Tuesday, December 22, 2009

Is godsdiens 'n stukkie kultuur?

In die Rapport van Sondag 20 Desember skryf Jaco Kirsten oor die kerk wat volgens hom nie kan verander ter wille van sy lidmate nie – lidmate wat aan die kerk behoort, moet dus eenvoudig aanvaar daar is sommige dinge wat van hulle verwag word en hulle moet hulle daarby neerlê.

So tussen-in hierdie opmerkings skryf hy dat hy nie meer kerklik aktief is nie. Hy is nie ‘n ateïs nie, só arrogant is hy nie. Hy beskryf homself as ‘n agnostikus wat nie sommer oornag godsdiens vaarwel toegeroep het nie. “Dit was ’n geleidelike proses waarin ek die gevolgtrekking gemaak het dat godsdiens ’n kulturele konstruksie is en afhang van waar jy gebore is. Só is daar, prakties gesproke, geen Christene in Saoedi-Arabië nie, min Sjinto-Boeddhiste in die Kalahari en ’n groot tekort aan Moslems in Antarktika. En omdat niemand kies waar hulle gebore word nie, het die hele spul nie meer sin gehad nie.” Hy skryf verder dat hy daarmee nie veroordelend wil wees nie. Hy is nie hatig op godsdiens nie. “Boonop is daar ’n yslike verskil tussen ’n fanatiese ateïs en ons agnostici wat nederig erken ons het meer vrae as antwoorde.”

Soms wonder ek of sulke artikels soos Kirsten s'n nie ‘n onvermydelike gevolg is van ‘n soort godsdiens wat die afgelope dekades in kerke gepropageer is ten koste van ‘n dieper verstaan van wie God is en wat die verhouding van God met die mens is. Ons het godsdiens verskraal tot ‘n burgerlikheid, tot ‘n sekere burgerlike moraal waarin die kerk “leerstellings” het wat sekere “reëls” vaslê: ‘n Christen is iemand wat ‘n ordentlike mens is wat sekere ordentlike gedragsreëls nakom. Op die manier is godsdiens niks anders as ‘n spieëlbeeld van ons maatskappy en sy waardes en norme nie. Kyk net hoe skryf Kirsten oor die kerk: “Dis tog ’n ondubbelsinnige feit dat, volgens die oorgrote meerderheid Christelike kerke se leerstellings, saambly teen die kerk se reëls is. Nes ’n aktiewe, homoseksuele leefstyl.” Die kerk is dus vir baie mense ‘n plek waar ‘n mens geleer word om ‘n spesifieke klomp lewensreëls na te volg. Een van die simptome van hierdie tipe godsdiens is dat die kerk ‘n “volkskerk”word – die kerk van ‘n sekere groep mense wat deel is van ‘n spesifieke kultuur en wat dikwels afwysend en negatief teenoor ander kulture is. Ons het hierdie verskynsel in die apartheidstyd gehad, maar ook in Nazi-Duitslang.

As ‘n mens teologie studeer, is dit egter een van die eerste insigte wat ‘n mens leer dat die kerk juis nie ‘n kultuurverskynsel is nie, maar in wesenlike opsigte kontra-kultureel is. Die kerk moet die kultuur waarin dit leef nie reflekteer nie, maar krities begelei. Die groot ellende in die kerkgeskiedenis het gekom waar hierdie boodskap nie helder en duidelik gehoor is nie. En dit is verskriklik dat ons vir lang tye in ons eie geskiedenis in die kerke nie duidelik die grens tussen die kerk en sy omringende kultuur gesien het nie. Die kerke was dikwels 'n spieelbeeld van die apartheidsamelewing.

Kirsten verduidelik in sy artikel dat hy agnostikus is omdat hy begin sien het hoe nou verbind die kerk se verkondiging met die kulturele kodes van die tyd is. En hierin is hy in ‘n sekere sin reg. Die kerk kan eintlik nooit sy boodskap aanbied in taal wat vir die mense in hul kultuur verstaanbaar is nie. Om oor God te praat, moet ‘n mens die taal van jou tyd gebruik.

Waarin hy egter ‘n groot, fundamentele fout maak, is dat godsdiens ‘n kulturele konstruk is. Dit is nie so dat ‘n mens wat in ‘n sekere kultuur gebore is, noodwendig ‘n sekere godsdiens sal hê nie soos hy skryf nie. Die opkoms van charismatiese kerke dwarsoor die wêreld – veral in die vroeëre Rooms-Katolieke Suid-Amerika en in Afrika bewys hoe sekere kulture oornag na ander godsdienste kan oorskakel. En die kerkgeskiedenis het baie meer ingrypende bewyse.

Dit is ook nie waar dat die groot godsdienste van die wêreld met ‘n spesifieke kultuur te doen het nie. Die Christendom het ver buite sy oorspronklike Naby-Oosterse kulturele konteks na ander kulture oorgespoel. Maar daar is ook baie godsdienskundiges wat beklemtoon dat daar in die wêreldgodsdienste, ongeag die kulturele kontekste, juis trans-kulturele kenmerke is wat wys dat godsdienste nie ‘n kulturele konstruk is nie. En in die Muslim-wereld sal 'n mens baie uiteenlopende kulture aantref.

Trouens, in alle godsdiente, ongeag die kultuur, is daar ‘n soeke na die diepste sin van die lewe, na die oorsprongsvraag, na die diepere dinge wat verborge is. En hierdie soek na God as die diepste sin van die lewe lewer sekere antwoorde op wat mense inspireer om ‘n verhouding met God te soek wat hul lewe radikaal omvorm en wat hulle inspireer om steeds weer in gehoorsaamheid aan God se wil te leef. Die drie groot wêreldgodsdienste – die Christendom, die Jodedom en die Muslims deel byvoorbeeld met mekaar die geloof aan God as skepper, terwyl hulle groot waarde heg aan God wat deur Abraham, Isak en Jakob ‘n verbondsvolk gevorm het en deur Moses ‘n goddelike wil bekend gemaak het en vryheid vir die mensdom gebring het. Uiteraard gaan dit in detail verskil van godsdiens tot godsdiens, maar steeds weer spoor godsdienste mense aan juis om verby hul kulturele waardes heen steeds weer te soek na dit wat hul lewe verryk en wat hul bestaan betekenisvol maak. Dit is net die oningeligte of die onoortuigbares wat hierdie diepere dimensies as “kultuurgebonde” sal interpreteer. Dit is by uitstek waar van die Nuwe Testament: van die mooiste dele van die Nuwe Testament wys op die feit dat die kerk mense uit verskillende kulture bymekaar bring in ‘n eenheid wat alle aardse grense en afkeure afbreek (Handelinge, Romeine en Efesiërs bevat ingrypende uitsprake hieroor).

Deur al die eeue heen was daar mense en predikante wat hierdie diepere vrae nie altyd goed kon beantwoord nie. En godsdiens kan, soos ons maar te goed uit die geskiedenis weet, gewelddadig, aaklig en mensontwaardig wees. Maar dit is onbillik om godsdiens uit te lewer aan foute van mense wat godsdiens bedryf. Dit is juis die kenmerk van godsdiens dat in tye van verwording en afvalligheid, hernuwingsbewegings die egter gesig van godsdiens herstel.

Die baie Christene wat tydens die xenofobiese aanvalle van ‘n tyd gelede in ons land skerp veroordeel het en daadwerklik ingespring het om die slagoffers by te staan, is maar een klein teken van hoe godsdienste ver verby kultuurgrense heen ‘n verskil kan maak. Terwyl groot groepe in ons samelewing teen buitelanders opgetrek het, hulle beroof, hulle besittings gesteel en hulle vermoor het, het godsdiens iewers hierdie proses gestuit.

Uit Kirsten se artikel kom ‘n belangrike vraag na vore: hoe kan die kerk oor God praat op ‘n manier wat verstaanbaar is vir mense in die kultuur waarin hulle hul bevind sonder dat die boodskap van die kerk verskraal word tot die kulturele taal, kodes en konvensies van die tyd. Uit die artikel kom die groot vraag na vore: wat is die dieper antwoorde omtrent God wat mense in alle tale en kulture ervaar? Hoekom gebeur dit dat ‘n mens in Japan saam met Christene kan aanbid, soos in Nederland en in Zimbabwe en iewers weet dat ‘n mens dwarsoor kulture heen een van hart en sin met mense in daardie plekke kan wees? Wat van Gamaliël? En Gandhi?

Die interessante is dat dit juis van die grootste vrae is wat in die mistiek gevra is.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive