Monday, December 14, 2009

ons biddende verhouding tot God. Oor oratio.

Die Bybel is die boek van die Heilige Gees, sê ons. Dit is ‘n “geïnspireerde” boek. En, n.a.v. 2 Timoteus 3:16 wat praat oor die hele Skrif wat deur God “ingegee is,” praat ons van die Bybel as ‘n versameling boeke wat deurtrek is met die asem van die Heilige Gees (theopneustos) en wat nuwe lewe in ons adem en blaas.

Dit beteken dat ons die Bybel as geïnspireerde boeke van die Gees lees sodat dit ons ook kan “inspireer.” Ons praat ook van die “geestelike” lees van die Bybel. Om die bedoeling van die Heilige Gees met die Bybelboeke te bepaal, gebruik ons die baie ou model van die lectio divina (lectio, meditatio, oratio, contemplatio). Elkeen van hierdie dimensies bevorder die “geestelike” lees van die Bybel.

Ons besef dat selfs al die blote “lees” van die teks belangrik is. Ons tel die Bybel op – stil, met aandag, met eerbied vir die een wat met ons in ‘n Bybelboek praat en ook terwyl ons ons oopstel vir die skoonheid van die boek: ons staan verbaas voor die onuitputlikheid van die Bybelboodskap, die nuwe gedagtes wat dit telkens by ons wakker maak, die skoonheid van die digterlike gedeeltes, die boeiende eenvoud van sy verhale, die tydloosheid van sy karakters en die trefkrag wat die boeke nog steeds vandag het.

Ons “lees” die verhale, maar dan “bedink” ons hulle in meditatio. Ons pluis hulle mening versigtig uit. In meditatio leer ons werklik die teks baie goed ken deur ‘n versigtige lees daarvan.

Maar, en dit is dan ook die belangrike punt in hierdie skrywe, as ons gelees en gedink het, gebeur dit op ‘n stadium dat die teks ons so raak dat ons ook daarop reageer. En as ons terugkyk op ons lewe, sien ons hoe die Bybel oor jare heen soveel verskillende reaksies by ons wakker gemaak het. Ons staan verbaas, verwonderd, oorweldig, in ontsag, vol lof, met vreugde en lofprysend voor God. Ons treur, gee ons oor of ontbloot ons mees intieme gedagtes aan God. Ons vra om hulp, beskerming en uitkoms.

As ons al hierdie baie reaksies op die Bybel bymekaar bring, ontdek ons ‘n bepaalde patroon daarin. Waaijman skryf dat daar uiteindelik vier kernvorme van ons gebed of oratiwiteit is. Die veelgeskakeerde aard van ons verhouding met God blyk uit die volgende vier aspekte:

1. Heel eerstens het ons gebede te doen met ‘n bepaalde uitreik na God. Ons nader tot God omdat ons na God verlang. Die lees van die Bybel bring ons tot ‘n punt dat ons besef ons kan nie maar net voortgaan om te leef soos ons leef nie. Ons voel ‘n innerlike onvrede met wie ons is. Dan soek ons God op en gee onsself in vertroue oor aan God. God ontvang ons, omhels ons en maak ons God se eiendom. Ons “nader” dus tot God “in die gebed” – soos ons dit so dikwels sê. Uiteindelik brings ons toenadering tot God groot vreugde in ons lewens. Op die manier bring on lees van die Bybel ons om na God uit te reik. Ons gebed is ‘n soeke na God wat ons met diepe blydskap vul. Dan is ons smeegebede ook vreugdegebede.
2. Ons gebede is verder nou ‘n oopstelling vir God se werke in ons lewens. Ons laat voorts toe dat God deel word van ons bestaan. Dit doen ons deur God aan te spreek met goddelike name. Ons is deur hierdie benoeming van God, die uitspreek van God se name, liggaamlik betrokke in ons gebed. Verder word God in ons innerlike toegelaat wanneer ons sintuie ingestel is op God se teenwoordigheid. Deur ons lewe van toewyding word God verder deel van ons lewe. Maar God moet nog verder deel word van ons bestaan deurdat ons aan God gelykvormig word.
3. Maar ons gebede wil ook vir God sover bring om tot ons te nader. Soos in enige verhouding is ons reaksie tot God om God te bring om op ‘n sekere manier teenoor ons op te tree. Ons vra sekere dinge van God. Ons wil God se innerlike só deur ons gebed aanraak, dat God tot aksie kom. Ons bring God tot aksie wanneer ons ons rou en verdriet met God deel. Of ons herinner God aan die goddelike beloftes wat aan ons gegee is. Of ons wil dat God oor ons ontfermend sal wees en dan doen ons ‘n beroep op God se emosies. Of somtyds kan ons in ons gebed net op God wag – dan doen ons niks nie, maar is ons ingestel op God se koms. Ons probeer God nie te beïnvloed om iets vir ons te doen nie.
4. ‘n Vierde vorm van oratio is om openlik van God te getuig. In ons gebede getuig ons dan openlik van God se teenwoordigheid en optrede. Ons gee erkening aan wat God in ons lewens doen. Of ons getuig van ‘n geloofsheld in wie se lewe God se teenwoordigheid raakgesien kan word. Ons wys dan uit wat God alles in ons lewe doen. Somtyds lig ons vertel God se mag en majesteit uit en bid dat dit tot ons heil gebruik sal word. Dan weer kan ons in ons gebede getuig hoedat God se dade die sentrum van ons lewens is. Uiteindlik, skryf Waaijman, kan ons gebede God se teenwoordigheid uitstraal. Wanneer ons as volk van God bid, kan dit so kragtig word dat die gemeenskap uitstraal hoe God die middelpunt van hul lewe en bestaan uitmaak.

Ons lees die Bybel en ons sien hoe mense van alle tye op baie verskillende maniere gereageer het op God se aanraking. En wanneer ons dit lees, gebeur daar ook iets met onsself. ‘n Mens lees maar nie net die Bybel om oor allerhande feite ingelig te word nie. Ons lees die Bybel omdat ons saam met gelowiges van alle tye opgeneem word in ‘n verhouding met God wat op baie verskillende en uiteenlopende maniere ons lewens raak. Dit is merkwaardig hoeveel gebede deur die Bybel uitgelok word. Ons het ‘n ryke, veelgeskakeerde verhouding met God wat ons op baie maniere raak en verander.

Wanneer ons só die Bybel lees, lees ons dit anders as wat tradisioneel gebeur. Mense lees dikwels die Bybel om “meer te leer” oor God. Hulle wil “kennis” van God opdoen en vermeerder. Maar wanneer ‘n mens die Bybel lees in ‘n geestelike sin, gaan dit om baie meer as kennis van God. ‘n Mens “dink” nie net na oor God nie, maar jou denke, jou meditatio is ingestel op ‘n biddende verhouding met God. ‘n Mens lees die Bybel om te groei in jou verhouding met God.

Ons verarm ons geloofslewe deur ons Bybellees af te skaal tot ‘n “verstaan” van die Bybel. Ons tel die Bybel op om dit te lees, omdat ons God vertrou en lief het. Dit was die gesindheid waarmee die Bybelskrywers die Bybel gelees het. Hulle het vanuit ‘n vertrouensverhouding tot God hul boeke geskryf en is tot ‘n magdom van ervaringe deur die Bybeltekste gebring.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive