Seuntjie, vanjaar in sy eerste skooljaar in sy skool in Dallas, Texas se wêreld raak al groter. Nou die aand moet hy voor slaaptyd eers sy gebedjie doen. Sy gebed trek los met ‘n klomp, aaneengerygde dankies. Hy is duidelik ingenome met die kersvakansie in die sonnige strandshuis en die heerlike dae van kuier met al die familie, nefies en niggies. Een na die ander en sonder enige voorsê tel hy sy seëninge en bring dit in kinderlike spontaneïteit voor die Vadertroon.
Maar aan die einde van die gebed slaan hy skielik oor in Engels met ‘n kort, kragtige sinnetjie: “And make the President smarter” – vra hy die Here. Ek val amper van my stoel langs die bed af en vra: “En wie het jou gesê om só te bid” terwyl ek vermoed dat hy dit dalk by die skool leer. Maar hulle bid nie in die skool nie, hoor ek. En hy antwoord op my vraag: “Niemand nie.” Ek vra dus verder: “En wie is die President?” Waarop hy antwoord: “Barack Obama.”
Nou daar het jy dit. Ses jaar oud en tog bewus van waar oral en deur wie almal besluite geneem word. Die president kort wysheid, weet hy. En hierdie wysheid moet van bo afgebid word. Hy het skaars begin tande wissel, sy lewe word gedryf deur ‘n sosiale drif om by sy maats te wees en so lank as moontlik te speel, hy vergaap hom aan ‘n DVD, hy verslind Backugon boeke. Maar in hierdie kinderwêreld breek iets deur van ‘n ander wêreld, is daar ‘n bewussyn van dieper realiteite, begin daar ‘n bewussyn van mense buite die bekende familie- en vriendekring wat in sy lewe saampraat.
Al ‘n jaar gelede het hy soortgelyke sake ook al begin deurkyk: hy weet hy is aan pa en ma gehoorsaamheid verskuldig. Hulle is gesagsfigure in sy lewe. Die verste wat hy kan gaan om beslissinge wat hy nie van hou nie te bevraagteken is om by tye ‘n groot fit te gooi. Uiteindelik is die hoër woord wet en sal hy maar moet doen wat gedoen moet word. Maar toe reeds het hy op ‘n dag laat blyk dat hy van die groter wêreld kennis geneem het. Hy vertel dat sy oupa aan pa se kant sy pa se baas is en sy oupa aan sy ma se kant sy ma se baas is. Hulle kan, vertel hy, vir pa en ma voorsê wat om te doen. En netjies het hy verder vertel dat sy ma se pa niks kan voorsê aan sy pa nie en ook kan sy pa se pa aan sy ma nie. Op die manier het hy reeds die groter sisteem van familie-verhoudinge uit ey eie bedink sonder dat iets aan hom gesê is en sonder dat daar in sy huis ooit ‘n patriargale struktuur uitgeleef word.
Ek dink dikwels geboeid na oor sy gebed dat die Here die president wyser moet maak. Dit is ‘n wonderlike gebed, wat beteken dat ‘n mens in die hoogste amp gedurigdeur onthou word, ondersteun word, maar ook herinner word aan die groot verantwoordelikheid en gevolge van sy elke woord en besluit. Hoe sou die president van Amerika anders reageer as verwonderd dat ‘n sesjarige seuntjie in Texas vir wysheid vir hom bid? Vir gelowiges is so ‘n gebed maar die begin – want die vraag is nou: wat presies sal die tekens weet dat die president “wyser” word: dat hy alle oorlog, ook in Afghanistan, afsweer? Dat hy stamsel-navorsing toelaat (teenoor sy voorganger se verbod)? Wat ‘n groot verantwoordelikheid om God se wil vir ons lewe en ons planeet te leer ken . Dit is die “onderskeiding” van die geeste wat in die Bybel ter sprake kom. Hierdie onderskeiding of “discernement” op sy Engels, is ‘n sleutelmoment in spiritualiteit. Hoe leer ken ek God se wil vir my lewe? Miskien is dit baie gevaarlik om God se wil vir ‘n mens se lewe te soek – God kan dalk verstommende dinge van die magtiges vra, soos menige koning in die Ou Testament en die Nuwe Testament uitgevind het.
Dit is nie maklik om goddelike wysheid te soek nie, veral nie omdat Christene onder mekaar so heftig verskil daaroor en mekaar hewig sal beveg wanneer hulle oor sake soos aborsie, huwelikke, saamwoon, vroue-regte en baie ander omstrede dinge begin debateer. Hoe sou die president dan nou “wyslik” tussen hierdie strydende partye moet kies? Dikwels lyk dit uit ons gevegte of ons nie dieselfde Bybel lees nie. En dikwels lyk dit of ons alle perspektief verloor het en haat eerder as liefde in ons verhouding met gesagsdraer soek.
Wat my laat besef: mag God nie net die president wyser maak nie, maar vir ons ook om in wysheid sy besluite te respekteer, met hom en alle magsdraers te debateer en uiteindelik, of ons saamstem of nie, te probeer saamwerk om ‘n krag van vernuwing in die wêreld en politiek te wees.
Dit is tog aangrypend dat die kleintjie in sy slaaptydgebedjie spontaan by God wysheid vir die president soek. Waar is die dae in die ou apartheidstyd dat jy nie op ‘n Sondag in die kerk kon kom sonder dat die predikant passievol vir die staatspresident, sy kabinet en die parlement gebid het nie. Hoor ons hierdie gebede nog in ons kerke? Sal ons weer by die kleines moet leer hoe om te bid? As ons nie eers vir mekaar kan bid nie, hoe kan ons dan nog in een land saamwoon.
Seuntjie se gebed vir die president is die sleutel tot ‘n Christelike getuienislewering – maar iewers is dit net ‘n beginpunt. In ons spiritualiteit, wat nie wêreldontvlugtend mag wees nie, moet ons gedurigdeur in gedagte hou dat ons gebede vir die magshebbers met verdere besinning, gebede, debat en ondersteuning veel verder sal moet voer. Ons is dit aan die kleintjies, die toekomstige geslag, verskuldig, maar veral ook aan die grotes onder grotes wat dikwels met vrees groot besluite moet neem wat ingrypende gevolge vir ander en vir die hele wêreld kan hê. Die wete dat die geloofsgemeenskap vir hulle bly bid, kan hulle versigtiger maak in hul besluitneming, maar kan hulle ook bewus maak van die groot uitdaging om die belange van God se skepping in ag te neem en nie net korttermyn politieke voordele nie.
Seuntjie se gebed het my beskaam – omdat ek besef het hoe klein my eie wêreld dikwels geword het deurdat ek nalaat om vir hulle in regeer- en magsposisies te bid. Ek lees dus weer Romeine 13. 1 Timoteus 2:1-2 en ander gedeeltes waarin gelowiges herinner word aan hul verantwoordelikheid teenoor hul politieke konteks en regeerders.
Friday, January 01, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
Blog Archive
-
▼
2010
(356)
-
▼
January
(32)
- Vroomheid kan gevaarlik wees. Oor dissipelskap.
- Om uit te hou, vas te byt en nie tou op te gooi ni...
- Om bedroefd die rug op vrede te keer. Oor die sond...
- Die sewe doodsondes. Die geestelike reis is kompleks.
- Is dit alles die moeite werd? Oor geestelike traag...
- Op die vlerke van die duif. Oor Liefdesverrukking
- "En niks gebeur sonder dat dit God se wil is nie."...
- Om jou roots te ontdek. Oor die Spiritualiteit van...
- Weer 'n keer oor boelies en bullebakke.
- Inoefening in die geestelike reis. Oor die belangr...
- Die nuwe millennium as die tyd van spiritualiteit?...
- Die lieg is waar. Verkoop Clint Eastwood vir ons k...
- Mense sukkel om "spiritualiteit" uit te spreek. Oo...
- Invictus
- Oewerlose lyding en die afwesigheid van God
- Wie gaan ooit dieselfde na ‘n wit skoenlapper kyk?
- Die kerk raak groen! Oor eko-spiritualiteit en ker...
- Die Bybel, teologie en spiritualiteit
- Ons het ‘n groot behoefte aan mense wat heilig lew...
- Uncle Tom's Cabin en die Kwakers - oor die kontemp...
- Fliekpiek: Avatar
- Ons kan God op baie maniere dien, maar ons kan nie...
- 'n Bietjie doodgaan.
- Ruusbroec en die gevare van die mistiek
- Oor 'n Spiritualiteit van Toewyding.
- God, so anders en ver, maar so naby.
- Gebed en God se teenwoordigheid
- Wanneer ons bid.... Gebed as ‘n openbaring van Go...
- Hoe lees 'n mens die Bybel? oor die teenwoordighei...
- Uitgestuur buite my vertroude vriendekring. Oor Go...
- Is die mistiek gevaarlik?
- Politek en Spiritualiteit
-
▼
January
(32)
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.