Friday, December 04, 2009

Blydskap val nie uit die lug nie. Oor lewensvreugde.

Die dood van Chris Louw was hierdie week voorbladnuus. Hy het gekies om sy lewe te beëindig, omdat hy volgens die berigte in die koerant genoeg gehad het. In kommentaar op sy dood het geskokte kollega’s en vriende gesê dat sy dood ‘n teken is van ‘n wye malaise en ‘n wydverspreide gevoel van donkerte/depressie onder groepe in ons land. Sy dood aan sy eie hand is ‘n oproep aan almal in magsposisies om te begryp hoe diep die negatiewe lewensgevoel onder mense loop.

En daar is inderdaad grootskaalse swartgalligheid oor die situasie van korrupsie, misdadigheid, agteruitgang van dienste en uiterste vorme van rassisme. Radioprogramme en lesersbriewe vertel maar te duidelik hoe diep bekommerd en selfs wanhopig baie mense geword het.

‘n Mens assosieer nie vir Chris Louw met wanhoop nie. Hy het, toe min ander mense die insig gehad het, en nog minder die moed gehad het, die apartheidsisteem grondiglik en met ‘n bewonderenswaardige dapperheid bevraagteken. Ek onthou hoe graag ek sy uitdagende skryfwerk gelees het. Vir my was hy ‘n belangrike naam lank voor die Boetman-debat. Terwyl die magshebbers in die politiek, kultuur en in die kerk ‘n monolitiese bolwerk gevorm het wat geen debat geduld het en kritiese stemme doodgedruk het of gemarginaliseer het, het hy deur sy vreeslose kommentaar ‘n diep indruk op my gemaak. Hy het, ook vir ons destyds as jong teoloë en predikante in die kerk hoop gegee. Sy stem was vir ons ook bevrydend, ironies genoeg. Ek het respek gehad vir sy etiese en spirituele waardes. Dit, het ek gedink, is ‘n kragtige bron om te veg vir transformasie.

Natuurlik het hy sy donker kante en sy venynige oomblikke gehad. Maar oor sy integriteit sou niemand kon twyfel nie en oor sy boodskap dat ons moet werk vir geregtigheid en ‘n bestel van gelykheid sou ‘n mens net geïnspireer kon wees. Ek sal hom onthou as iemand wat in my lewe ‘n belangrike rol gespeel het – al het ek hom nooit persoonlik geken nie.

Maar daar is iets anders wat my vandag aan hom laat dink. In my leeswerk kom ek gister af op Anselm Grün se “Je Eigen Spiritualiteit ontdekken.” Hy skryf daarin oor lewensvreugde en veral oor die feit dat ons samelewing so vreugdeloos geword het. Na aanleiding van sy gedagtes het ek nagedink oor dit wat keer dat ons ons lewensvreugde verloor en aan ons eie donkerte ondergaan. Lewensvreugde is nie maar net ‘n sekere emosie wat ons bestaan mooi maak nie. Dit is die sleutel tot oorlewing. En as ons lewensvreugde verloor, kom ons dikwels tot die punt dat ons nie meer kans sien om te lewe nie.

Grün wys daarop dat die wanhoop en depressie van ons tyd kontrasteer met die Bybel wat wemel van die feeste. Hierdie feeste wat met vreugde gevier is, vertel van ‘n wesenlike kenmerk van ons godsdienstige erfernis. Dit is reeds die geval in die Ou Testament, waar mense hul lewensblydskap gedurig uitsing wanneer hulle hierdie spesiale gebeurtenisse meegemaak het.

Maar, vervolg Grün, die geestelike lewe is nooit maar bloot net vol blydskap nie. En hy is reg. Dit is waansinnig om te dink dat die lewe net uit vreugde kan bestaan. En dit is net die grootste dwaas wat godsdiens met permanent vreugde verbind. Elke lewende wese weet dat die lewe ook verdrietig kan wees, dat daar dae kom dat ‘n mens soggens nie wil opstaan nie en net die kombers oor jou kop wil trek en in jou bed vir ewig bly lê. Daar is baie dae dat ons lusteloos is. Of niks meer het om na uit te sien nie. Daar is dae wat ons woedend raak. Ons ontstel ons. Ons baklei soms weke om. Ons raak soms siek. Of ons word afgedank. Of ons beland in finansiële nood. Of ons twyfel oor ons toekoms. Of ons het teenspoed by die werk. Of mense ignoreer ons. Of doen ons skade aan. En dit alles maak van ons treurige, ongelukkige en onvervulde mense wat ons omgewing aansteek en negatief beïnvloed.

Wat waar is van ons godsdienstige lewe, is ook waar van ons gewone lewe. Ons kan die wonderlikste oomblikke van vreugde ervaar, maar dan kan ‘n enkele woord, ‘n nuusberig, ‘n kwaai kyk, ‘n stuk kritiek of ‘n klein gebeurtenis ons dae lank van ons vreugde beroof. Dit bly vir my ontstellend om te hoor en te sien hoe hierdie emosies en negatiewe gevoelens hoogty vier in die lewe van mense, veral ook by gelowiges. Daar is niemand op die wêreld wat aan hierdie donker dinge kan ontsnap nie. Selfs die mens wat met ‘n groot glimlag op sy of haar gesig rondloop, ken hierdie donkerte.

En dit alles leer die Bybel self vir ons. Die beste simbole daarvan is die slawerny in Egipte, die moeisame tog deur die woestyn, die kruis van Jesus en die aanvegtinge van die eerste Christen-getuies. Daar is werklik tye van groot treurigheid. Ons godsdiens ken sy slegte oomblikke. Die Bybel vertel vir ons duidelik hoe treurig mense kan raak.

Maar die verskil tussen Bybelse en moderne tye is: sommige mense word slagooffers van hulle donker dae en slegte oomblikke. Ander weer besef dat die lewe uit baie meer dinge bestaan as net die donker oomblikke. Hoekom moet hierdie ongelukkige oomblikke bobaas word en jou lewe stuur? Hoekom moet jy toegee aan jou vrees, jou smart? Hoekom moet jy ondergaan aan jou teleurstellings? Die lewe is tog groter as die slegte dae en die rou oomblikke.

Die Bybel vertel vir ons van die goeie tye vol blydskap wat die geskiedenis van allegelowiges kenmerk. Maar, as ‘n realistiese boek vertel dit vir ons ook hoe die grootste geloofshelde diep, donker oomblikke van pyn, vertwyfeling en hartseer geken het. Daar was in hulle lewens die goeie oomblikke én die slegte oomblikke. Die verskil is net: Die Bybelskrywers steek nooit vas in hierdie donker oomblikke nie. Deur voor God fees te vier in die Ou Testament, het Bybelskrywers geleer dat ‘n mens verby jou donkerte moet leef. Hoewel ‘n mens blydskap én treurigheid beleef, weeg die blydskap altyd swaarder. Deur blydskap te onderstreep word die treurighede gerelativeeer. Deur hoop te verkondig, word wanhoop ingeperk. Deur op genesing te fokus, word die pyn besweer.

Die perspektief is anders: ‘n mens kyk na die treurige dae vanuit die hoek van die vreugde in die goeie dinge. Jou vreugde word die raamwerk waarin die treurige oomblikke pas. ‘n Mens kan so behep raak met jou donker dae, dat jy onvermydelik daaraan sal ondergaan. Dit is soos ‘n spiraal waarin jy al dieper en vinniger na ondergetrek word. Jy word al hoe dieper in jou eie donkerte ingetrek, totdat jy daardeur vernietig word. Of ‘n mens kan so diep ingewortel wees in God se liefdevolle teenwoordigheid dat ‘n mens ook die donker tye met God kan bewandel.

Paulus kon in ‘n tronk, die treurige plek van geselslae en van pikdonkerte, om middernag vreugdesliedere sing (Hand.16). Natuurlik kon hy dit doen omdat hy geweet het hy lewer ‘n getuienis teen onreg. Hulle het hom voos geslaan (Hand.16:22-23), in kettings geboei en onregverdiglik sonder verhoor opgesluit (Hand.16:37). Hier lewer hulle ‘n getuienis vir die waarheid en geregtigheid – wat al ‘n rede tot blydskap is. Maar hy het ook om ‘n ander rede gesing: hy het geweet sy lewe is veilig in God se hande. Hy het geweet dat niemand die verborge lewe van hom kon wegneem nie. Hy het, volgens Hand.16:25, liedere “tot God” gesing.

Dit is nou die Paulus wat aan sy gemeente geskryf het: “Verbly julle”, maar wyslik bygevoeg het: “ in die Here.” Dit is nie maklik om van ‘n mens se depressie ontslae te raak nie. Ons lewe sal gedurige die tye van treurigheid ken. Dit is ‘n hele oefening om vreugde te leer leef. Maar dit is moonlik – al is dit hoe moeilik. Paulus het ook, opmerklik genoeg, dit nodig gevind om by te voeg: Verbly julle “altyd” in die Here. Vreugde moet gesoek word – dit val nie sommer uit die lug nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive