Sunday, November 20, 2011

Feilbaar

Ek het al De Lubac gelees en veel van hom gehoor. Hy was een van die belangrike kenners van die geskiedenis van spiritualiteit, maar ook, later, as kardinaal iemand wat in die kerk ‘n spesiale rol gespeel het. Bewondering het vele mense vir hierdie dinamiese skrywer.

Vandag woon ek hier by die konferensie van die SBL/AAR die sessie by waarin die werk van De Lubac se bekendste leerling, Michel de Certeau bespreek word – as herdenking van De Certeau se dood 25 jaar gelede.

De Certeau het feitlik ‘n kultus-figuur vir vele geword. By die byeenkoms vertel iemand my dat hy spesiaal Frans geleer het om De Certeau in die oorspronklike taal te kon lees.

De Certeau was, soos sy leermeester, ‘n formidabele kenner van die geskiedenis van spiritualiteit.

Maar anders as sy leermeester, het hy die geskiedenis met meer negatiwiteit beoordeel. 

De Lubac het steeds weer vertel hoedat daar ‘n goue, kontinue draad deur al die historiese fases te merk is. Steeds weer herken ‘n mens in al die fases sekere Christelike trekke.

Met verloop van tyd het De Certeau anders as sy leermeester, begin beklemtoon dat die geskiedenis van spiritualiteit gekenmerk word deur andersheid en fragmentasie. In elke fase probeer mense oor die mistieke te dink in terme van hul tyd. Hierdie fases verskil drasties van mekaar. Daar is geen goud draad wat deur die geskiedenis loop nie. Ons kan maar net terugkyk oor hoe vorige geslagte probeer het om sin aan hul lewens te vind. Ons kan nostaliges daaroor nadink, maar ons kan nie daaruit vir ons eie tyd leer nie.

De Lubac, die groot kenner van spiritualiteit, het nie hiervan gehou nie. Hy het sy leerling kwalik geneem en hom begin vermy. De Certeau moes agterkom van ander mense dat sy leermeester hom erg kritiseer oor sy standpunte.

De Certeau het verskeie kere probeer om met De Lubac te praat. Hy skryf aan hom dat hy hoor van kennisse dat De Lubac hom kritiseer.  Hy verseker sy leermeester dat hy groot bewondering vir hom het. Hy het van De Lubac veel geleer, beklemtoon hy, en sou graag van hom self wou hoor wat hy dan gefouteer het sodat hy nog verder van hom kan leer.

Die verhouding tussen hierdie twee groot kenners van spiritualiteit en van hierdie twee wat so naby aan mekaar was, het versuur.

De Certeau het op ‘n stadium vir De Lubac gebel om weer die bande op te tel. Die foon het volgens sy biograaf gelui en gelui. Later het De Certeau maar neergesit. De Lubac, wat nie dadelik die foon kon antwoord nie, het oomblikke nadat De Certeau die foon neergesit het, die gehoorstuk opgetel. Die gesprek tussen hulle het nie plaasgevind nie.

Kort daarna is De Certeau dood.

Twee groot kenners van die geskiedenis van spiritualiteit. Mense wat nagedink het oor hoe vroomheid en toewyding deur die eeu heen uitgeleef is. Mense wat nou verbonde was aan al die groot leermeesters in die geskiedenis.

Feilbare mense, al was hul deurdrenk met kennis van spiritualiteit.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive