Wednesday, December 16, 2009

Die ritueel van die liefdesreis. Oor ‘n spiritualiteit van kersfees.

Ons ontmoet die kinders op die lughawe. Vier oorsese vlugte het almal gelyk geland en die passasiers stroom in hordes die aankomssaal binne. Terwyl ‘n mens andersins heelwat toeriste sien waarvan baie deur wagtende mans met plakkate ontmoet word, is dit hierdie keer, besef ek, veral families wat aankom. Hulle is meestal ‘n klomp jongerige ma’s en pa’s, meestal met opgeskote kinders, hand aan hand, wat ‘n pa, ma, oupa of ouma om die hals val en opgewonde die blye herontmoeting vier.

Dit is duidelik kerstyd, besef ek. Somer-kersfees. Simbool van ‘n eie plek, eie huis op die ver, afgeleë kontinent. Ons is dus beslis nie die enigste wat die kinders vir die somer-vakansie tuis kry nie. Vanoor die wêreld kom kinders en hul lote “huis toe” om die seisoen van bly wees, van omgee met mekaar te kan geniet. En daarmee word die ou tradisie voortgesit - die jarelange viering van ‘n Somerkersfees saam, by die strand, in die koel blou see met sy woelige wit branders, met die familie, die ooms, tante’s, ouma’, oupa’s, neefs, niggies, broers, susters, die honde en die katte en almal wat iewers in die familie sy of haar eie plekkie het. Dit is die tyd om lomerig in die son te braai, onder sambrele ‘n koeligheid te drink, poeletjies in die strand te graaf. Skemer-aand saam om die vuur vir die baie-praat, die (tweede) opvang van die jaar se nuus, herinnering oor dinge van lank terug te deel, om losserig-wordende bande te verstewig. Dit is die tyd van Ouma se vrugtekoek en karringmelk-beskuit en koffiekoekies. Dit is die tyd van saam-wees.

En, dink ek, terwyl ek die jong terugkerende gesinne met die vonk in hul oë, wyd-oop van afwagtende blydskap, so staan en bekyk, kan ‘n mens by al die vreugde en opwinding oor die tuiskoms, nie die ondertoon van voorlopigheid en selfs treurigheid mis nie. Die vreugde is so deurwinterd, so eg en so deeglik omdat die vae gemis, die knaende verlange en miskiens selfs die ontbering maar altyd daar is en op een of ander manier aan ons bestaan bly peusel. Die uitbundige vreugde hier op die lughawe is omring deur ‘n oop spasie: ingeskryf in hierdie spasie is weke of maande se weg-wees, lang tye se broeiende verlange na die son, die lui dae, na die gedeelde verdriet en vreugde, na ‘n geborge verlede, na ‘n geskiedenis vol ryke ervaringe. En diep in ons harte, weggesteek onder ons vrolikheid, weet ons terwyl ons die kosbare dae proe-proe saam deurbring, ons vul eintlik maar net die spens met kosbaarhede vir die skaarser tye, vorentoe.

Wat my laat dink aan ‘n gedig van Cussons:

Reëls vir ’n laatwintermiddag

Huis, geliefde huis wat stewig staan,
wind wat die roosranke van die mure afslaan,
lewend wind met die skuins-son skyn -
wind, glans, huis, as ek ver is hiervandaan
waai só, blink só, bly stewig staan.

Dit is sulke mooi mense wat vanoggend hier vol energie en ingetoë afwagting die aankomssaal instap. Duidelik mense vir wie “huis” nog saak maak. Hulle het duisende kilometers na die verre land afgelê. En dit is so mooi – hierdie ontmoetinge: die bejaarde pa, bietjie wankelrig van die ouderdom, se innige groet van die seun – die hand wat hom omarm en teen die bors druk en 'n klop op die skouer gee. Die dankbare, liefdevolle blik van die grys moeder-ma as sy plooi-wang teen sagte baba-boud wang van die kleinkind, die woelige kleinkind naby haar hou en wil hou en wil hou. Die groetslag, die stil, net-vir-‘n-gestolde-oomblik se kyk van herkenning, die opsom van mekaar se voorkoms, die opgaan in mekaar deur die ontmoetende blik, die oomblik se diep gedagtes wat loswoel in die omhelsing en in honderde flits-gedagtes ‘n mens oorval as jy, onbewus van die groot klomp toeskouers, jare en jare se saamwees, grootword, verweefde lewens, na die maande-lange skeiding weer bly kan voortsit en vier. Dis die gelaat tot gelaat van Levinas. Die Ander wat die lewe is.







Dit is nie nou met hierdie uitbundigheid en uit-die-vel-uit-wees-tyd die oomblik vir nadink oor die afskeid oor twee weke nie. Ons besweer die ondertoon van die donker en skaarser tye so maklik hier aan die vars begin van die kerstyd, hier op die lughawe met sy blyheid en vrolikheid – die Kaap is so lui, so somers, so vol son, net soos ons harte en ons saamwees. Alles is daar om ons blydskap volkome te maak.

Saam stap ons die lughawe-gebou uit, die somerdag binne, vol praat, vol mooi-goed. Dankbaar.

Hoe sal ons ooit kan peil wat ons herontmoetinge, ons kosbare oomblikke van kort-saamwees in ons lewens inbrand?

Sê ek vir klein sussie wat kinderlik-opgewonde skoon uit hul vel uit saam met haar boetie-broer (wat nie kan ophou om hom funny te hou nie) vir almal loop en soene en drukke uitdeel: “Ek is so bly om jou weer te sien – ek het jou so gemis. Kom gee vir my weer nog ‘n lekker ou drukkie.” Woorde wat ek dink by die een oor ingaan en by die ander een uit. En ek gee haar ‘n drukkie. Wat hoor so ‘n tweejarige kind dan deur hierdie woorde heen? Wat weet sy van om iemand te “mis”? Hoe verstaan sy dit?

En tog, sy weet. Want instemmend, vrygewig, patroniserend teenoor die verlange van die oupa-woorde, deel sy mildelik haar baba-drukkies uit.

Later sê sy vir haar ma sy is bly om by oupa te kuier: “Oupa is my vriend – hy het my gemis.”

Kyk net dan – hierdie hermeneutiek. Sy het my woorde gehoor, dit omraam deur haar rype kinder-insig en daaraan diepe betekenis geheg: as iemand jou mis beteken dit hy of sy is lief vir jou. Dit is ‘n vriendskap van liefde. Ek dink onwillekeurig aan Johannes-Evangelie met sy deurlopende vriendskapsmotief waarmee Jesus die innige verhouding tussen hom en sy dissipels uitgedruk het. “Ek noem julle my vriende....” Goddelike band van vriendskap (Johannes 15:13-15).









Hoe kyk óns tog patroniserend en daarom geringskattend na die kleinstes en geringstes onder ons. Hulle wat skaars nog kan praat, wat nog nie van beter weet nie, wie se wankelende voetjies nog skaars op die lewenspad geloop het, hulle, dink ons, moet nog leer verstaan. En hoe sê ons baie keer dinge sonder om self te besef hoeveel skuil daar in ons woorde, watter dieptestrukture ons daarmee aanraak.

Maar hulle, die Ander, die geringes, die weerloses, weet te goed. En hulle sal onthou, al is dit later miskien net vaagweg. Die oomblikke sal dalk selfs verbygaan, maar die liefde, die vriendskap sal bly.

Om op die vliegtuig te klim, vol opwinding oor die huis toe gaan, is meer as net die vervulling van ‘n verlange na die bekende, na die ou-ou tye, die plekke van goeie herinneringe. Dit is ook ‘n ritueel waarin ons weer die liefde herontdek, ervaar en vier. Dit is iewers soos ‘n sakrament – ‘n handeling wat heiligend werk, wat ons herinneringe, ons lewens vul en sin gee.

En, kom die dag dat ons nie meer huis toe sal gaan nie, wanneer ons nie weer sal afklim en bly-bly in die aankomsaal in die hande van ons geliefdes omarm sal word nie, sal die ritueel van baie jare ons te hulp snel, ons gedagtes vul, ons ryk laat voel. Want in ons ritueel vier ons die liefde wat nooit ophou nie en wat ons sal bly omring – nou al, maar ook vir altyd. Die liefde vergaan nimmermeer nie... Die diepste troos is dat ons eendag ten volle tot hierdie liefde getransformeer sal wees en direk in hierdie liefde sal woon en bly – sonder skadu-kante, sonder donker oomblikke, sonder die vaal tye van verlange en gemis. Ons is op pad na die huis van liefde, die huis met baie wonings. Selfs al brom die donker van afskeid, tydelikheid en verganklikheid om ons, kan die onaf valsheid daarvan die helder klanke van hierdie dieper wete nie verdoof nie. Ons is geseënd, ons leef in God se liefde.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive