Thursday, December 17, 2009

Die vreugde van verandering: Konformiteit aan Christus.

Een van die groot motiewe in Spiritualiteit is "transformasie." Wanneer God ‘n mens aanraak, kan jy nooit dieselfde bly nie. Jou lewe word omgekeer en alles verander voortdurend. Spiritualiteit is daarom 'n voortgaande proses waarin 'n mens gedurig weer dieper en wyer verander word.

In die vorige blog het ons gesien dat transformasie beteken dat ‘n mens deur God getransformeer word wanneer 'n mens in die skepping uit niks gevorm word. Maar transformasie is ook dat ‘n mens uit jou misvormdheid, jou teensin aan 'n verhouding met God hervorm word in Christus. Dan word 'n mens se hele bestaan in beslag geneem na 'n diepe verlange om nader en ander aan God te wees en te leef. Maar transformasie kan nog mooier wees - ons sal eendag uiteindelik getransformeer word tot heerlikheid.

Maar dit is die “hervorming” of transformasie in die hede wat my op ‘n besondere manier interesseer. Want “hervorming” of “transformasie” kan ‘n baie oop woord wees wat baie dinge vir baie mense beteken, of wat net nog ‘n modewoord is vir een of ander nuwe gier. Dit kan byvoorbeeld 'n woord wees waarmee ons allerhande vroom gevoelens beskryf wat ons goed laat voel, maar wat nie regtig veel verskil aan ons lewens maak nie.

Transformasie beteken dat daar iets gebeur wat 'n radikale verskil aan ons lewens maak. En in Christelike Spiritualiteit word hierdie radikale "verskil" op baie manier vir ons uitgespel.

Om te transformeer kan iets heel ryks en verrykend in 'n mens se lewe tot stand bring. Dit kan beteken dat ons goddelike vreugde en geluk vind.

Op ‘n heel eenvoudige vlak beteken ons hervorming dat ons ‘n nuwe “vorm” ontvang wanneer ons in geloof lewe. Ons word nou na die beeld of vorm van God herskep – soos wat God dit in die skepping gedoen en bedoel het. Op die manier ontstaan daar weer, na die verbreking van ons intieme nabyheid aan God, ‘n intieme eenheid tussen God en ons. Op ‘n mistieke manier word ons so verbind aan God dat ons al hoe meer lyk na God. Ons word geheilig om so heilig soos God te wees (wees heilig want Ek is heilig...; 1 Pet.1:16; Lev.11:44).

Maar, en dit is nou die beslissende punt in Christelike spiritualiteit, ons word getransformeer op 'n goddelike manier deur gelykvormig aan Christus te word. Daarmee het ons by ‘n sleutelmotief in Christelike spiritualiteit uitgekom wat ons ken as “Konformiteit aan Christus” of Gelykvormigheid aan Christus.

Ons model vir transformasie is Christus. Wat ons doen, dink of begeer moet lyk op wat Christus gedoen, gedink en begeer het. Ons kry hierdie fokus byvoorbeeld in Thomas a Kempis se Navolging van Christus en in alle mistieke tekste wat ‘n Christologiese karakter het.

Paulus skryf heel eenvoudig hieroor in Galasiërs 4:19 wanneer hy opmerk dat Christus in ons gestalte (vorm) kry. Seker die mooiste teksgedeelte wat hierdie nuutheid van die geloof in Christus uitwerk is 2 Korintiërs 5:17-21. Iemand wat glo, is in Christus ‘n nuwe mens. Vir hom of haar het die ou dinge verbygegaan – hy of sy het ‘n nuwe bestaansvorm ontvang en deur heiligmaking moet ‘n mens in hierdie nuwe bestaanswyse verder ingroei.

Ons weet - ons weet te goed, watter vreugde dit is om die ou, verknegtende en sieldodende dinge af te skud. Ons weet wat dit beteken om nuwe dinge te kan beleef. Dit bring opwinding, afwagting, onsekerheid, maar tog vreugde.

Hoe word ons dus verander? Dit is nie ‘n oppervlakkigheid wat te doen het met vae goeie gevoelens nie. Ons hele lewe moet nuut word deurdat ons die lewe van Christus toeëien en ons deel maak. Ons moet dink soos Jesus, doen soos Jesus en begeer soos Jesus. Die model wat God in Hom vir ons gegee het, moet ons najaag en in ons eie lewe implementeer.

Hoe radikaal dit is, leer ons byvoorbeeld uit die tuin van Getsemane waar Jesus sy eie wil opgee en die wil van God soek. Die beker wat hy drink, is ‘n bitter beker. Maar dit is wat God wil wat uiteindelik vir Hom alles die moeite werd gemaak het.

Om te transformeer beteken dus dat ons omvorm word sodat ons lewe konform aan Christus. Uiteindelik beteken ons geloof dat Christus in ons lewe gestalte kry. Dit is ‘n wonderlik aantreklike idee – dat God vir ons ‘n “model” geskep het. God hou vir ons voor wat vir God belangrik is en wat ons lewe mooi maak. Ons hoef nie daaroor te twyfel nie. En die Evangeliste en Bybelskrywers onderstreep dit herhaaldelik: as ons sin wil vind, as ons lewe enigsins betekenis het, moet dit in Christus gevind word. Egte vreugde, diepe vervulling, volmaakte liefde kry ons wanneer ons die dinge van Christus bedink, wanneer ons lewe gevorm word aan die hand van die lewe van Christus.

Daarom is, byvoorbeeld, vrede so ‘n belangrike begrip in Spiritualiteit en in ons geloof. In die kerstyd, die tyd van vrede, hoor ons hoe die engele die verdesboodskap met Jesus se lewe verbind. Van sy geboorte af is Hy die vredeskind, die prins van vrede. Dit is ons model: om die vrede wat Hy gebring het, ons eie te maak. En die vrede is nie buite ons werk, gesin, vermaak of besigheid te vind nie.

Wanneer ons glo, dring die vrede van Christus oral in – ook in ons werk, gesin, vermaak of besigheid. Kerstyd, die tyd van God se vredeslig vir die wêreld herinner ons aan wat konformiteit aan Christus verder beteken. Om Christus se gestalte in ‘n mens se lewe te ontvang, beteken om ‘n lewe van innerlike en uiterlike vrede te lei. Dit beteken dat ons ons veroordelende kritiek, ons woede, ons onvergewensgesindheid, ons bakleierigheid, ons onvrede maar moet los. Ons moet die ou dinge maar agterlaat en dit ontgroei - hoe moeilik dit soms mag lyk. Ons weet dit eintlik, omdat ons hart vir ons diep in ons binneste vertel dat ons vry sal wees as ons eerder die nuwe dinge ons eie maak. Soos Christus alles wat kosbaar was in sy hemelse heerlikheid en vrede prysgegee het, so sal hulle in wie Hy gestalte vind, ook bereid wees om te laat gaan, om hul eie belang prys te gee, sodat ons kan liefhê en God se vrede kan uitleef.

Dit is nogal ‘n ding om konform aan Christus te leef. Dit is wel ‘n Kruispad, 'n prysgawe van die self, maar dit is die enigste pad na volmaakte vrede. Die prys wat ons behaal maak dit alles die moeite werd.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive