Sunday, December 20, 2009

Kerstyd as fees van die egte liefde

Thielicke skryf in sy boek oor die Apostoliese Geloofsbelydenis (“Ich Glaube”) dat die kerstyd in teologiese taal abstrak uitgebeeld word met die uitdrukking dat God “mens” of “vlees” geword het. Hierdie “vleeswording” lyk op die oog af baie eenvoudig en byna niksseggend. Maar wanneer jy hierdie teologiese taal “vertaal” in wat gebeur wanneer God mens word, lyk dinge baie anders.

Thielicke vergelyk die vleeswording met die Griekse Gode wat vlugtelings aardse besoeke afgelê het. Maar anders as die gode, het God nie net ‘n ogie kom gooi wat op die aarde aangaan nie en mense reggesien nie.

God het mens geword deur te deel aan al ons angste, onsekerhede, versoekinge, swakhede en lyding.

Ek is geboei deur Thielicke se vergelyking van God se vleeswording met die huwelik: ons is almal op die dag van ons troue vol sterretjies in ons oë. Dit is ‘n romantiese tyd van die bruilof waarin ons ewige trou en liefde aan mekaar beloof. Maar hierdie romantiese oomblikke is die tye van maklike liefde. Egte liefde kom na vore wanneer ons in die moeilike tye vir mekaar lief bly, wanneer die slegte tye kom, wanneer die tye van mislukking en oneerlikheid ons oorval en ons bymekaar bly.

Christus se menswording was van die begin af ‘n verhouding waarin hy ons goeie en ons slegte oomblikke gedeel het. Christus het die eenvoudigste plek uitgekies om gebore te word – ‘n stal. As kind vlug hy na Egipte met sy ouers. Christus het deel gekry aan ons aanvegtinge in die woestyn en in Getsemane – hy het geworstel om die wil van die Vader te begryp en uit te leef. In hierdie moeilike tye het Hy getrou gebly. Enduit het hy die pad van liefde geloop. God kies nie net die maklike, goeie bruilofstye uit om by ons uit te kom en by ons te bly nie.

Wanneer ‘n mens iemand werklik lief het, is daardie persoon se pyn jou pyn. In ‘n intieme verhouding kies ‘n mens nie net die lekker tye uit om by jou maat te bly nie. Jy wil daar wees as dinge skeef loop – hoe swaar dit ook al vir jou is. Jy wil nie beter daaraan toe wees as jou maat wanneer sy of hy seer het, treur, ly, ongelukkig is of swaar kry nie. Trouens, jy wil dikwels eerder dat die slegte tye eerder oor jou kom as oor jou maat.

Ons vrolike kerstyd is inderdaad ‘n vrolike tyd omdat dit vir ons oor God se durende, onuitputlike liefde vertel. God knoop met ons ‘n verhouding aan waarin God volledig wil deel in alles wat ons ervaar – ook die minder goeie tye. En God neem ons lyding oor. Ter wille van ons wou Hy deurboor word.

Kerstyd is die fees van die liefde wat in hierdie gebroke wêreld kom woon – in die goeie en in die slegte tye. Dit is die fees van die egte liefde. Dit is tog die merkwaardige – dat God verlang om by ons te wees en dat God nie wil hê dat dit met ons slegter gaan as met God nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive