Friday, December 25, 2009

Uit niks gevorm - oor spiritualiteit as transformasie

Die Apostoliese Geloofsbelydenis begin met die verwysing na God as “die Skepper van hemel en aarde.” Daarmee word uitdrukking gegee aan ‘n belangrike aspek van die Christelike geloof. Die Skeppingsgedagte word herhaaldelik in die Bybel uitgewerk.

Veral op ‘n kersdag in die Suidelike halfrond is ‘n mens bewus van die goddelikheid van die skepping. Die aarde, die natuur is die werk van God se hand. Maar die belydenis van God as Skepper sluit ook die skepping van elke mens in.

Psalm 139:13 vertel: “U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.” Daarom is die mens wonderbaar.

God “vorm” ons en “weef” ons. Reeds van die begin, voor ons geboorte, voordat ons daarvan bewus is, vind daar in ons verhouding met God transformasie in ons plaas wanneer God ons “skep.” Ons word vanuit ons “ongevormdheid” (Ps.139:16) en “losse” bestaan in die skepping om-“vorm.”

Hierdie skeppingsgedagte is nie maar net ‘n interssante feit waaroor ‘n mens allerhande redenasies kan uitwerk nie. Dit is iets wat in ons geloof oproep. Die insig en ervaring van ons transformasie in ons skepping is iets wat as ‘n mistieke krag in ons geloof aan die werk is. Waaijman skryf dat die skepping in ons bewussyn indring en dit deurdring. Ons voel aan en leef bewustelik uit die ervaring dat God ons op ‘n merkwaardige manier tot stand gebring het. Die gelowige bely daarom met verwondering sy eie skepping en loof God daarvoor. Psalm 139:14 skryf: “Ek loof U omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is U werke! En my siel weet dit alte goed.”

Wanneer ons die skepping bely, raak dit ons geloof besonder sterk. Ons is bewus daarvan dat God van alle tye af ‘n verhouding met ons aanknoop wat vir ons tot ‘n kunswerk vorm. Alles wat ons is, kom van God. Was dit nie vir God nie, sou ons nie tot die wonder gevorm gewees het wat ons nou is nie. Ons het ‘n diepe verbondenheid en eenheid met God. Dis ‘n mistieke band wat ons vier. Ons is klei in God, die pottebakker se hand (Jes.18:2-6). Ons was vormloos, maar God het aan ons ‘n vorm gegee. Ons was niks, maar God het ons tot mens gemaak.

Op Kersdag wanneer ons aan vrede op hemel en aarde dink, herdenk ons die nuwe skepping in Christus. Maar hierdie hernuwing en her-vorm-ing is maar net nog ‘n dimensie in die proses wat reeds lank tevore gebeur het toe God ons geskep het en daar ‘n onlosmaaklike band tussen ons en God ontstaan het.

In die geloof “ervaar” ek in verwondering hierdie band met God. Ek weet dit, ek voel dit, ek beleef dit. Daarom “loof” ons God” (Ps.139:14). In die skepping het God baie na aan my gekom deur my uit vormloosheid te transformeer.

‘n Mens “juig” net soos in Psalm 139:14 as jy ‘n kragtige ervaring gehad het. Wanneer ‘n mens bewus word van God se transformasie in jou skepping, maak dit ‘n sterk krag in jou los. Dit is ‘n wonderbaarlike oomblik wanneer ‘n mens op ‘n dag bewustelik beleef dat jy “niks” is sonder God nie. Dit is dan wanneer ‘n mens besef dat werklike vrede ervaar word as ons in eenheid met God leef.

Wanneer ons sê dat spiritualiteit te make het met die transformatiewe verhouding tussen God en mens, impliseer ons daarmee ‘n rykdom van betekenisse. Dit raak nie net ons transformasie uit die sonde nie, maar die goddelike transformasie begin van die eerste oomblikke van ons bestaan. En daarmee verstaan ons hoe grondiglik ons aan God verbind is. Sonder God kan ons nie bestaan nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive