By ons Spirasa-byeenkoms op 4 November 2011 by Unisa in Pretoria praat ons oor gebed as ‘n spirituele praktyk.
Daar is onder die deelnemers aan die byeenkoms mense vanuit die hele Christelike spektrum van geloofsgroepe.
Trouens, sit en dink ek, ons vergadering is waarskynlik een van die rare plekke in ons land waar mense uit soveel uiteenlopende tradisies bymekaar kom, met mekaar gesprekke voer en almal alleen maar fokus op gebed as tema.
Dit is ‘n sprekende voorbeeld van spiritualiteit: die dogmatiese kwessies, die verdelende strydgesprekke van die verlede ontbreek heeltemal. Hier kom mense bymekaar omdat hulle oor gebed wil nadink. Daar is ‘n spontane fokus op die dieper dinge in ‘n ontspanne atmosfeer van wedersydse ervaring en erkenning.
Ons ander forte is dat ons een van die bekendste skrywers oor gebed vanuit akademiese kringe as spreker het. Sy boek, Wat doen ons wanneer ons bid?, raak aan die moeilikste kwessies oor gebed. En hy skryf daaroor op ‘n helder, fyn manier. Ek het Brummer se boek waardevol gevind en sien met groot verwagting uit na die dag se besprekings. Ek word nie teleurgestel nie. Weer eens beïndruk hy my met die wysheid van sy insigte.
Maar: terwyl ons die eerste deel van die dag fokus op die groot teoretiese aspekte van gebed, gaan ons in die tweede deel van die dag oor na praktiese aspekte. So is dit beplan en so verloop dit presies: Ses mense praat oor die waarde wat gebed vir hulle in hul lewens het. Dit is mense wat al ‘n lang pad met gebed geloop het. In kort mededelings van 15 minute elk, vloei ‘n ryke verskeidenheid van insigte uit hul aanbiedings. Dit is egte spiritualiteit: vertellings oor hoe mense hul geloof in die praktyk, in die lewe, beleef. Hulle vertel van hul reis in en met gebed.
‘n Paar dinge bly aan die einde van die dag by my: Een van die sprekers vertel hoedat sy begin belangstel het in gebed en naderhand begin het om kursusse aan te bied waardeur mense ingelei word in die ryke gebedstradisies wat deur die eeue na vore gekom het. Toe hulle die kursus begin aanbied het, het hulle gehoop hulle sal darem ‘n goeie reaksie kry. Tot hul groot verbasing kon hulle skaars bybly met die groot toeloop van mense wat meer oor gebed wou weet.
Mense het, sê sy, die behoefte om met God te praat, maar weet nie altyd hoe om dit te doen nie. Hulle kursusse word goed bygewoon. En telkens staan mense verstom oor hoeveel gebede daar is en hoe ryk die gebedstradisie is.
Tydens die bespreking worstel ons met die vraag: wat het gebeur dat die lewe in gebed so verarm geraak het?
En dan dink ons mense is nie eintlik meer godsdienstig nie. Hierdie vrou, uit die hart van die praktyk, weet van anders. Jaar in, jaar uit, bied sy oor die hele land vir mense die kans om dieper ingelei te word in die spirituele praktyk van gebed. En die reaksie is verstommend.
Tog is dit net die een kant: Tydens die geleentheid kom een van die meer “nugtere” kollega’s na my. Sy is iemand wat teologies baie sterk is. Soos vele van ons, weet sy baie van gebed. Baie. En ook van die teologie. Ure lank kan sy oor die Bybel en oor God en oor allerhande teologiese dinge praat.
Maar sê sy, deur die gesprekke van die dag het sy begin besef dat sy eintlik lus raak om weer te begin bid.
Die opmerking laat my vir ‘n oomblik terugstaan. Let op: die “begin.”
Ek herken daarin die ander kant van ons godsdienstige konteks: naas die baie mense wat verlang om met God te praat in gebed, is daar ook onder ons vele mense wat die waarde van gebed toegee en sekerlik van tyd tot tyd hul gebedjies doen, maar wat eintlik nie meer gebed as ‘n spirituele praktyk koester nie.
Ons het biddeloos geword. Gebed is nie meer ‘n spirituele praktyk nie. Ons houding teenoor gebed is argeologies: ons spit dit van tyd tot tyd uit en bekyk dit analities. Of ons het arm in gebed geword: ons veg groot bakleiery oor die vraag of gebed "help" wanneer ons dink gebed is om antwoord op versoeke aan God te kry.
Ek hoor wat my kollega in haar stil opmerking vir my sê: Al ons teoretiese kennis, al ons goeie gedagtes, alles wat ons so mildelik aan verstandelike insigte besit en deel, beteken nog glad nie dat gebed deel is van ons lewe nie.
Nodig is spiritualiteit, wat ‘n mens bewus maak van geloofsverarming: die toeëiening van geloof, die belewing van alles wat ons oor God dink en praat – dit is waarom die geestelike reis gaan. En nodig is byeenkomste soos hierdie waar teorie met praktyk verbind word.
Dit kan selfs tot beskaming van die teorie gebeur dat die praktyk mense nader aan God bring.
Ek besef ook, uiteindelik, hoe belangrik ‘n geloofsgemeenskap is. Dit is wanneer mense gelowig bymekaar is dat ‘n mens oor mekaar se ervarings nadink op so ‘n manier dat dit jou lewe skuif en transformeer. Veral wanneer mense niks het om te bewys nie, maar bloot net wil vertel hoe ryk hul is aan die tradisionele spirituele praktyke, kan dit gebeur dat hulle ander aanraak en dat die ander verdiep word in hul geestelike reis. Dit is ‘n tragedie dat seksionele denke ons van mekaar verwyder het en ons geestelike reis arm gemaak het.
Daar by Unisa, op ‘n Vrydagoggend, terwyl die jaar einde se kant toe begin koers inslaan, het die Spiritualiteit van gebed ‘n paar mense se lewens nuwe koers laat kry. Uit verskillende kerklike tradisies, sommige waarvan vir eeue in hatige vyandskap met mekaar gestaan het, het mense se gepraat oor hoe belangrik gebed vir hulle is, op een of ander manier tog dinge verander.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.