Thursday, December 31, 2009

God van my lewe – oor God se oneindigheid

Ek is amper klaar gelees aan Karl Rahner se Encounters with Silence. Hy begin die boekie (87 bladsye), geskryf in 1938 as Worte ins Schweigen (ses keer al herdruk en vertaal in Italiaans, Spaans en Engels), met: “Ek sou met U, my God, wou praat, maar oor wat anders kan ek praat as oor U?” Alles wat ‘n mens sê is eintlik iewers ‘n uitspraak oor God. Alles wat bestaan, was van alle ewigheid af in die teenwoordigheid van God. Alle bestaande dinge het hul ware tuiste en mees intieme verklaring in God se gedagte en hart, skryf hy. En tog, voeg hy dan by, wanneer ‘n mens met God oor God praat – met skroom en terughoudendheid – praat ‘n mens ook oor jouself. “Want wat kan ‘n mens oor God sê behalwe dat God 'my' God is, die God van my begin en my einde, God van my vreugde en my nood, God van my lewe."

Daarmee hou Rahner vas aan God se oneindigheid as ‘n sleutel-motief in sy werk. God het ‘n oorweldigende heerlikheid, God het die mens nie nodig nie, God is oneindig hoog en verhewe bo die mens se nederige bestaan. God voeg hy later by, as Vader, Seun en Heilige Gees is die driemaal heilige Verborgene. God is ewiglik verborge in die afgronde van sy Oneindigheid (mooi!) wat in die skepping geen teken laat wat ons op ons eie kan herken nie.

En tog is God “my” God. God is die “God van my lewe.” En dan is daar hierdie helder insig: Die God wat ewiglik verborge is in die afgronde van sy Oneindigheid is nog steeds die God van “my” lewe. Ons sou God as die Verborgene in die verborgenheid van sy innerlike lewe nie ervaar het as God nie ook God van my lewe geword het nie! Ek sal God nie as die heilige, die driemaal heilige Vader, Seun en Heilige Gees kon bely as God nie genadiglik ook die drie-enige God van my lewe geword het nie.

Hiermee onderstreep Rahner hoe verweefd God se verhouding met die mens is. God die Oneindige word deur die mens as Oneindige erken en bely omdat God ook tot ons as eindige mense uitgereik het en deel van ons bestaan geword het.

In hierdie spirituele insig is veel rykdom ingesluit. Ons is bevoorreg en geseënd omdat die Oneindige God na ons uitreik en ons lief het. Ons ervaar dat God se aanraking ‘n hoogs verborge ervaring is. Ons kan dit nie verstaan nie en kan die nie peil nie. God, sê ons geloofservaring, is groter, veel groter, indrukwekkend groter as onsself. Maar tog word hierdie Oneindigheid van God weer vanuit ons eie eindigheid ervaar, bely en verwoord. Ons praat stamelend daaroor. Dit is ‘n moeilike proses om menslike woorde te vind om oor hierdie Verborgenheid te praat en om iets te vertel van die Goddelike aanraking wat ons lewens transformeer. Maar deur na woorde te soek en dit onder woorde te bring, word ons daardeur deurdrenk en dieper daarin geanker. En deur onsself te verloor in hierdie Oneindigheid het ons steeds weer meer deel aan God. Die mistieke verwoording is baie meer as net ‘n intellektuele poging om ons ervaring in woorde uit te druk. Ons belydenis is deel van die mistieke ervaring en bring ‘n mistieke ervaring te weeg.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive