Showing posts with label gebed. Show all posts
Showing posts with label gebed. Show all posts

Saturday, November 12, 2011

Gebed en mantra’s (2)



Verrinneweerd, maar wagtend en gereed vir die Gas....


Gister het ek bietjie besin oor mantra’s wat ‘n mens op die eerste oogopslag kan herinner aan so iets soos die Jesus-gebed. Die Jesus-gebed is ‘n ou Christelike tradisie wat daarop neerkom dat ‘n mens ‘n frase soos Kyrie Eleison (Here, ontferm U oor my) aanmekaar herhaal sodat ‘n mens vanuit ‘n gebedshouding leef.

Mantra’s is vandag besonder gewild by baie Westerlinge as ‘n poging om innerlike vrede te midde van hul stormagtige en gejaagde bestaan te vind. ‘n Mantra is ‘n frase of woord wat met intense konsentrasie herhaal word en wat ‘n mens se innerlike op verskeie maniere staal en stut.

Wanneer ‘n mens na die Bybel kyk, kry ‘n mens soms gedeeltes wat aan mantra’s herinner. Daar is byvoorbeeld byna mantra-agtige Psalms. Dink maar aan Psalm 136 met sy herhaling (26 keer) van die frase: “aan sy liefde is daar geen einde nie” aan die einde van elke sin.

Die herhaling van die frase bewerk ‘n wonderlike en intense fokus op die Goddelike uitreiking in liefde na die mens. Wie aanmekaar op hierdie manier oor die liefde sing, kan ingetrek word in ‘n atmosfeer van geborgenheid. Dit is asof ‘n mens daarmee wil uitdruk dat jy nie genoeg daarvan kry dat God liefde is en dat ‘n mens gedurig in die bewussyn van hierdie liefde wil bly leef. ‘n Mens word deel van ‘n liefdesruimte wat soveel groter as ‘n mens is en wat ‘n mens se lewe vul met ‘n eindelose rykdom.

Hierdie Psalm wys egter op fundamentele verskille tussen Christelike gebed en Boeddhistiese mantra’s. Dit is, trouens, ‘n wesenlike verskil tussen mantra’s en Christelike gebed.

In die fokus van hierdie Psalm en in Christelike gebede lê die genade en die liefde wat van buite na die mens kom. God skenk die liefde. Anders as in ‘n mantra, reik die mens nie uit na God om hierdie liefde te bewerk nie en om daarby uit te kom nie. Deur die herhaling van die liefdesuiting in Psalm 136 besing die Psalmis juis hierdie liefde wat God sonder enige inisiatief van die mens se kant af uitgedeel en geskenk het.

Hiermee saam hang ‘n verdere insig: Die Christelike gebed is ‘n reaksie van die mens op die intimiteit wat gevind word in God se teenwoordigheid in mense se lewens. God self, bely die Christendom, is as “Persoon” by mense en kom ongevraagd om die mens in liefde aan te raak. God bly die een wat uitreik en handel. In Psalm 136 word byvoorbeeld ‘n klomp dinge opgenoem wat God gedoen het. Liefde het dus allereers te doen met ‘n verhouding tussen die persoon van God en die mens as persoon. Wat die mens ervaar is hoe Iemand hom of haar in ‘n intieme eenheid opsoek en Sy eie maak. God is nie een of ander onpersoonlike mag wat ‘n mens deurtrek en besiel nie. Steeds weer bly die bidder bewus van alles wat God altyd doen om vir mense die heil te skenk. Juis daarom kan die mens met God praat, by God in stilte wees en reken op God se intieme nabyheid. En juis daarom is dit ‘n liefdesverhouding.

‘n Verdere moment help ook om die verskil van gebed en mantra’s te verduidelik. Telkens weer word gebed binne ‘n Christelike konteks gedra deur die bewussyn van hoe afhanklik ‘n mens in sy of haar swakheid van die Goddelike bemoeienis is omdat ‘n mens self nie altyd orent kan bly nie. Die ondertoon is dat ‘n mens feilbaar voel en slegs in die teenwoordigheid van die Ewige Liefde krag ontvang en uitleef. Die belangrike is nou dat die menslike moment, die menslike swakheid nie in gebed ontsnap of agtergelaat word nie, maar die mens word in sy of haar swakheid word getransformeer en geheilig. In hierdie proses ontdek die mens ook al hoe sterker dat eenheid met God vra afstand van die kwaad. ‘n Mens word in swakheid gesteun om met nuwe momentum ‘n lewe vol sin en betekenis, sonder die kwaad, te voer. Dit sluit ook die liggaam in – met al die emosies, gevoelens, passies en innerlikhede wat deur of in die liggaam beleef word.

In die Christelike gebed verdwyn die bidder nie van die toneel af om opgeneem te word in die Oneindige nie en in totale niksheid weg te sink nie. Dit is wel waar dat die bidder “minder” word en God meer. Of dat die bidder nie meer leef nie, maar Christus in hom of haar. Dit beteken egter nie ‘n wegraak of verdwyn van die mens nie.

Uiteindelik is ‘n mens deur gebed aktief in die wêreld betrokke. Trouens, die bidder soek om vanuit sy of haar swakheid getransformeer te word tot aktiewe meelewing met ander en tot transformasie van die skepping van God. Deur een te word met die liefde van God, word die bidder ‘n agent vir verandering. Dit beteken ‘n stryd teen kwaad en ongeregtigheid, insette tot ‘n gemeenskap van liefde en bewaring van God se skepping.

Tog kan ‘n mens van die Boeddhisme bewonder dat dit die aandag vestig op verinnerliking en konsentrasie. Gebed is nie maar net ‘n gepraat met God nie. Dit is ‘n intieme beskikbaarstelling met alles wat in die mens is vir God om in die mens te werk. Daarmee word die hart van die mens met mag en mening, met ‘n innerlike verlange en konsentrasie oopgestel as woonplek vir God van waaruit alles wat ‘n mens dink en doen in die teken van die liefde te staan kom. 

Verder is die een wat bid nie bloot die passiewe ontvanger nie. Hy of sy soek aktief om vir die onverwagte koms van God gereed te wees. En van die mantra’s kan ‘n mens ook leer dat ons verlangende taal in ons ‘n verlangende, afwagtende lewenshouding skep wat ‘n oop ruimte word vir die koms van God. Wat tel is nie die oor en oor herhaling van woorde nie, maar wat tel is hoe die herhaling van woorde ons hart fokus op God, die bron van die liefde.  

Friday, November 11, 2011

Gebed en mantra’s (1)


Weg van die gedruis in die oop ruimte.....

Ons dolle gejaag laat die behoefte aan ‘n stressvrye bestaan net sterker word. Vandaar die ontvlugting oor ‘n naweek na ‘n stil plekkie waar ‘n mens “kan wegkom van alles,” die vakansie aan die einde van die jaar, die verlekkering in die tuiskoms na die lang werksdag.

Dit gebeur ook in godsdiens en in die kerk. In die kerk afsonderingsgeleenthede ook baie gewild. Maar meditasie kom ook, insiggewend genoeg, sterk na vore: die Boeddhisme bied aan vele belaste en gejaagde mense die oplossing vir hulle oorlaaide en frenetiese lewensstyl.

Die boodskap waaraan hulle vashou, is eenvoudig: ‘n Mens kan in die Boeddhistiese tradisie volmaakte vrede bereik en aan al die ellende in die wêreld ontvlug deur allerhande meditasie tegnieke. Een hiervan is om ‘n mantra te herhaal, maar met diepe konsentrasie en fokus.

In ‘n Christelike konteks word hierdie Boeddhistiese tradisie dikwels oorgeneem. Mense sou dus byvoorbeeld die Jesus-gebed (Kyrie Eleison) as ‘n soort mantra beskou.

Hoewel dit alles eenvoudig klink, is die tradisie waaruit mantra’s kom, baie kompleks. In die massiewe materiaal oor die Boeddhisme is die materiaal byna onoorsigtelik. Die Boeddhisme het immers in groot lande soos China en Indië, asook in ou tradisies soos Japan en Tibet baie vorme aangeneem en in vele tale voorgekom. Trouens, daar is groot dispute oor wat dan nou “eg” Boeddhisties is. Saam daarmee is daar dus vele mantra’s, terwyl daar allerhande dispute is oor of en hoe van hulle gebruik moet word. Daar is byvoorbeeld ‘n magdom van mantra’s wat volgens sommige kenners boonop op ‘n sekere toonhoogte voorgedra moet word en waarvan die woorde op ‘n spesifieke manier uitgespreek word.

In die handel merk ‘n mens spoedig op dat daar baie CD’s is waarop Boeddhistiese dreunsange opgeneem is.

‘n Mantra is ‘n kort formule wat ‘n mens oor en oor herhaal – dit kan in verskeie van die tale waarin hulle ontstaan het, gedoen word. Die opsê van mantra’s word deur baie mense in Westerse lande in ‘n vertaling gedoen, omdat hulle aanvaar dat die oorspronklike taal nie noodwendig magiese krag het nie. Maar hieroor bestaan daar verskil van menings omdat dit lyk of daar wel ‘n paar mense is wat dink daar is iets magies in die opsê van die oorspronklike woorde. Ander weer, reken dat die krag van ‘n mantra is te vind in die toewyding waarmee dit uitgespreek word: dit is so effektief soos die konsentrasie wat ‘n mens daarin sit. Die implikasie is duidelik: sommige mense wil mantra’s op  ‘n verligte manier as ‘n middel sien om innerlike gemoedsrus en vrede te vind. Ander, weer, sien in mantra’s ‘n eksotiese, spesiale manier om met ‘n goddelike gees verenig te word en so aan die uiterlike, materiële dinge te ontvlug.

Daar is baie mantras in Boeddhisme: van die bekendste “Om Ah Hum, Jetsun Guru Padma Siddhi Hum” wat sommige mense 21 keer sê met die doel om ‘n mens te reinig van negatiewe gedagtes. Ook gewild is “Om mani Padme Hum” wat ‘n mens onder andere bevry van lyding onder arrogante emosies, van jaloesie, van begeertes, van gierigheid en van aggressie. Die mantra vir vrede is “Om Santih, Santih, Santih.” Die mantra, “Om Tare, Tuttare, Ture Svaha” word gebruik om ‘n mens tot ontferming en meegevoel te inspireer, terwyl die mantra “Vajrapani Hum” moed gee. Daar is selfs ‘n sogenaamde “groen” mantra wat ‘n mens vir diere gebruik. Dit behels dat ‘n mens dit opsê by dierevleis wat in besighede verkoop word en wat deur slagting doodgemaak is. Die mantra beteken ongeveer iets soos: “Mag hulle wat siek is, gou van hul siekte bevry word. En mag die siekte nooit weer toeslaan nie.”

Sommige mense vertel dat hulle lewens fundamenteel verander word wanneer hulle mantra’s opsê. Hulle ontvang genesing, hulle finansiële probleme word opgelos of kry uitkoms uit ‘n krisis. Ander weer beweer dat sulke sieninge van mantra’s niks anders as bygelowigheid is nie.

Die bestudering van die Boeddhisme en dus ook van mantra’s is deesdae ‘n hoogs gesofistikeerde dissipline. Belangrike denkers uit die Weste is op die snykant van hierdie navorsing. In hierdie dissipline word daar ook diep nagedink oor mantra’s. Een van die maniere waarop hieroor nagedink word is om oor die aard van taal te dink: deur met ‘n mantra klank voor te bring en daardeur verskillende sillabusse te herhaal is in sommige kulture besonder spesiaal en bring vir mense van daardie kultuur vreugde en innerlike vervulling. Dit lyk asof moderne taalnavorsing besig is om te bevind dat sekere klanke inderdaad ‘n mens se geestelike ingesteldheid kan stabiliseer en bevorder.  Sekere klanke het ‘n bepaalde effek op mense. Wanneer ‘n mens dus ‘n mantra met spesifieke klanke en op ‘n sekere toonhoogte voordra, kan dit ‘n mens se liggaamlike kondisie beïnvloed.

Mantra’s kan dus ‘n sielkundige invloed op mense hê en ‘n verskil in hulle lewens maak.

Maar wat het dit nou alles met gebed te doen? En watter plek het ‘n mantra binne die Christendom.

Môre hopelik meer.

Monday, November 07, 2011

Spiritualiteit van gebed: om weer lus te raak om te bid.


By ons Spirasa-byeenkoms op 4 November 2011 by Unisa in Pretoria praat ons oor gebed as ‘n spirituele praktyk.

Daar is onder die deelnemers aan die byeenkoms mense vanuit die hele Christelike spektrum van geloofsgroepe.

Trouens, sit en dink ek, ons vergadering is waarskynlik een van die rare plekke in ons land waar mense uit soveel uiteenlopende tradisies bymekaar kom, met mekaar gesprekke voer en almal alleen maar fokus op gebed as tema.

Dit is ‘n sprekende voorbeeld van spiritualiteit: die dogmatiese kwessies, die verdelende strydgesprekke van die verlede ontbreek heeltemal. Hier kom mense bymekaar omdat hulle oor gebed wil nadink. Daar is ‘n spontane fokus op die dieper dinge in ‘n ontspanne atmosfeer van wedersydse ervaring en erkenning.

Ons ander forte is dat ons een van die bekendste skrywers oor gebed vanuit akademiese kringe as spreker het. Sy boek, Wat doen ons wanneer ons bid?, raak aan die moeilikste kwessies oor gebed. En hy skryf daaroor op ‘n helder, fyn manier. Ek het Brummer se boek waardevol gevind en sien met groot verwagting uit na die dag se besprekings. Ek word nie teleurgestel nie. Weer eens beïndruk hy my met die wysheid van sy insigte.

Maar: terwyl ons die eerste deel van die dag fokus op die groot teoretiese aspekte van gebed, gaan ons in die tweede deel van die dag oor na praktiese aspekte. So is dit beplan en so verloop dit presies: Ses mense praat oor die waarde wat gebed vir hulle in hul lewens het. Dit is mense wat al ‘n lang pad met gebed geloop het. In kort mededelings van 15 minute elk, vloei ‘n ryke verskeidenheid van insigte uit hul aanbiedings. Dit is egte spiritualiteit: vertellings oor hoe mense hul geloof in die praktyk, in die lewe, beleef. Hulle vertel van hul reis in en met gebed.

‘n Paar dinge bly aan die einde van die dag by my: Een van die sprekers vertel hoedat sy begin belangstel het in gebed en naderhand begin het om kursusse aan te bied waardeur mense ingelei word in die ryke gebedstradisies wat deur die eeue na vore gekom het. Toe hulle die kursus begin aanbied het, het hulle gehoop hulle sal darem ‘n goeie reaksie kry. Tot hul groot verbasing kon hulle skaars bybly met die groot toeloop van mense wat meer oor gebed wou weet.

Mense het, sê sy, die behoefte om met God te praat, maar weet nie altyd hoe om dit te doen nie. Hulle kursusse word goed bygewoon. En telkens staan mense verstom oor hoeveel gebede daar is en hoe ryk die gebedstradisie is.

Tydens die bespreking worstel ons met die vraag: wat het gebeur dat die lewe in gebed so verarm geraak het? 

En dan dink ons mense is nie eintlik meer godsdienstig nie. Hierdie vrou, uit die hart van die praktyk, weet van anders. Jaar in, jaar uit, bied sy oor die hele land vir mense die kans om dieper ingelei te word in die spirituele praktyk van gebed. En die reaksie is verstommend.

Tog is dit net die een kant: Tydens die geleentheid kom een van die meer “nugtere” kollega’s na my. Sy is iemand wat teologies baie sterk is. Soos vele van ons, weet sy baie van gebed. Baie. En ook van die teologie. Ure lank kan sy oor die Bybel en oor God en oor allerhande teologiese dinge praat.

Maar sê sy, deur die gesprekke van die dag het sy begin besef dat sy eintlik lus raak om weer te begin bid.

Die opmerking laat my vir ‘n oomblik terugstaan. Let op: die “begin.”

Ek herken daarin die ander kant van ons godsdienstige konteks: naas die baie mense wat verlang om met God te praat in gebed, is daar ook onder ons vele mense wat die waarde van gebed toegee en sekerlik van tyd tot tyd hul gebedjies doen, maar wat eintlik nie meer gebed as ‘n spirituele praktyk koester nie.

Ons het biddeloos geword. Gebed is nie meer ‘n spirituele praktyk nie. Ons houding teenoor gebed is argeologies: ons spit dit van tyd tot tyd uit en bekyk dit analities. Of ons het arm in gebed geword: ons veg groot bakleiery oor die vraag of gebed "help" wanneer ons dink gebed is om antwoord op versoeke aan God te kry. 

Ek hoor wat my kollega in haar stil opmerking vir my sê: Al ons teoretiese kennis, al ons goeie gedagtes, alles wat ons so mildelik aan verstandelike insigte besit en deel, beteken nog glad nie dat gebed deel is van ons lewe nie.

Nodig is spiritualiteit, wat ‘n mens bewus maak van geloofsverarming: die toeëiening van geloof, die belewing van alles wat ons oor God dink en praat – dit is waarom die geestelike reis gaan. En nodig is byeenkomste soos hierdie waar teorie met praktyk verbind word.

Dit kan selfs tot beskaming van die teorie gebeur dat die praktyk mense nader aan God bring.

Ek besef ook, uiteindelik, hoe belangrik ‘n geloofsgemeenskap is. Dit is wanneer mense gelowig bymekaar is dat ‘n mens oor mekaar se ervarings nadink op so ‘n manier dat dit jou lewe skuif en transformeer. Veral wanneer mense niks het om te bewys nie, maar bloot net wil vertel hoe ryk hul is aan die tradisionele spirituele praktyke, kan dit gebeur dat hulle ander aanraak en dat die ander verdiep word in hul geestelike reis. Dit is ‘n tragedie dat seksionele denke ons van mekaar verwyder het en ons geestelike reis arm gemaak het.

Daar by Unisa, op ‘n Vrydagoggend, terwyl die jaar einde se kant toe begin koers inslaan, het die Spiritualiteit van gebed ‘n paar mense se lewens nuwe koers laat kry. Uit verskillende kerklike tradisies, sommige waarvan vir eeue in hatige vyandskap met mekaar gestaan het, het mense se gepraat oor hoe belangrik gebed vir hulle is, op een of ander manier tog dinge verander. 

Monday, December 14, 2009

ons biddende verhouding tot God. Oor oratio.

Die Bybel is die boek van die Heilige Gees, sê ons. Dit is ‘n “geïnspireerde” boek. En, n.a.v. 2 Timoteus 3:16 wat praat oor die hele Skrif wat deur God “ingegee is,” praat ons van die Bybel as ‘n versameling boeke wat deurtrek is met die asem van die Heilige Gees (theopneustos) en wat nuwe lewe in ons adem en blaas.

Dit beteken dat ons die Bybel as geïnspireerde boeke van die Gees lees sodat dit ons ook kan “inspireer.” Ons praat ook van die “geestelike” lees van die Bybel. Om die bedoeling van die Heilige Gees met die Bybelboeke te bepaal, gebruik ons die baie ou model van die lectio divina (lectio, meditatio, oratio, contemplatio). Elkeen van hierdie dimensies bevorder die “geestelike” lees van die Bybel.

Ons besef dat selfs al die blote “lees” van die teks belangrik is. Ons tel die Bybel op – stil, met aandag, met eerbied vir die een wat met ons in ‘n Bybelboek praat en ook terwyl ons ons oopstel vir die skoonheid van die boek: ons staan verbaas voor die onuitputlikheid van die Bybelboodskap, die nuwe gedagtes wat dit telkens by ons wakker maak, die skoonheid van die digterlike gedeeltes, die boeiende eenvoud van sy verhale, die tydloosheid van sy karakters en die trefkrag wat die boeke nog steeds vandag het.

Ons “lees” die verhale, maar dan “bedink” ons hulle in meditatio. Ons pluis hulle mening versigtig uit. In meditatio leer ons werklik die teks baie goed ken deur ‘n versigtige lees daarvan.

Maar, en dit is dan ook die belangrike punt in hierdie skrywe, as ons gelees en gedink het, gebeur dit op ‘n stadium dat die teks ons so raak dat ons ook daarop reageer. En as ons terugkyk op ons lewe, sien ons hoe die Bybel oor jare heen soveel verskillende reaksies by ons wakker gemaak het. Ons staan verbaas, verwonderd, oorweldig, in ontsag, vol lof, met vreugde en lofprysend voor God. Ons treur, gee ons oor of ontbloot ons mees intieme gedagtes aan God. Ons vra om hulp, beskerming en uitkoms.

As ons al hierdie baie reaksies op die Bybel bymekaar bring, ontdek ons ‘n bepaalde patroon daarin. Waaijman skryf dat daar uiteindelik vier kernvorme van ons gebed of oratiwiteit is. Die veelgeskakeerde aard van ons verhouding met God blyk uit die volgende vier aspekte:

1. Heel eerstens het ons gebede te doen met ‘n bepaalde uitreik na God. Ons nader tot God omdat ons na God verlang. Die lees van die Bybel bring ons tot ‘n punt dat ons besef ons kan nie maar net voortgaan om te leef soos ons leef nie. Ons voel ‘n innerlike onvrede met wie ons is. Dan soek ons God op en gee onsself in vertroue oor aan God. God ontvang ons, omhels ons en maak ons God se eiendom. Ons “nader” dus tot God “in die gebed” – soos ons dit so dikwels sê. Uiteindelik brings ons toenadering tot God groot vreugde in ons lewens. Op die manier bring on lees van die Bybel ons om na God uit te reik. Ons gebed is ‘n soeke na God wat ons met diepe blydskap vul. Dan is ons smeegebede ook vreugdegebede.
2. Ons gebede is verder nou ‘n oopstelling vir God se werke in ons lewens. Ons laat voorts toe dat God deel word van ons bestaan. Dit doen ons deur God aan te spreek met goddelike name. Ons is deur hierdie benoeming van God, die uitspreek van God se name, liggaamlik betrokke in ons gebed. Verder word God in ons innerlike toegelaat wanneer ons sintuie ingestel is op God se teenwoordigheid. Deur ons lewe van toewyding word God verder deel van ons lewe. Maar God moet nog verder deel word van ons bestaan deurdat ons aan God gelykvormig word.
3. Maar ons gebede wil ook vir God sover bring om tot ons te nader. Soos in enige verhouding is ons reaksie tot God om God te bring om op ‘n sekere manier teenoor ons op te tree. Ons vra sekere dinge van God. Ons wil God se innerlike só deur ons gebed aanraak, dat God tot aksie kom. Ons bring God tot aksie wanneer ons ons rou en verdriet met God deel. Of ons herinner God aan die goddelike beloftes wat aan ons gegee is. Of ons wil dat God oor ons ontfermend sal wees en dan doen ons ‘n beroep op God se emosies. Of somtyds kan ons in ons gebed net op God wag – dan doen ons niks nie, maar is ons ingestel op God se koms. Ons probeer God nie te beïnvloed om iets vir ons te doen nie.
4. ‘n Vierde vorm van oratio is om openlik van God te getuig. In ons gebede getuig ons dan openlik van God se teenwoordigheid en optrede. Ons gee erkening aan wat God in ons lewens doen. Of ons getuig van ‘n geloofsheld in wie se lewe God se teenwoordigheid raakgesien kan word. Ons wys dan uit wat God alles in ons lewe doen. Somtyds lig ons vertel God se mag en majesteit uit en bid dat dit tot ons heil gebruik sal word. Dan weer kan ons in ons gebede getuig hoedat God se dade die sentrum van ons lewens is. Uiteindlik, skryf Waaijman, kan ons gebede God se teenwoordigheid uitstraal. Wanneer ons as volk van God bid, kan dit so kragtig word dat die gemeenskap uitstraal hoe God die middelpunt van hul lewe en bestaan uitmaak.

Ons lees die Bybel en ons sien hoe mense van alle tye op baie verskillende maniere gereageer het op God se aanraking. En wanneer ons dit lees, gebeur daar ook iets met onsself. ‘n Mens lees maar nie net die Bybel om oor allerhande feite ingelig te word nie. Ons lees die Bybel omdat ons saam met gelowiges van alle tye opgeneem word in ‘n verhouding met God wat op baie verskillende en uiteenlopende maniere ons lewens raak. Dit is merkwaardig hoeveel gebede deur die Bybel uitgelok word. Ons het ‘n ryke, veelgeskakeerde verhouding met God wat ons op baie maniere raak en verander.

Wanneer ons só die Bybel lees, lees ons dit anders as wat tradisioneel gebeur. Mense lees dikwels die Bybel om “meer te leer” oor God. Hulle wil “kennis” van God opdoen en vermeerder. Maar wanneer ‘n mens die Bybel lees in ‘n geestelike sin, gaan dit om baie meer as kennis van God. ‘n Mens “dink” nie net na oor God nie, maar jou denke, jou meditatio is ingestel op ‘n biddende verhouding met God. ‘n Mens lees die Bybel om te groei in jou verhouding met God.

Ons verarm ons geloofslewe deur ons Bybellees af te skaal tot ‘n “verstaan” van die Bybel. Ons tel die Bybel op om dit te lees, omdat ons God vertrou en lief het. Dit was die gesindheid waarmee die Bybelskrywers die Bybel gelees het. Hulle het vanuit ‘n vertrouensverhouding tot God hul boeke geskryf en is tot ‘n magdom van ervaringe deur die Bybeltekste gebring.

Monday, September 14, 2009

Heiligheid en gebed

Ons bid met goeie bedoelings. Ons wil deur ons gebede beter voel, beter mense word en ‘n beter bestaan voer.

Maar gebed, veral Bybelse gebed gaan om baie meer. Gebed is om by God te wees. In gebed ontmoet ons God, staan ons in die teenwoordigheid van die Here.

Die Fariseër, het Jesus geleer, het die goed-voel storie oor gebed gehad. Die tollenaar, verslae voor die heiligheid van God, kon maar net in diepe rou sy eie onheiligheid, sy eie verlange na God se teenwoordigheid uitkreun. Sy hand was in eie boesem, maar sy oë het gesoek na God se vergewende teenwoordigheid in sy lewe. Al sy tollenaarsrykdom het hom in die steek gelaat. Alles wat hom altyd laat goed voel het, kon sy besmette gewete nie tot rus laat kom nie.


Ons skrik hiervoor. Om by God te wees? Dit is soos die lawwe storie van die twee vroom ouens wat wou stout wees en by ‘n nagklub gaan kuier het. Hulle bestel nogal ‘n ete en toe sê die een: “Bid jy nou vir ons voor ete?” Waarop die ander een antwoord: “Is jy mal? Wil jy hê die Here moet ons hier sien?” Wie bid, laat toe dat God ‘n ruimte in sy of haar lewe vind. Maar die heiligheid van God kan brand, vernietig, pyn aandoen soos dit skoonmaak, uitdryf, genees en bekragtig. Maar ons vrees die pyn hiervan en ons vrees die heiligheid van God.


Wat jammer is. Want die heiligheid van God is nie vreesaanjaend nie. Dit is oorweldigend. Ons staan voor God wat suiwer lig is, wat ons omstraal met die helderheid van goedheid, wat ons omring met suiwer genade, wat so anders is as al ons donker gewoontes en smerighede.

God is so anders, so uniek, so totaal verskillend. Daarom wil God se heilige teenwoordigheid ons aantrek. Om te kan skoon wees, bevry van alles wat in ons is wat ons so aftrek, ons jaloesies, ons vrese, ons foute, ons hatighede, ons gemeenheid. Hoe bevrydend kan ons lewe word as ons deur God se heiligheid tot ‘n nuwe lewe betower en aangespoor word.


Laat U naam geheilig word...

Blog Archive