Die kersverhaal, skryf Thielicke, is soos ‘n stuk bladmusiek wat uit twee note-balke bestaan: die boonste balk (vir die regterhand) en die onderste balk (vir die linkerhand).
Met kerstyd het ‘n mens al die aardse gebeure – geskryf op die een note-balk. Al hierdie note vertel van die menslikheid van Jesus se geboorte: sy geboorte van in ‘n dorpie in Israel, in ‘n stadjie wat vir Israeliete die plek was van hul Joodse koning Dawid. Maar hy word in ‘n stal in die wêreld gebring – in ‘n ongemerkte, doodgewone plek word Hy gebore. Hy is die seun van ‘n onbekende pa en ma, gewone burgers van die land. Daar is die toeskouers – die skaapwagters, gewone mense uit die veld, werkers uit die ongerekende dele van die samelewing.
En dan is daar die doodgewone reaksie op hierdie geboorte deur die omringende wêreld: Watter verskil maak hierdie geboorte-verhaal van ‘n kind wat iewers in ‘n dorpie die eerste lewenslig aanskou dan tog aan die wêreld wat argeloos met sy groot besigheid omgaan? Daar is eeder die harde werklikheid: die massa’s mense, skryf Thielicke, wat in die dorp vir die sensus saamdrom, die gebrek aan verblyf vir al die besoekers en die genadeloosheid teenoor hulle wat nie iewers ‘n oornagplek kan bekostig nie.
Hier gebeur maar een van die gewone dinge, net nog een van duisende geboortes.
Maar dit is nie die hele verhaal nie. Die ander kant van die melodie moet ook gehoor word, anders is die lied vals en onvoltooid. Daar is naamlik die ongewone, goddelike perspektief op hierdie gebeure: die engele, die stil nag, die geopende hemel, die vredeslied, die goeie nuus.
Albei hierdie note-balke saam gee vir ons die melodie van kersfees. En hierdie melodie sing vir ons oor God en oor die mens. Thielicke praat van God wat vanuit ‘n heel ander ruimte in ons menslike ruimte inbreek. Hier vloei die menslike en goddelike in een lewende stroom water saam wat vir ons aarde water sal gee om vir altyd die dors na die dieper dinge te les. En hoe diep loop die betekenis van die kerslied nie – God skep nie net die mens en die wêreld nie, maar tree meer intensief as ooit in ‘n verhouding met die mens. Kersfees is die tyd van die groot vernuwing. Nou woon God onder die mensdom soos nooit tevore nie. God kom nog nader as ooit tevore aan die skepping.
Matteus het dit op sy eie manier uitgedruk in die bekende woord: Immanuel. “God met ons” is die frase waarmee ons probeer verduidelik wat die vleeswording en die kerstyd beteken. Daar is ‘n onverbreekbare band wat tussen God en die mens geskep word. Hierdie intieme band kan miskien ongesiens aan die wêreld verbygaan. Maar vir die gelowige is die tekens duidelik: as God met ons kom leef, is die gevolge dadelik merkbaar. Die atmosfeer is elektries. Dinge is anders. Skielik lyk die toekoms vol hoop, al loop die wêreld origens nog op sy ou kontoere of al raak die owerhede onrustig en doodsgevaarlik. Dit is die eintlike melodie wat deur die boonste ry note uitgesing word, al lyk dit op die oog af of nie veel verander het nie.
En hierdie dubbele karakter van die kersboodskap bly by ons. Ons het nog ‘n lang pad om met hierdie vredesboodskap te loop, al het ons vir twee millennia al ver gevorder. Daar is onvrede in ons wêreld, en meer nog in ons lewens. Maar dit is ‘n pad wat ten spyte van sy baie kronkels, iewers heen lei. Ons is al veertig jaar in die woestyn, maar die beloofde land wag op ons. Ons vind wel op ons reis die oomblikke van vrede en rus, die oasisse wat ons verfris en nuwe moed gee.
Ons kan met kersfees allerhande vrae vra oor wat nou regtig daar in Bethlehem gebeur het. En as ons dit gedoen het, wil ons dikwels dan vra – “nou wat beteken dit vir my vandag?” Intussen gebeur dit jaar na jaar dat ons die kersboodskap lees en lank voordat ons enige vrae gevra het, geboei word daardeur. Deur net die verhaal te vertel, word iets aan ons verander. Ons sien die kindjie en ons voel: ja, hier ervaar ons iets so doodgewoons soos die lewe wat ons elke dag self beleef. En tog, wanneer ons die verhaal vertel, is dit elke keer asof ons iets diepers beleef. Daar is iets so spesiaals aan kersfees dat dit ons nader aan God bring. Ons wil wees by ‘n God wat vrede bring, wat ons in liefde omhels.
Dit bly tog oorweldigend – die kort tye dat ons net ‘n flits te ervare kry van die melodie van vrede, van God se teenwoordigheid. Hierdie mistieke oomblikke wanneer ons God se teenwoordigheid in ons lewe opmerk, die Immanuelsoomblikke, speel vir ons die toekomsmusiek. Hulle is proe-sels, voor-smake van die feesmaal wanneer ons in die teenwoordigheid van die oneindige sal wees. Ons is op pad na die toekoms wanneer God ons een sal maak met die Oneindige Volheid en Liefde.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2009
(275)
-
▼
December
(27)
- God van my lewe – oor God se oneindigheid
- God se ryke vergifnis - oor Jona 4:10
- Om terug te keer in God se verstommende goedheid. ...
- God omvorm die mensdom tot 'n radikale nuwe lewe. ...
- God se herskepping: Oor transformasie van ons misv...
- Om bewus te bly van hoe God ons transformeer.
- Uit niks gevorm - oor spiritualiteit as transformasie
- God die ewige se onbegryplike nabyheid - oor die w...
- Menslik en goddelik - oor die dieper betekenis van...
- Is godsdiens 'n stukkie kultuur?
- Kerstyd as fees van die egte liefde
- Wanneer kliënte nie meer mense is nie... Oor spiri...
- Egte vreugde - oor konformiteit aan Christus
- Die vreugde van verandering: Konformiteit aan Chri...
- Die ritueel van die liefdesreis. Oor ‘n spirituali...
- God maak die nuwe en maak nuut. Oor Spiritualiteit...
- ons biddende verhouding tot God. Oor oratio.
- Die daaglikse gevit en gesleur....
- Wat is vreugde?
- Kry 'n mens verskillende soorte spiritualiteit?
- Om vreugde te deel
- Om God te smaak en te sien. Wat is die mistiek?
- Vreugde kom tot hulle wat daarna soek. Oor lewensv...
- Blydskap val nie uit die lug nie. Oor lewensvreugde.
- Die Bybel as Woord van God wat alles gedurig bly o...
- In verwondering ingeruk – die kragtige ervaring va...
- Wat is Spiritualiteit? Om verby 'n kleinood te loo...
-
▼
December
(27)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.