle dinge wat ons kan beleef en ons lewens vol maak – goed en sleg.

Juis daarom dat ‘n mens ‘n ritueel kan soek om die gevoel van dankbaarheid in ‘n mens se lewe wakker te hou.

Eintlik dus: dankbaarheid soek ‘n mens ter wille van dankbaarheid. Daarom kom daar tye in ‘n mens se lewe dat ‘n mens doodeenvoudig daarop fokus om dankie te sê. Asof dit ‘n Jesus-gebed is – ‘n gebed waarin ‘n mens oor en oor die woord “dankie” herhaal.

Deur so ‘n ritueel van dankbetuiging kan ‘n mens se lewe getransformeer word. ‘n Mens se lewe lyk immers op jou gebede. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive