By die konferensie hier in San Francisco, word ‘n voor-vertoning van ‘n nuwe film oor die steeds beroemder wordende Simone Weil gewys.
Simone Weil se boek, Waiting for God, met haar briewe, is uitdagende leesstof. In vele opsigte was sy, afkomstig uit ‘n begaafde gesin, ‘n hoogs onkonvensionele mens. Terwyl ek die boek die afgelope tyd gelees het, val dit my op hoe versigtig en deeglik sy nadink oor wat werklik die sin van die lewe is.
Ek is dus baie nuuskierig om die film by te woon, want dit is ‘n gelukkige meevaller vir my dat dit hier wys– juis terwyl ek dikwels aan die nadink is oor die lewe van hierdie vrou wat maar erg sieklik was en baie lyding geken het.
Die film self is nie net oor Weil nie, maar vertel die storie van die filmmaker wat probeer om al hoe meer van Weil te wete te kom en te verstaan. Die filmmaker se eie lewensverhaal met die dood van haar pa en broer, word die spil waarom Weil se lewensverhaal gedraai word. Ek is eers bietjie jammer hieroor. Maar ook oor die intervensie van die interpreteerder kry ek later meer gemoedsrus: duideik is die filmmaker iemand wat in Weil ook ‘n stuk onpeibaarheid raaksien, maar wat ook wil vra wat doen daardie onpeilbaarheid aan ons, die nuwe geslag, wat oor Weil se lewe moet nadink en ons eie lewe in die lig daarvan moet bekyk. Dit is die filmmaker se manier om te wys dat Weil ‘n spesiale lewe gehad het.
Tog is daar heelwat inligting oor Weil wat die film vir my ‘n kykervaring maak. Die plekke waar sy in New York (saam met haar ouers) en in Parys gewoon het, gesprekke met horingou tannies wat haar goed geken het en foto’s van haar bied goeie perspektiewe. Daar is nie veel bespreking van die inhoud van haar werke nie, maar haar lewenspraktyk kom sterk na vore. Die fabrieke waar sy gewerk het, beelde oor werkers se optogte en flitse oor die omstandighede in Europa gee ‘n mens die gevoel van Weil se lewe.
Daar word gewys hoe sy haar met die ellende van die gewone werker vereenselwig het deurdat sy, die hoogs intellektuele vrou, self in ‘n fabriek as ‘n gewone werker gaan werk het. Niemand kan die ander een verstaan as ‘n mens nie die ander een se situasie beleef nie, bekemtoon Weil as die rede vir hierdie optrede.
Die film kom daarom herhaaldelik terug op ‘n sin wat Weil geskryf het: Om aandag te gee is die hoogste vorm van ontferming. En dit beteken prakties dat ‘n mens aan ander aandag gee, deur jouself in hulle posisie te plaas. Ek het al hieroor in ‘n vorige blog oor Simone Weil geskryf – die sakramentele waarde wat sy heg aan die verhouding van ontferming wat ‘n mens met die naaste het.
De film bied dus by tye boeiende kykstof. Simone Weil se bestaan was ingestel op mense, veral mense in nood. Om om te gee, aandag te skenk aan hulle, is om God se wil vir ‘n mens se lewe te gehoorsaam. Versigtig het sy oor Jesus se woorde in Matteus dat wie aan die hongeriges voed, Hom voed, nagedink. Op ‘n mistieke manier beklemtoon sy dat iemand wat vir ander omgee, eintik Christus is. En wanneer ‘n mens aan ander gee, gee ‘n mens aan Christus.
Hoe ver kan ‘n mens in jou “aandag” vir ander gaan? Ek sit en kyk hoe die film vertel dat Simone Weil in Engeland, in die tweede wêreldoorlog, voorgestel het dat verpleegsters na die oorlogsfront moet gaan en dat hulle op die slagveld as noodhulpspanne uitgestuur moet word waar hulle die soldate wat gewond word kan gaan help. En dit terwyl die bomme om hulle val. En sy wil as eerste self aanmeld vir hierdie lewensgevaarlike werk van omgee.
Waansin, masogisme, misplaasde heroïek? In die besprekingstyd wil iemand weet of Simone Weil nie dalk bietjie ongebalanseerd was nie. Sy het immers geweier om meer kos tee eet as wat gewone, arm werkers elke dag kon bekostig. Sy is ook weens haar uitgeteerde liggaamlike kondisie kort nadat sy die voorstel gemaak het om op die oorlogsfront te gaan werk, as ‘n 34 jarige vrou dood.
Ek luister na die vraag en, soos die dae aanloop, roep dit in my verset op. Weil ‘n ongebalanseerde egoïs?
Hoe antwoord ‘n mens hierop - want so ‘n vraag verdien ook ‘n antwoord? Waarom word Weil al hoe meer gelees deur mense wat intuïtief weet sy leef outentiek? Uiteraard oor baie redes. Sy het die mistiek in die daaglikse lewe ingetrek. Drie keer het sy mistieke ervarings gehad. Sy het later elke dag die Onse Vader in Grieks opgesê en vertel hoedat die opsê daarvan vir haar elke keer spesiale betekenis gehad het.
Maar hierdie 34 jarige vrou, wat die hoogste vorm van ontferming uitgeleef het in haar aandag vir die onbelangrikes en die ongeagtes, het die geheim van die Evangelie begryp: om Christovorm te leef. Soos Christus, as Christus en vir Christus.
Een van die spesiale oomblikke by die konferensie was toe ek in die film luister na Weil se begeerte om oorlogsfront toe te gaan. En op die doek flits daar tonele van sterwende soldate wat in die oorlog geneem is.
Onvergeetlik bly een toneel: ‘n priester wat in ‘n modderpoel by die swaargewonde liggaam van ‘n soldaat kniel: sy hande is voor hom gehou terwyl hy vir die sterwende man bid. Rondom hulle kring die oewerlose geweld van oorlog, van ellende, van lyding, van ons agterdogtige vrae, van ons onbegrip en van ons onbetrokkendheid oor die eeue uit.
Simone Weil is nie die eerste dertigjarige wat, betowerd deur die liefde en deur die teenwoordigheid van God, haar so met die lyding van die wêreld vereenselwig het dat dit haar dood gekos het nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.