Weg van die gedruis in die oop ruimte.....
Ons dolle gejaag laat die behoefte aan ‘n stressvrye bestaan net sterker word. Vandaar die ontvlugting oor ‘n naweek na ‘n stil plekkie waar ‘n mens “kan wegkom van alles,” die vakansie aan die einde van die jaar, die verlekkering in die tuiskoms na die lang werksdag.
Dit gebeur ook in godsdiens en in die kerk. In die kerk afsonderingsgeleenthede ook baie gewild. Maar meditasie kom ook, insiggewend genoeg, sterk na vore: die Boeddhisme bied aan vele belaste en gejaagde mense die oplossing vir hulle oorlaaide en frenetiese lewensstyl.
Die boodskap waaraan hulle vashou, is eenvoudig: ‘n Mens kan in die Boeddhistiese tradisie volmaakte vrede bereik en aan al die ellende in die wêreld ontvlug deur allerhande meditasie tegnieke. Een hiervan is om ‘n mantra te herhaal, maar met diepe konsentrasie en fokus.
In ‘n Christelike konteks word hierdie Boeddhistiese tradisie dikwels oorgeneem. Mense sou dus byvoorbeeld die Jesus-gebed (Kyrie Eleison) as ‘n soort mantra beskou.
Hoewel dit alles eenvoudig klink, is die tradisie waaruit mantra’s kom, baie kompleks. In die massiewe materiaal oor die Boeddhisme is die materiaal byna onoorsigtelik. Die Boeddhisme het immers in groot lande soos China en Indië, asook in ou tradisies soos Japan en Tibet baie vorme aangeneem en in vele tale voorgekom. Trouens, daar is groot dispute oor wat dan nou “eg” Boeddhisties is. Saam daarmee is daar dus vele mantra’s, terwyl daar allerhande dispute is oor of en hoe van hulle gebruik moet word. Daar is byvoorbeeld ‘n magdom van mantra’s wat volgens sommige kenners boonop op ‘n sekere toonhoogte voorgedra moet word en waarvan die woorde op ‘n spesifieke manier uitgespreek word.
In die handel merk ‘n mens spoedig op dat daar baie CD’s is waarop Boeddhistiese dreunsange opgeneem is.
‘n Mantra is ‘n kort formule wat ‘n mens oor en oor herhaal – dit kan in verskeie van die tale waarin hulle ontstaan het, gedoen word. Die opsê van mantra’s word deur baie mense in Westerse lande in ‘n vertaling gedoen, omdat hulle aanvaar dat die oorspronklike taal nie noodwendig magiese krag het nie. Maar hieroor bestaan daar verskil van menings omdat dit lyk of daar wel ‘n paar mense is wat dink daar is iets magies in die opsê van die oorspronklike woorde. Ander weer, reken dat die krag van ‘n mantra is te vind in die toewyding waarmee dit uitgespreek word: dit is so effektief soos die konsentrasie wat ‘n mens daarin sit. Die implikasie is duidelik: sommige mense wil mantra’s op ‘n verligte manier as ‘n middel sien om innerlike gemoedsrus en vrede te vind. Ander, weer, sien in mantra’s ‘n eksotiese, spesiale manier om met ‘n goddelike gees verenig te word en so aan die uiterlike, materiële dinge te ontvlug.
Daar is baie mantras in Boeddhisme: van die bekendste “Om Ah Hum, Jetsun Guru Padma Siddhi Hum” wat sommige mense 21 keer sê met die doel om ‘n mens te reinig van negatiewe gedagtes. Ook gewild is “Om mani Padme Hum” wat ‘n mens onder andere bevry van lyding onder arrogante emosies, van jaloesie, van begeertes, van gierigheid en van aggressie. Die mantra vir vrede is “Om Santih, Santih, Santih.” Die mantra, “Om Tare, Tuttare, Ture Svaha” word gebruik om ‘n mens tot ontferming en meegevoel te inspireer, terwyl die mantra “Vajrapani Hum” moed gee. Daar is selfs ‘n sogenaamde “groen” mantra wat ‘n mens vir diere gebruik. Dit behels dat ‘n mens dit opsê by dierevleis wat in besighede verkoop word en wat deur slagting doodgemaak is. Die mantra beteken ongeveer iets soos: “Mag hulle wat siek is, gou van hul siekte bevry word. En mag die siekte nooit weer toeslaan nie.”
Sommige mense vertel dat hulle lewens fundamenteel verander word wanneer hulle mantra’s opsê. Hulle ontvang genesing, hulle finansiële probleme word opgelos of kry uitkoms uit ‘n krisis. Ander weer beweer dat sulke sieninge van mantra’s niks anders as bygelowigheid is nie.
Die bestudering van die Boeddhisme en dus ook van mantra’s is deesdae ‘n hoogs gesofistikeerde dissipline. Belangrike denkers uit die Weste is op die snykant van hierdie navorsing. In hierdie dissipline word daar ook diep nagedink oor mantra’s. Een van die maniere waarop hieroor nagedink word is om oor die aard van taal te dink: deur met ‘n mantra klank voor te bring en daardeur verskillende sillabusse te herhaal is in sommige kulture besonder spesiaal en bring vir mense van daardie kultuur vreugde en innerlike vervulling. Dit lyk asof moderne taalnavorsing besig is om te bevind dat sekere klanke inderdaad ‘n mens se geestelike ingesteldheid kan stabiliseer en bevorder. Sekere klanke het ‘n bepaalde effek op mense. Wanneer ‘n mens dus ‘n mantra met spesifieke klanke en op ‘n sekere toonhoogte voordra, kan dit ‘n mens se liggaamlike kondisie beïnvloed.
Mantra’s kan dus ‘n sielkundige invloed op mense hê en ‘n verskil in hulle lewens maak.
Maar wat het dit nou alles met gebed te doen? En watter plek het ‘n mantra binne die Christendom.
Môre hopelik meer.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.