Tuesday, December 15, 2009

God maak die nuwe en maak nuut. Oor Spiritualiteit as God se transformerende verhouding met die mens.

Ons sê dikwels in ons gesprekke waar ons oor iemand praat, dat ons “van” die persoon weet, maar hom of haar nie regtig “ken” nie. Daarmee onderstreep ons ‘n belangrike verskil – ons kan allerhande feite omtrent iemand weet, maar dit beteken nog glad nie dat ons ‘n verhouding met daardie persoon het nie.

Terselfdertyd weet ons ook dat ons iemand in ‘n ander lig sien as ons ‘n bepaalde verhouding met die persoon het. Ons praat anders oor iemand wat ons ken as oor iemand wat familie is, of ‘n vriend, ‘n kollega, ‘n spanmaat of kamermaat.

In die vorige blog het geloof as ‘n verhouding van vertroue in God eerder as ‘n kennis van sekere waarhede of feite na vore gekom. Ons het ook gesien dat ons die Bybel as gelowiges lees. Ons wil nie soseer ons kennis van God vermeerder nie, maar baie meer nog ons verhouding met God verryk.

Spiritualiteit beklemtoon dat God en mens in ‘n verhouding met mekaar leef. ‘n Mens kan alles van God weet sonder om in ‘n verhouding met God te leef. Wanneer ons ‘n verhouding met iemand het, doen daardie verhouding iets aan ons. In Spiritualiteit word hierdie aspek uitgedruk deur die woord “transformasie.”

Ons beskryf spiritualiteit as die verhouding van God wat die mens omvorm of transformeer. Ons kan onmiddellik aan ten minste drie verskillende “transformasies” dink wat ons ontdek as ons die Bybel lees:

1. Op die mees basiese vlak weet ons dat ons geloofsverhouding met God beteken dat ons ons misvormde lewe agter ons laat – God “hervorm” ons en maak ons nuut. Ons word deur God “herskep.” Die mooiste teksvers wat dit uitdruk is 2 Kor.5:17 waar gelowiges beskryf word as ‘n nuwe skepping waarvoor die ou dinge verbygegaan het. Ons verbind hierdie herskepping met lewe en werk van Christus en met ons geloof in Christus.

2. Maar as ons van “herskepping” as ons transformasie tot die nuwe lewe praat, dink ons onmiddellik aan die begin van alle dinge: toe ons geskape is, het God ons uit niks geskep om in God se paradys te woon. Waaijman verwys na Psalm 139:13-16 as ‘n voorbeeld van ‘n baie ou lied wat beskryf hoe God ons bedink het, tot stand gebring het en bestem het tot diens van God. Hy noem dit “transformasie in skepping.” Van die begin af, dus, reeds met die skepping het God met ons in ons moederskoot ‘n verhouding aangeknoop en ons getransformeer tot skepping. Dit is nie net die skepping van die wêreld en die mensdom nie, maar ook ons indivduele geboorte. Ons verhouding met God val nie sommer uit die lug nie. Vanaf die begin, selfs voordat ons dit besef het, knoop God met ons ‘n verhouding aan.

3. Ons weet ook dat die Bybel praat van die groot, finale transformasie wat ons na hierdie lewe sal beleef. Dit, in die woorde van Waaijman, is ‘n transformasie in heerlikheid. Om ‘n verhouding met God te hê beteken dat God ons saamneem op pad na die groot einde, wanneer die voorlopigheid van ons bestaan tot niet sal gaan en ons in heerlikheid by God sal wees. ‘n Verhouding met God gaan nie tot niet nie en bly end-uit voortbestaan.

Hierdie is maar enkele van die groot gedagtes oor die verhouding van God met die mens wat alles aanraak en nuut maak. Elkeen van hierdie drie aspekte kan ‘n mens in meer detail ontleed om verdere aspekte van transformasie uit te wys. God se verhouding met die mensdom werk op baie vlakke transformatief. Dit is ‘n ryk verhouding wat baie fasette van ons lewe raak. Meer volg.

Spiritualiteit praat nie bloot net oor kennis van God of oor Goddelike waarhede nie. Spiritualiteit gaan oor 'n verhouding wat 'n mens met God het en wat jou hele lewe gedurigdeur en op baie vlakke ingrypend bepaal.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive