Tuesday, December 08, 2009

Kry 'n mens verskillende soorte spiritualiteit?

In sommige kontekste praat mense oor verskillende “soorte” of tipe spiritualiteite. Dit lyk asof hulle met so ‘n genuanseerde benadering wil ruimte skep vir verskillende “geloofsbelewinge” in ‘n gemeente. Daar is meer “tradisionele” groep, sê hulle, wat graag ‘n tradisionele liturgie en veral ‘n “preek” wil hoor. Dan is daar, dink hulle verder, groepe wat meer bevindelik is. Hulle hou van simbole, musiek, kerse, rustige ambience, gedigte, wierook en ander meer sensories-gerigte elemente en aspekte. Of daar word ook gepraat van die vuriger, moderner, jonger benadering waar ‘n orkes en vrolike, opgewekte musiek ‘n belangrike plek inneem.

Ek wonder soms hoe suksesvol só ‘n benadering op die lang duur gaan wees. Daar is tye in my lewe dat ek byvoorbeeld ‘n baie “aktiewe” spiritualiteit het. In sulke tye is ek sensitief vir die “deurwerking” van my verhouding tot God in die gewone, alledaagse lewe. Dit gaan dan eintlik om die geloofspraktyk (of praxis). Dit is dit tye dat ‘n mens bewus is van die lot van mense op die rand van die samelewling – armes, politieke slagoffers van vreemdelinge-haat, alkoholiste, mishandelde vroue, vigs-wesies of terminaal siek mense.

Ander kere weer kom daar dikwels tye dat ek meer nadenkend en reflekterend (“meditatief”) met my verhouding tot God besig is. Dan is ek weetgierig. Ek wil die pad loop van mistici van die verlede om uit hul ervaring te leer hoe geloof lyk. Dit is die tye dat ek telkens verras is om te sien hoeveel nuwe dinge daar in die Bybel te vind is. Dit is die tye van nadenke, van refleksie, van “meditering” soos dit in geestelike hermeneutiek bekend is. Dit is dan wat ek wil stil wees, weg van die geraas van die geloofspraksis, besig, soos Maria, met die “dinge van God.” Terwyl ek daaroor dink, besef ek hoe dit in die tyd van my oupa, die sendeling-predikant, die tye van die “kategese-prediking” was. Die dominee’s het nie baie daarvan gehou nie. Hulle moes ‘n sekere getal preke lewer en tydens ringsbesoeke is opgecheck of hulle die voorskrifte nagekom het. Tydens sulke preke moet hulle uit die geloofsbelydenisse van die kerk preek, altyd met die bedoeling dat geloofsinhoude tot hul reg in die geestelike lewe van die kerk moet kom. Dit was die tye van meditasie wat ons vandag op nuwe maniere wil behou, deur oor teologiese temas en geloofsinhoude na te dink. Deesdae kom hierdie meditatiewe element ook na vore in die intense belangstelling wat lidmate in Bybelstudie het. Onlangs toe op ‘n Sondagoggend tydens ‘n kerkdiens met die gemeente moes praat oor Bybelse Spiritualiteit het dit my opgeval hoe geïnteresseerd hulle was om moeilike inhoude te leer. Hulle verlang om hul geloof inhoudelik te begryp.

Deesdae merk ek veral op hoedat ek baie meer aangetrokke is tot ‘n kontemplatiewe spiritualiteit waarin ek ‘n behoefte het om in God se teenwoordigheid vrede te vind. Genoeg van nadenke, refleksie, meditasie, herkou, verstaan. Dan word dit tyd vir bid, om dit wat ‘n mens van God se kant gehoor het in jou hart op te neem en met God daaroor te praat. Die oratiewe element kom op ‘n nuwe manier na my. Ek wil soms in stilte vir God sê: hier is ek, Here. My hart praat sonder woorde. My gevoelens is vol. Ek reik uit na U. Stilte is vir my belangrik, maar ek wil ook ervaar dat my geloof in my lewe transformatief werk deurdat dit uitroep en uitreik na God.

Maar ek weet ook nou dat daar ‘n verdere soort spiritualiteit in my lewe begin werk het. Daar is al hoe meer die tye dat ek ingestel is daarop om gereed te wees vir God se werking in my lewe. Die verlange om by God te wees, weet jy in hierdie oomblikke, slaan skielik om wanneer God jou seën met diepe, innerlike seëninge en bewussyn van ‘n goddelike werking in jou lewe. Dit is die tye wat die pottebakkershande aan jou vorm, wanneer jy voel hoe jy vooroordele prysgee, wanneer jy begin insien dat jy sekere dinge moet prysgee, wanneer God jou bring om moeilike keuses te maak. Dit is daardie tye dat jy besef jy is in die Verborgene. Dit is egte kontemplasie – die wees by God.

Hoewel dit 'n nuwe fase in my lewe is waarin ek in onlangse jare ingegroei het, kan ek egter nooit die ander fases van my lewe "afskud" nie. Hulle is 'n vaste deel van my lewe waarsonder ek nie wil wees nie. Trouens spiritualiteit het vir my juis geleer dat 'n mens nie jou verhouding met God moet reduseer nie. Ek is nie regtig net een van hierdie dinge nie. Soms is ek die gevoelsmens wat sin het in die estetiese en die mooie. Ander kere weer is ek die brein-mens wat wil weet en wat vra vra. En soms wil ek alleen wees, stil wees. Dit is fases in my lewe. Dan weer word ek die praktiese mens wat 'n verskil wil maak.

Vir my is my lewe dus gelaai met verskillende dimensies van spirirtualiteit wat bymekaar hoort eerder as wat ek altyd veral vir een aspek daarvan kies. En ek het ‘n vermoede mense is nogal dikwels (indien nie altyd nie) so – dit is nie altyd maklik om mense in ‘n “tipe” in te pas nie. Ek wonder selfs of die indeling van mense in spiritualiteitstipes nie kontra-produktief is nie. Ons stereotipeer mense en plaas hulle in hokkies, ‘n ronde bol in ‘n vierkantige boksie. En daarmee “verdoem” ons hulle tot ‘n afgewaterde geloofservaring. Dikwels is mense ‘n “tipe” omdat hulle nie van ander opsies weet nie of nie blootgestel is aan ander moontlikhede nie. As hulle eers buite hul gemaksone beweeg of ingelig word, kan hulle nogal dinamies verander. Spiritualiteit gaan om prosesmatige transformasie. Juis deur blootgestel te word aan nuwe vorme van geloofsbelewing kan geestelike groei gestimuleer word. Daarom vind ek dit jammer dat “tradisionaliste” so maklik ‘n eie plekkie weg van die “eksperimenteles” gegee word. Hulle het mekaar nodig. Dikwels is die probleem nie dat daar soveel verskillende vorme van spiritualiteit bestaan nie. Dit is egter wel ‘n probleem “hoe” ‘n mens jou geloofservaring beoordeel. Spiritualiteit sal altyd uitgaan van diversiteit – dat mense elkeen op hul eie manier hul geloof beleef. Maar Paulus se beeld van die kop en die oë en die ore en die hart en die voete en die arms verondertel steeds dat almal een liggaam moet wees en in tandem moet saamgroei.

My vermoede is dat ons nie net die “tradisionaliste” in die gemeente moet “vermaan” of beter, begelei tot nuwe dinge of ten minste tot begrip vir die nuwe dinge nie, maar dat ons ook die “reformiste” moet laat besef dat sekere geloofstradisies vir hulle dalk nie meer sin maak nie, maar vir ander weer lewensbelangrik kan wees - miskien selfs vir hulleself ook. Dit is dus ‘n oor en weer bedagsaamheid en sensitiwiteit wat pas by die kerk.

Hoe spreek 'n mens dan die verskillende behoeftes van mense in een gemeente aan? Ek dink dit moet op 'n baie basiese vlak aangespreek word deur mense te leer hoe verrykend verskeie geloofservaringe kan wees. Hiervoor moet 'n mens weer leer dat die ander mens nie 'n bedreiging is nie, maar dat wat ander mense oor God se, hoe vreemd ook al soms, dalk vir 'n mens tot nuwe lewe kan lei. Paulus wat die Christene so tot die dood gejag het, moes uitvind dat sy godsdiens eintlik in sy aartsvyande se geloofservaring sy diepste sin gevind het. En toe hy dit eers ontdek het, het hy 'n bron van genesing geword - op 'n verstommende manier. Die tradisionalis het reformis en radikaal geword. Die wyse Gamaliel se woorde is nie verniet in Handelinge opgeteken nie. Laat dit oor jou pad kom - as dit nie van God is nie, sal dit in elk geval tot niet gaan...

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive