Monday, December 07, 2009

Om vreugde te deel

Gedeelde vreugde, sê ons, is dubbele vreugde. Dit beteken dat vreugde eintlik saam met ander gevier wil word.

Dit sien ‘n mens veral in ‘n godsdienstige konteks. Die eerste gemeente was ‘n groep mense wat “met diep ontsag” gevul was (Hd.2:43) – veral oor die bediening van die apostels. ‘n Mens sou, in ou taal, dit kon weergee as dat hulle in vrees voor God geleef het. Maar hierdie vrees het niks met angs te doen gehad nie. Want, lees ons, as eensgesinde groep mense het hulle ook hulle “kos met blydskap gedeel” en – as laaste klimaktiese kenmerk “God geprys.” In hul eenvoudige maaltye (Hd.2:46) was vreugde teenwoordig. Maar in hul dieper, geestelike lewe en in hul verhouding met God was hulle bly, lofprysende mense (Hd.2:47).

Dit is opvallend hoe die mees fundamentele aspekte van die kerklike lewe ingerig is op oomblikke en ervaring van vreugde:

Liedere en musiek is byvoorbeeld 'n wesenlik deel van die erediens. Dit is ‘n natuurlike manier om ‘n mens se blydskap uit te druk. Musiek, veral musiek wat ‘n mens innerlike vreugde gee, kan ‘n erediens ‘n besondere ervaring maak. Ons sing “lekker,” en die sang in die kerk was “pragtig” is die soort van kommentaar wat mense se plesier en vreugde in die erediens uitdruk. Gepaste woorde, bekende melodieë, entoesiastiese begeleiding en ‘n gemeente wat voluit meedoen werk aansteeklik sodat min mense onaangeraak bly. Die vreugde werk aansteeklik. Gedeelde blydskap is inspirerend en transformatief. Daar is min dinge soos musiek om ‘n groep mense saam te bind. Iemand wat lank uit die kerk weg was en wat na ‘n tyd weer ‘n diens bywoon, word deur ‘n eerste reël al meegesleur.

Maar ook die prediking - as verkondiging van die blye nuus - is op vreugde gerig.

Nou onlangs sit ek in ‘n erediens waar die prediker skielik stil raak. Hy is normaalweg ‘n vrolike mens wat sonder opgesmuktheid altyd pitkos met sy gemeente deel. Hy vertel skielik hoe hy die vorige week een van die ouer gemeentelede by sy sterfbed begelei het en toe begrawe het. Hy is nie sentimenteel of soetsappig daaroor nie. Sy woorde word stadig gekies – sonder hoogdrawendheid, sonder om die week se gebeure erg dramaties oor te vertel. Maar in die eenvoud van wat hy sê kan ‘n mens agterkom hy praat meer as gewoonlik uit sy hart uit. En op ‘n sekere stadium praat hy al hoe stadiger totdat hy vir ‘n oomblik stil word. Dit is asof hy nie woorde kry om verder te gaan nie en dit is asof hy versigtig wil wees sodat hy van hierdie gesprek met sy gemeente nie ‘n melodrama wil maak nie. Maar ‘n mens kan ook aanvoel sy emosies sit vlak. Hy moet mooi praat om rustig te kan kommunikeer.

En toe vertel hy dat hy in die week van afskeid, skielik op ‘n stadium bewus geraak het van al die goedheid wat die gemeente met mekaar deel en hoeveel vreugde daardeur in mense se lewens ingedra word. Selfs in tye van seer- en swaarkry is die beste in mense se lewens op te merk. En ‘n mens kan sien dit het hom geraak dat hy in die tyd van hartseer kon terugval op al die blydskap wat hy van so baie kante ervaar het. Gedempte vreugde. Gelouterde blydskap. Vreugde, maar selfs die herinnering aan vreugdevolle tye kan ons deur swaar tye orent hou en dra.

Dis moeilik om oor sulke dinge te praat sonder om aansitterig te wees. ‘n Gemeente kyk gou oppervlakkigheid uit. Vreugde kan nie aangesit word nie. Vreugde kan ook nie opkom uit ‘n hart wat kil geword het, wat sonder hoop leef, wat self nie heel is nie. Wee die prediker wat angstig is, wat depressie het, wat innerlik woes en leeg leef. Daardie leegheid straal deur en kan nie deur gemaakte blydskap verberg word nie.

Gedeelde vreugde is intense vreugde. Ons is aanmekaar verbind deur al die blye tye wat ons deel. Altyd is vreugde ‘n grondtoon van ons geestelike lewe. As ons dit nie het nie, is dit nodig om weer God op te wag – want in ons verbintenis met God word vreugde gebore.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive