Sunday, December 06, 2009

Om God te smaak en te sien. Wat is die mistiek?

Daar is nie juis enige twyfel wie die groot mistici uit ons geskiedenis is nie. ‘n Mens dink sommer dadelik aan ‘n paar van die bekende figure. Daar is Hildegard van Bingen en Bernard van Clairvaux uit die elfde eeu, , Meister Ekchart uit die dertiende eeu, Jan van Ruusbroec en Juliana van Norwich in die veertiende eeu, Ignatius van Loyola uit die sestiende eeu en vele ander tot op vandag. Hierdie skrywers word almal as sleutelfigure in die geskiedenis van die mistiek gesien. Hulle is bekend omdat hulle oor hulle mistieke ervaring geskryf het. En deur die geskiedenis is hulle werke deur duisende lesers gelees omdat mense in die boeke hul eie mistieke ervaringe herken het. ‘n Mens is nie net ‘n mistikus as jy oor jou mistieke lewe skryf nie. Trouens, die groot mistici is hulle wat in volkome prysgawe van hulself eenvoudige vervulling gevind het in hul verhouding met God. Hulle het doelbewus nie daaroor geskryf nie. Soms omdat hulle nie kon nie. Andersins omdat hulle nie wou nie. Of hulle het eenvoudig soveel vervulling in God gevind dat die res eenvoudig nie belangrik was nie.

Dit is interessant dat die bekende skrywers “mistici” genoem word. ‘n Mens lees ‘n mistikus se boek en jy weet sommer dadelik hier gaan dit om die mistiek. En tog, al ken ons die mistieke tekse, is ons gedurig aan die uitpluis wat die mistiek nou werklik is. Die woord “mistiek” kan op versikillende maniere verstaan word.

Wat mistiek is, word soms op ‘n heel eenvoudige manier in die Bybel self verduidelik. Die geleerde kenner van die Joodse en Christelike mistiek, Scholem (in sy beroemde werk, “Die jüdische Mystik,” pp.6-7) , wat van die belangrikste moderne werke oor die mistiek geskryf het, dink dat ‘n mens mistieke insigte kan saamvat deur by Psalm 34:9 te begin.

Die Nuwe Afrikaanse Vertaling het ‘n taamlike flou weergawe van die Hebreeuse teks: “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is!” Geloofservaring, dus – hierdie “ondervind” van God se goedheid. ‘n Mens dink onmiddellik aan spiritualiteit as geleefde geloof. Die Ou Afrikaanse vertaling gee die Hebreeus baie beter en poëties-letterlik weer: “Smaak en sien dat die Here goed is.” Smaak (!) en sien (!) die goddelike goedheid.

Die vers vertel dus vir ons dat gGelowiges op ‘n besondere intieme manier die direkte en onmiddellike teenwoordigheid van God ervaar – so naby, so volmaak deel van ‘n mens se lewe dat ‘n mens saam met die Psalmis die Here se goedheid “smaak en sien.”

Iewers lyk dit amper na ‘n teenspraak – dat ‘n mens die goddelike goedheid kan smaak en sien. Die mistiek wil juis eintlik die onmoontlike doen. Aan die een kant gaan die mistiek oor die ondenkbare – dat ons God se teenwoordigheid ervaar. Hierdie oorrompelende gebeurtenis moet nou oorvertel word in menslike woorde. Hoe kan God wat die begin en oorsaak van alle dinge is, wat die mens en die skepping tot stand gebring het, wat ver bo ons begrip is, wat in mensewoorde nie vasgevang kan word nie, deur die mens ervaar word? Dit is ondenkbaar en onvoorstelbaar. Ons staan voor die verborgene, die geheimenis, dit wat alles van ons ontsnap, wat ons nie kan vasvat en peil nie. En op een of ander manier skiet ‘n vonk, nuwe lewe oor van God na ons. Ons staan voor die diepe verborgenheid, maar ons word terselfdertyd daardeur aangetrek en geroer.

En dan volg die verdere kwessie: hoe kan ‘n mens hierdie unieke, onvoorstelbare ervaring nog boonop in menslike woorde vaslê? Hoe vertel ‘n mens wanneer jy God se onpeilbare aanraking ervaar het?

Die mistici worstel dus met die “onwerklikheid” of die “bo-werklikheid” van die mistieke ervaring. Hulle ervaar vir God wat buite ons klein, beperkte werklikheid bestaan. Maar mistieke skrywers het ook ‘n intense worsteling om hierdie unieke mistieke ervaring in menslike woorde uit te druk. Hier het ons te doen met die konflik tussen mistieke “denke” (ons menslike gedagtes en woorde) en mistieke ervaring (ons geloofsbelewing). Reeds op ‘n heel gewone vlak worstel ‘n mens daarmee: hoe vertel ‘n mens aan ander wanneer God jou aangeraak het? Waar vind jy die woorde wat goed goed genoeg kan sê hoe ‘n mens God se teenwoordighed beleef het?

Ek hou van Scholem se opmerkings oor hierdie verborge ervaring. Hy wil beklemtoon dat mense ‘n godsdienstige ervaring of belewenis het wat uniek is. Dit is ‘n ervaring wat alles omkeer en verander. Die mens word losgemaak van hom- of haarself (soms ook “ekstase” genoem). Dit is ‘n oneindige verrukking, die innerlike van die mens word tot die hoogste vlak opgetel (“den endlichen Aufschwung der Seele zur höchsten Stufe). ‘n Mens moet net vir Kierkegaard en Pascal se mistieke belewenisse te lees om te besef waarmee ons in die mistiek te doen het. Ons is voorwaar op heilige grond.

Scholem merk op dat skrywers dikwels van mistiek praat as “die vereniging met God.” Maar daar is weer heelwat skrywers oor die mistiek wat nie van hierdie beskrywing hou nie – veral nie omdat dit lyk asof so ‘n beskrywing die grense tussen God en mens uitwis en uiteindelik die mens vergoddellik. Dan sou dit beteken dat die mens sy eie afsonderlikheid prysgee en heeltemal in God opgaan. Die gedagte dat die mens vergoddellik word is nogal gewild in ons tyd met sy groot belangstelling in die panteïsme en daarom iets om op bedag te wees.

Dit beteken nou nie dat hierdie beskrywing nutteloos is nie. Mistiek as die vereniging van die siel met God is wel deeglik ‘n treffende beskrywing: dit gaan immers om God wat op ‘n intieme manier met die mens ‘n verhouding aanknoop – God wil juis een word met die mens. Daarom is die huwelik met sy eenwordingsimboliek ‘n gewilde tema in mistieke skrywers en Hooglied ‘n geliefde teks.

Maar hierdie beskrywing is baie wyd. Daar is nie eintlik so iets soos ‘n “belewenis van eenwording met God” in godsdiens nie. Die beskrywing is ‘n baie algemene formulering wat ons wil help om breedweg iets algemeens omtrent mistieke tekste te weet wanneer ons hulle begin lees. Elke mistikus sal op sy of haar manier hierdie intieme verhouding nader uitwerk. Ons het nie so iets soos “eenwording met God” in die algemeen nie. Daar is net werklike mistieke skrywers wat in hulle tyd met die taal wat tot hulle beskikking was gepraat het oor hul geloofsbelewing. Mistiek het dus altyd ‘n spesifieke karakter en konteks. ‘n Mens sal dus altyd moet vra hoe Jode, Boeddhiste, Moslems, Anglikane, Lutherane, Calviniste, wysheidsreraars, rabbi’s, Gereformeerdes, leke, kloosterlinge, woestyn-monnikke en baie ander groepe gepraat het oor hulle mistieke ervaring van God. ‘n Mens kan dit met musiek vergelyk waarin gaan dit om ‘n oktaaf van note waarop klank voortgebring word en mense daardeur geraak word. Maar daardie musiek gaan baie anders klink waar Bono en U2 in ‘n stadion vol Londenaars optree as wanneer Von Karajan die Berlynse Phiharmoniese orkes dirigeer of Worsie Visser en die Klipwerforkes hulle trekklaviere en konsertina’s begin tokkel. So is dit ook met die mistieke skrywers – dit is juis boeiend om te sien hoe praat hulle oor hul ervaring van die Verborgene.

Maar ‘n mens moet ook iets anders dadelik uitlig. Enige iemand kan onder groot illusies ‘n paar note op die klavier druk en dink hy of sy is ‘n ontluikende superster – soos Idols maar te dikwels wys. Maar musiek is baie meer as ‘n vae saamflansing van los klanke. Die mistici het ook nie so ‘n vae gevoel van goddelikheid bepleit nie. Dit was nie vir hulle ‘n kwessie van die menslike of die menslike vermoë wat tot groot, goddelike hoogtes opstyg of ontplooi nie. Hulle het in die taal van hulle tyd nagedink oor die onbeskryflike, onnaspeurlike aanraking van God wat die mens oorval en meegesleur het in ‘n totaal nuwe lewensrigting. En hulle het elkeen op hul eie aan hul unieke ervaring ‘n eie vorm gegee.

Neem byvoorbeeld die Joodse mistiek. Scholem skryf dat die Joodse mistici nooit in soveel woorde gepraat het van die “vereniging met God” nie, al sou ‘n mens iewers kon sê dit is waaroor hulle tekste gaan. Dit is juis ‘n kenmerk van die Joodse mistiek dat God so totaal anders is en bly, ongeag watter verhouding God met die mens aanknoop. In die Joodse mistiek is daar ‘n akute bewussyn van hoe anders God as die mens is. Ons kry iets daarvan by Jesaja 6 wat terugskrik as hy in God se teenwoordigheid is en God se heiligheid beleef. God is so oorweldigend anders dat die mens wat God sien sal sterf, lees ons in die Ou Testament. En tog het hierdie Joodse mistici met hul ontsag vir God, ook vir God op ‘n intieme manier “beleef” en naby God gekom. Hulle het gepraat van ‘n spesiale, persoonlike ervaring wat op ‘n ekstatiese manier vir hulle tot ‘n aanskouing van God gebring het. Hierdie persoonlike belewenis is egter deur verskillende groepe anders beskryf.

Die oudste Joodse mistici wat veral in die tweeede eeu n.C. kom, het hul ervaring van God in beelde uitgedruk wat uit hulle tyd afkomstig was. Hulle het veral Jesaja 6 en Esegiël 1 met hulle troonvisioene gelees. Baie later sou Johannes dit in Openbaring ook neerskryf as hy vertel hoedat hy voor God se troon staan en die verborge dinge van God leer. Al sy visioene is mistieke ervarings waarin hy van God die diepste geheime van die wêreld leer. Die mistici het nou hulle mistieke ervaringe aangebied as reise van die siel deur die hemel tot by die troon van God. Daar het hulle oorstelpt en oorweldig deur God se heerlikheid en majesteit gestaan. En daar is allerhande goddelike geheimenisse oor die hemelse lewe aan hulle meegedeel.

Later, in die Chassidiese mistiek, het een van die mistici dieselfde spesiale ervaring baie minder beeldryk en op ‘n minder konkrete wys uitgebeeld: “Baie mense dien God met hulle menslike verstand. Baie aanskou egter die goddelike ‘Niks.’ Hierdie spesiale ervaring wat gegee word aan mense wat daarvoor waardig geag word, gaan alle menslike verstand te bowe. Maar na hierdie visioen en aanskouing is die mens weer by sy volle verstand, maar dan is die mens vol van die goddelike glans.”

Die mistiek is dus nie sommer net ‘n maklike klompie opmerkings oor ‘n mens se ontmoeting met God nie. Dit gaan om ‘n spesiale ervaring wat moeilik in woorde uitgedruk word. Maar waar dit wel neergeskryf word, is die mistieke tekse se impak duidelik: mense verslind hulle, want in hierdie tekste ontdek ‘n mens die diepste sin van die lewe. Die tekste konfronteer ‘n mens met die Verborge kant van die lewe. En dit is in hierdie verborgenhede, hierdie ontmoeting met God wat ‘n mens volle vrede vind.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive