Saturday, December 19, 2009

Wanneer kliënte nie meer mense is nie... Oor spiritualiteit en die sake-wêreld

Die kersvakansie is al vroeg in ons familie beplan – die kinders het almal reeds in Maart hulle vliegkaartjies gekoop en al hulle reëlings vir hul lankverwagte vakansie by die huis in die kerstyd is getref.

Ons gaan almal die kerstyd bymekaar wees. Ons is dankbaar en bly. Dit is die tyd vir bymekaar wees. Dit is ons goue tye.

En so kom die eerste twee aan –elkeen met ‘n eie verhaal oor ‘n jaar wat verby is, oor hulle laaste reëlings, met tasse vol aankopies, volgepak van kersgeskenke, terwyl hulle veel te vertel het oor die uittog en optog na die lughawe en uiteindelik die vlug na die verre land totdat hulle veilig land en oor ‘n koppie tee die eerste kuier kuier.

Toe kom Joekie, die laaste een, aan die beurt. Sy vlieg British Airways, maar in een van daardie totaal bisarre situasies moet sy van Frankfurt met ‘n British Airways vlug oor Heathrow na Kaapstad vlieg. Haar kaartjie is goedkoper van Frankfurt, hoewel dit presies dieselfde vlug is waarvoor sy ‘n paar honderd pond moet betaal as sy net in Heathrow op die lughawe klim. Dit is werklik bisarre. Die enigste nadeel van die goedkoop vlug is dat sy van Heathrow na Frankfurt moet vlieg – maar selfs met die ekstra vlug spaar sy nog ‘n reuse bedrag geld. Sy vlieg dus Heathrow – Frankfurt – Frankfurt - Heathrow – Heathrow - Kaapstad. Bisarre. So spaar ‘n mens deesdae geld. Dit is kapitalisme.

Om veilig te speel, kry sy die oggend om 7h20 uit Heathrow ‘n vlug Frankfurt toe, wat haar genoeg tyd gee om vroeg-middag terug te vlieg Heathrow toe vir die nagvlug Kaapstad toe. En toe, omdat sy so vroeg vlieg, gaan slaap sy veiligheidshalwe die vorige aand in ‘n hotel op Heathrow.

Alles goed gereël en fyn beplan, maande voor die tyd. Ons is almal gerusgestel.

Maar toe sneeu dit die oggend en word haar vlug na Frankfurt gekanselleer. Dit is net ‘n snuffie sneeu, maar genoeg om Heathrow net daar lam te lê. Om een of ander rede het British Airways net nie die vermoë om die bietjie sneeu te hanteer nie.

Sy word later wel op ‘n later vlug geplaas. Sy kom tog veilig in Frankfurt aan. Daar geland, hoor sy haar vlug terug Heathrow toe is met twee uur vertraag – wat sou beteken dat sy nie haar vlug na Kaapstad vanaf Heathrow gaan maak nie. En op Frankfurt se groot lughawe in nêrens ‘n enkele siel van British Airways te sien om die passasiers in te lig oor wat aangaan en by te staan met moontlike alternatiewe vlugte nie. Uiteindelik kom sy op Heathrow ses minute aan nadat haar vlug Kaapstad toe vertrek het.

Op Heathrow, waar die meeste vlugte na Europa gekanselleer is, is dit chaos. Onbeskryflik. Om een of ander rede is die groot lugdiens, British Airways, nie in staat om genoeg nood-personeel bymekaar te bring om die situasie te hanteer nie. Niemand kan hulle met gesag inlig oor hotelreëlings nie.

Later, in al die chaos, word hulle so bietjie gehelp. Hulle slaap die aand in ‘n hotel wat vir hulle gereël word. Sy kry ‘n nommer in die hand gestop wat sy moet bel vir ‘n vlug om haar gekanselleerde vlug te vervang. Teen een uur die oggend bel sy nog rond om haar sake te reël. Sy kry van die noodnommer (wat haar met iemand in die VSA verbind) ‘n vlug Kaapstad toe – vier dae later.

Net so, sommer sonder seremonie, word vier kosbare dae van haar veertien dae se verlof van haar afgeneem. Niemand knip ‘n oog nie. Dit is hoe dinge is en so sal dit wees.

Teen dagbreek is sy weer op die lughawe – hierdie keer om haar tas te kry. En die personeel ruk net hulle skouers op. Haar tas is weg. Uiteindelik spoor sy self die tas in die reuse-bagasiesaal tussen duisende ander op en val toe weer in ‘n tou om haar verdere vlugreëlings te verander. En, nadat hulle sewe uur (ja, sewe!) in ‘n tou staan, kom sy by iemand uit wat vir haar môre ‘n vlug reël. Een dag vroeër. Sy hoef dus net drie dae van haar verlof op te offer.

Tuis, moeg en gedaan van die spanning en onsekerheid en na ‘n menigte telefoonoproepe tussen ons almal, sit ons en praat oor die totale ongeërgdheid van een van die grootste lugdienste in die wêreld oor die persoonlike situasie van honderde mense wat deur ‘n lagie sneeu uitmekaar geruk word.

Joekie bel weer om te vertel watter chaos op die lughawe heers. En, vertel sy, die verhale wat daar vertel word, is tragies. Haar storie is nie naasteby die ergste nie. Ja, sê Elsje, dit is onvoorstelbaar. Onthou, vertel sy, daar is, soos gebeur het, ‘n bruidegom wat twee dae voordat hy trou, huis toe vlieg. Hy kom op die lughawe aan en hoor sy vlug is gekanselleer.

Ek dink oor die etiek in ons sake-wêreld. In ‘n konteks waar winste nommer een is, geldmaak jou hoogste prioriteit is, is die prys wat mense betaal te hoog. Die nood van iemand wat moet huis toe gaan, die frustrasie van iemand wat maande lank versigtig beplan het, die moegheid van iemand wat na ‘n jaar se taai gewroeg en gewerk ‘n blaastydjie oor die kerstyd saam met familie wil deurbring is nie ‘n faktor nie. Jy kan sommer net so drie dae van iemand se vakansie steel. Sonder konsekwensies. En sonder om ‘n nag se slaap te verloor oor iemand anders se frustrasie, nood, trane en ellende nie.

Deesdae is daar regulasies in plek wat lugdienste dwing om passasiers te vergoed. (Lyk my, die bietjie etiek in ons sisteem is maar “van bo” af op ons afgeforseer). Maar, sê een van die personeel aan haar, sy moet nou maar van haar assuransie eis. Die lugdiens kan nie help as dit sneeu nie. En net om die draai sê ‘n ander een vir haar maar sy kan ‘n sekere bedrag wel van die lugdiens eis. Hoe nou gemaak? Wie is reg? En hoe vind sy uit wat reg is – nadat sy twee volle dae lank van bakboord na stuurboord gejaag is? En dit terwyl sy eintlik in Kaapstad by haar familie moes gewees het? En wat van al die mense wat nie haar inisiatief aan die dag kan lê nie? Mense wat nie, soos sy, internet-bedrewe is en dikwels antwoorde kan uitsnuffel op plekke en maniere waarvan ander niks weet nie?

Terwyl ek hieroor nadink, dink ek terug aan ‘n voorval twee weke terug: Ek sit en gesels in Windhoek by ‘n gesinsvriend. Sy bestuur ‘n groot sentrum waarvan die voorsitter skielik aan ‘n hart-aanval gesterf het. Sy is kennelik diep ontsteld. Sy het dadelik die weduwee besoek en ook gereël dat die sentrum ‘n meelewings-advertensie in die koerant plaas. Maar, vertel sy, hulle het gereël dat die advertensie eers geplaas sal word nadat die familie se aankondiging in die koerant verskyn het.

Ek sit nog lank en dink oor hierdie sensitiewe gebaar van haar kant af. Haar begrip vir die seerkry van die familie en haar respek vir hulle gevoelens.

Spiritualiteit onderstreep dat ons lewens te doen het met verhoudings. Waar God ‘n mens aanraak end opneem in ‘n verhouding, maak dit ‘n mens sensitief vir God, maar ook vir ander. Ook in die besigheidswêreld gaan dit om verhoudings waarin die menslikheid van die ander nommer een moet wees. Per slot van sake is jou passasiers mense, nie ‘n paar geld-note nie.

Daar is iets baie sieks aan ‘n sisteem wat wins sy hoogste oogmerk maak.

Ek dink nuut oor die Wyse Een wat oor die kameel en die oog van die naald gepraat het. Die sug na rykdom vernietig menslikheid. Dit bevorder gierigheid, ongevoeligheid en bring groot hartseer in ons wêreld.

As sake-mense maar net kan insien dat ons steeds in verhoudinge leef en dat ons ook in die sake-wêreld altyd weer op een of ander vlak met mense werk.

As die besigheidswêreld maar maande lank wil beplan aan maniere om die menslikheid van hulle kliënte te respekteer soos baie van ons maande lank aan ons kosbare tye beplan....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive