Wednesday, January 27, 2010

Is dit alles die moeite werd? Oor geestelike traagheid.

Die mistikus, Evagrius van Pontus het in die laat vierde eeu die volgende boeiende verhaal in sy Praktikos 12 neergeskryf:

Die duiwel van acedia, wat ook die middag duiwel (sien Ps.90:6) genoem word, is die duiwel wat mense die meeste verdruk. Hy slaan toe teen 10 uur in die oggend en hou dan die monnik se siel tot ongeveer 14h00 die middag gevange. Hy laat dit eerstens lyk of die son baie stadig of glad nie beweeg nie sodat dit vir die monnik voel of die dag 50 uur lank is.

Dan dwing hy die monnik om by sy venster te bly uitstaar. Hy laat naderhand die monnik by sy sel uithardloop om die son dop te hou wanneer dit drie uur sal wees en dit laat hom al in die rondte staar om te sien of een van die broeders nie dalk vir hom kom kuier het nie. Dan laat dit hom sy plek, sy lewensstyl en sy handewerk verpes. Dit laat hom voel asof daar geen liefde onder die broeders meer oor is nie. Niemand daag by hom op om hom te ondersteun nie.

As iemand hom onlangs beledig het, voeg die duiwel sy deeltjie by om sy weersin sterker te maak. Dit laat hom verlang na ander plekke waar dit makliker sal wees om dinge te kry wat hy nodig het en waar hy ‘n makliker, meer produktiewe werk kan hĂȘ. En dan, voeg die duiwel vroom by, om die Here te dien het ‘n mens nie ‘n spesifieke plek nodig nie. God kan orals aanbid word (Joh.4:21-24).

Dan kom iets verders by wanneer hy die monnik aan sy familie en sy vorige lewe laat dink. Die duiwel wys vir hom daarop dat hy nog ‘n lang lewe voor hom het en maak hom bewus van hoe swaar ‘n lewe in afsondering is. Op die manier gebruik die duiwel elke moontlike tegniek om die man sover te kry om sy sel op te gee en die reis te laat staan.

Die storie van Evagrius is ‘n verhaal oor geestelke traaghed of luiheid, een van die sewe doodsondes. In Latyns heet dit acedia. Dit is boeiend dat Evagrius hierdie traagheid beskryf as een van die gevare wat godsdienstige mense die meeste oorkom en pootjie in hul geestelike reis.

‘n Mens sou dit ook geestelike lamheid kan noem. Dit is die innerlike stryd wat by ‘n mens opkom wanneer jy begin wonder oor jou geestelike reis. Is dit regtig die moeite werd? Hoeveel moeite is dit dan werd? Help die Bybel jou nie met “meer verstandige” en makliker maniere om God te volg nie (Joh.4!). Watter verskonings kan ek uitdink om nie die prys te betaal nie?

Hieroor wil ek verder dink. In die Bybel is hierdie onderwerp belangrik - dink maar aan die gelykenis van die Saaier en sy deel oor die saad wat so goed opkom en dan maar net verwelk. Of dink aan Demas, daardie skadu-mens oor wie ‘n mens net een sinnetjie in die Bybel het maar wat waarskynlik een van die bekendste simbole vir lamheid in ons geestelike reis geword het. Of dink aan die ryk jongman vir wie Jesus so intens liefgekry het.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive