Sunday, January 10, 2010

'n Bietjie doodgaan.

Ons het mekaar op die muurbalbaan ontmoet, seker vyftien jaar gelede. Hy was aan die oefen op die baan. Ek het op die galery gestaan en gevra of hy nie lus is vir 'n game saam met my nie. Ek het altyd na nuwe muurbal-maats gesoek, want by ‘n universiteit kom en gaan mense gedurig – jy is net ingespeel saam met iemand, dan is die jare verby en gaan hulle die lewe in. Dan moet jy van vooraf begin soek na mense wat nes jy verslaaf is aan die spel en sommer sal inval of sommer net kan speel totdat jy wil omval van moegheid.

En hy was dadelik gewillige. Hy het my lekker pak gegee. En was ek in my skik toe hy my later bel en vra of ons weer kan speel. Dis min dat jy kans vir sulke goeie games kry.

Van al my muurbalmaats was hy duidelik die uitblinker. Hy was die universiteit se nommer een pluimbalspeler en, tipies Engels, ‘n sportman by uitstek in vele sporte. Terselfdertyd was hy ook ‘n ywerige student, wat op sy laid-back manier ‘n nagraadse kursus in geografie gedoen het en ‘n opleiding in ‘n skaars spesialiteitsrigting gehad het. Ons het veral soos ‘n tweeling op die muurbalbaan dieselfde passie gedeel, maar ons kon ook oor baie ander dinge saampraat en saamterg.

Hy het my gereeld gebel vir ‘n game of ons het sommer by die klaarmaak van ‘n game al vir die volgende een beplan. En dan het ons in die hitte van die warm somerdae en in die koue van die wintertye bitter gevegte op die baan aangeknoop tot ons groot genot en geluk. Daar was gedurig intense betrokkenheid, maar altyd met humor. Hy die soutie en ek die boerseun, uit totaal verskillende agtergronde, maar met ‘n gedeelde menslikheid wat gebore is uit ons liefde vir die sport wat ons oor soveel jare geniet het. Na die tyd, as ons klaar was met ‘n game, was daar steeds die oor en weer beskuldigings dat ons mekaar be-“cheat” het.

Daar was nie ‘n game wat ons gespeel het dat ek nie dankbaar was vir die voorreg om teen so iemand te kon speel nie. Ek kan nie onthou dat ons een enkele dag vir mekaar kwaad was nie. Daarvoor was daar te veel humor en te veel wedersydse respek.

En by tye het ek darem ook ‘n wedstryd gewen – iets waarop ek nogal trots was en wat ek dan diep ingevryf het.

En na die tyd, as ons klaar gespeel het, rooi en flou geswoeg in die lui somerdae en verfris deur die harde spel, het ons gaan afkoel in die swembad, wat reg langs die bane geleë was. En dan het ons ‘n draai by my huis gaan maak om saam met die gesin iets te eets. Dit was ‘n ritueel van gedeelde lewensvreugde. In die harde fisiekheid van ons sport het ‘n geestelike band gegroei wat ons lewens ryk gemaak het.

En so het hy langsamerhand meer as ‘n muurbalmaat geword. Hy het ‘n vriend geword, van my en van ons hele gesin. Hy het al die kinders geken, al hulle maats en al hulle kêrels. En saam met die familie kon hy heerlik been-trek oor al hulle avonture. En elke keer, as ons bymekaar gekom het, het hy van vooraf ingevra oor almal en alles wat hy saam met ons kon ervaar.

Hy was ‘n volledige soutie. Sy Afrikaans was gebroke, maar hy het aangedring om dit met ons te praat. En saam met ons gelag as ‘n geradbraakte sin groot hilariteit onder die familie veroorsaak het.

Ek, die Afrikaanse N.G. dominee, het hom getrou toe hy en sy meisie, uit ‘n skatryk Engelse familie uit die noorde, voor die kansel gestaan het. Tydens die preek het almal kliphard gelag toe ek vir hom tergend vermaan het dat hy moet onthou dat, anders as op die squash-baan hy moet weet hy nie altyd in hulle huwelik reg sal wees nie.

En so is hy en sy vrou, met wie ons ook groot maats was, uiteindelik ook weg. Noorde toe. En op die manier het my lekkerste jare van muurbal speel tot ‘n einde gekom.

Ons het mekaar nog ‘n paar keer daarna gesien. Elke keer weer het ons ons vriendskap voortgesit, ongesteurd en met groter pret as ooit tevore. Daar was ‘n band van vriendskap wat die Engelse soutie met sy Afrikaanse squash-vriend bly onderhou het. Hy het ‘n paar lewensterugslae gehad wat hy, tipies stoïsyns, getrotseer het. Ons kon nog elke keer met so ‘n besoek ‘n pot of wat muurbal speel. Maar sy muurbal het al hoe beter geword soos hy in die lekker kompetisie in sy omgewing kon deelneem. Hy het naderhand provinsiaal gespeel en nou onlangs vertel hy dat hy een van die huidige wêreldkampioene in die meesters-afdeling in ‘n interprovinsiale byeenkoms pak gegee het.

Toe bel hy my verlede week: hulle gaan emigreer en hy wil graag kom groet. Ons het saamgeëet vanaand en land en sand gesels asof ons mekaar gister gesien het.

Ek kom agter die besoek is vir hulle een van ‘n hele reeks gebeure waarmee hulle ‘n lewensfase afsluit. Hulle, vertel hulle vanaand, het nie eers meer ‘n “sleutel” oor nie. Hulle het hulle huis verkoop en ontruim, hulle motors afgegee en alles afgesluit. Daar is nou niks meer wat hulle materieel aan die land verbind nie. Hulle is letterlik vry om te gaan. Oormôre klim hulle op die vliegtuig en dan is hulle weg, halfpad om die aarde, om iewers ‘n nuwe tuiste te skep. Ek besef hulle neem afskeid, hulle maak bande los wat vir hulle belangrik was. Hulle ervaar die weggaan nou van naby.

Hy is stillerig. Die ou tergery is vanaand minder. Ons kan immers alles afgee, al ons eiendom opoffer, ons besittings verkoop en weggee, reg om te vertrek. Maar ons kan nie die geestelike dinge agterlaat nie. Hulle bind ons, swaar bind hulle ons en ons pak hulle in waar ons ook al gaan. En soos ‘n magneet trek hulle ons terug, waar ons ook al reis. Herinneringe, plekke, mense, gebeure, familie, eetgewoontes en eet-plekke, baie dinge wat ons beleef het hang swaar en dig in die lug en kom sit ons hart vol. Verstikkend dig. Want ons weet al hierdie dinge is die vlegwerk wat ons lewe bind en wat ons gedagtes vul en ons harte vol maak.

Toe ons by die motor kom, groet ek sy vrou en vir hom. Ons skud hand. Maar hy trek my nader en gee my ‘n beer-hug.

Toe hy wegry, kyk hy weg.

En ek verstaan. Afskeid neem is elke keer weer ‘n bietjie doodgaan.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive