Thursday, December 03, 2009

Die Bybel as Woord van God wat alles gedurig bly omkeer

Dit lyk so eenvoudig om te praat oor “die woord van God.” Dit is die manier waarop en die woorde waarmee ons meestal oor die Bybel praat. En dikwels dink ons dan aan die Bybel as Boek.

Soms, as ons ‘n bietjie dieper nadink, sou ons maklik kon redeneer dat ons eintlik “slegter” af is as die dissipels van Jesus. Terwyl ons “maar net” ‘n boek moet lees, het hulle in die teenwoordigheid van Jesus geleef en kon direk en in ‘n persoon-tot-persoon verhouding met Hom baie leer. Ons is, dink ons dan, deel van die nuwe bedeling wat gekom het nadat Jesus weg is. In die plek van Jesus Self het daar ongelukkig “woorde” van en “woorde” oor Jesus gekom.

Maar dit is nie so eenvoudig nie. Lukas begin die eerste verhaal in sy evangelie met ‘n wonderlike “verhaal” oor twee ernstige “Bybellesers”: Sagaria en Elisabeth, die ouers van Johannes, hoor die nuus van Johannes se geboorte. Hulle word dan beskryf as: “hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou (Lk.1:6).” Hier is spiritualiteit: hulle leef vanuit hulle verhouding met God ‘n volhardende lewe van transformasie – maar hulle verhouding met God sentreer rondom die “Woord van die Here.” Uit die Ou Testament, uit die Wet, word hul lewe geïnspireer en dag na dag radikaal verander. Al die woorde van die Here in die eerste bedeling word ‘n werklikheid in hulle geloof, hulle lewe en hulle diens van God. Hulle ervaar hulle geloof aan die hand van God se wet, van die gebooie en voorskrifte. Die woorde van die Here, die verhaal van God se wil, word die bron van hul getransformeerde bestaan.

Wanneer Lukas dus oor Jesus skryf, vertel hy van die begin af hoe “Woorde” van God, “boeke” oor God se wil in mense se lewens gewerk het. Hulle het God se woorde vir hul lewe verstaan, dit dag na dag met volharding uitgelewe. Die Bybel was ‘n “werklikheid” in hul lewe. Wat God destyds vir Moses gesê het, maar ook die Woord soos dit neergeskryf is in die wet en deel geword het van ons Bybel, was vir hul ‘n inspirasie. Hulle het uit die verhaal van God geleef. Hulle het die Woord gelees, geken, maar het ook die woord as ‘n reddende, transformatiewe krag ervaar. Net soos Moses God se Woord gehoor en toe oorgedra het, so hoor hulle ook God se Woord en dra dit uit.

Maar die vertelling oor Sagaria en Elizabeth het ‘n boeiende ekstra vertelling. Hulle hoor nie net God se Woord in die wet nie, maar hulle hoor ook God se Woord op nuwe maniere. Die engel Gabriël praat heel onthullend oor homself: “Ek is Gabriël wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring” (Lk.1:19). Só werk God: die engele wat by God is en die woord van God kry, word dan Woordbedienaars. Hulle hoor en ervaar God se woord – heel intens in God se teenwoorigheid self – en hulle bring dan die boodskap aan ander oor.

So begin die lewe van Jesus in Lukas se Evangelie. Dit begin met ‘n “preek”, ‘n “Woordverkondiging” aan Sagaria en Elisabeth. En hoe het die engel e woorde nie deur die blye aard daarvan vir hierdie twee vroom, wetsgetroue mense se lewens verander nie. Lank voor Jesus se geboorte, vier hulle reeds die goeie nuus!

Die Bybel wat ons het is nie bloot ‘n boek nie. Dit is God se Woord wat in alle tye, ook in Jesus s lewe, in verhaalvorm tot mense kom en mense se lewens onherroeplik omkeer. Voor Jesus se geboorte het mense God se Woord gehoor en gevoel hoedat dit hulle lewens verander. Jesus Self sou ook keer op keer ook uit die Woorde van God leef – kyk maar hoe begin sy openbare bediening met die Woord-uitleg in Nasaret (Luk.4) en kyk net hoe getrou lees Jesus die Woord van God in sy Bergrede - nie 'n tittel of jota mag verander nie! En vir Satan leer hy 'n mens sal uit die Woord van God alleen lewe.

En nou, nou is Jesus weg. Maar ons leef nog uit sy goddelike woorde, soos die mense van alle tye en die goddelike Woord is so kragtig soos altyd. Ons het meer as ‘n Boek. Ons het die Woord van God – en waar God praat word mense se lewens verander en word die verhaal van hul transformasie weer ‘n verhaal van God se woorde.

Ons is nie slegter af as mense in die ou bedeling en in die tyd van Jesus nie. Ons kry, soos in die tyd van Jesus, die goeie nuus. Die Bybel laat ons nie onaangeraak nie. Die verhaal van ons aanraking word ‘n kragtige getuienis wat ander weer lees en God se woorde daaraan herken. Dit is ‘n nimmereindigende kringloop van omvorming en bemagtiging, van God se Woord wat tot ons kom en weer as Woord van God verder in die wêreld ingaan.

Geen wonder dat Lukas aan die begin van sy evangelie vertel van al die woorde oor Jesus wat mense verkondig het. Sy boek is ‘n poging om die verhaal van Jesus so noukeurig as moontlik neer te skryf (Luk.1:1-4). Hy het geweet dat hierdie Woord is lewensbelangrik. Dit is die woord wat die Emmausgangers se hart brandende gehad het. Dit is die Woord wat die Emmausgangers in Jerusalem verkondig het – selfs toe Jesus af weggegaan het. En dit is die Woord wat die Etiopiër gebring het om gedoop te word en wat sy lewe met blydskap gevul het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive